Gratis aanlyn konsert om Die Boer-teater te red

Die Boer-teater in Durbanville het vroeër vandeesmaand aangekondig dat hy sy deure gaan sluit omdat die teater nie meer die groot las weens die Covid-19-regulasies kan dra nie. Nou sit mense koppe bymekaar vir ʼn gratis aanlyn konsert om dié teater te red.

Sedert die eienaars van Die Boer, Jurgen Human en Margit Meyer-Rödenbeck, hierdie bekende tuiste vir die kunste geskep het, is daar die afgelope sowat 16 jaar reeds ongeveer 4 000 vertonings deur die land se topkunstenaars aangebied.

Meyer-Rödenbeck sê daar het talle boodskappe van ongeloof, skok en hartseer ingestroom vandat hulle die aankondiging gemaak het dat Die Boer se deure vir eers gesluit word.

Dit het die aanbieders van die aanlyn geldinsamelingsplatform WOES, Jaco van Dyk en Hamilton Wessels, laat besluit om ʼn Red die Boer-veldtog te begin om die teater se deure te probeer oophou.

WOES is geskep om geld in te samel vir skole, instansies en kunstenaars en het in 2020 meer as R4,5 miljoen help insamel deur middel van aanlyn veilings, lootjies en geldskenkings.

Die Red die Boer-konserte gaan aanlyn plaasvind en gratis wees vir enigiemand om te kyk. Bekendes soos Elandré, Elvis Blue, Leah, Anna Davel, Mathys Roets en Dewald Wasserfall wat al voorheen by Die Boer opgetree het, gaan almal by hierdie konsert optree.

Die Boer-teater beoog om geld in te samel deur middel van geldskenkings en lootjieverkope om pryse te wen. Daar gaan ook vier spesiale items opgeveil word.

Die Red die Boer-konserte sal regstreeks op 29 Januarie en 5 Februarie om 18:30 uitgesaai word. Elke vertoning sal drie uur lank duur.

Volg hierdie skakel om lootjies te koop of ʼn geldbydrae te maak, en kyk die konsert hier regstreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.