Gretige feesgangers wil nóú al Aardklop hou

Aardklop (Foto: Facebook)

Gretige feesgangers is vanjaar só opgewonde oor die Aardklop Nasionale Kunstefees wat op Potchefstroom gehou word dat enkele sommer reeds ʼn dag voor die opening van die feesterrein wil weet wanneer die “fees na hartelus” dan begin.

Hoewel dié kunstefees Maandagaand (2 Oktober) afskop met die immergewilde Kunssafari, open die feesterrein eers van 3 Oktober (Dinsdagoggend).

Die Bult, die terrein waar die stalletjies vanjaar weer sal staan, het die afgelope naweek gestalte gekry en hordes feesgangers het reeds op dié Noordwes-dorpie kom nesskop vir een van die jaar se grootste feeste.

Kunstenaars wat vanjaar by Aardklop te sien is (Foto: Facebook)

“Ons kan nie wag om Aardklop Maandag af te skop met die Kunssafari by die Botaniese Tuin nie,” sê Alexa Strachan, feesbestuurder. “Daar is nog enkele kaartjies vir dié safari beskikbaar vir diegene wat hulle wil verlustig in kuns. Die terrein maak egter eers môre (Dinsdag) oop en die produksies is van dan af te sien.”

Talle hoogtepunte sluit vanjaar wéér teaterproduksies in – 25 debuutwerke waarin jong en ervare kunstenaars optree, is onder meer by die fees te sien. Wat musiek betref, bied Aardklop vanjaar weer iets vir almal met bekendes soos Laurika Rauch, Loki Rothman, Stef Bos, Coenie de Villiers, Hemelbesem, Mathys Roets, Rocco de Villiers, Charl du Plessis, US Koor, Wits Trio, Radio Kalahari Orkes, Joshua na die Reën en vele meer.

Hier is ʼn paar dinge waarna jy veral moet uitkyk:

  • Taxi Teater – die produksie word vanjaar uitgebrei. Vanjaar vaar kunstenaars die strate in op soek na nuwe talent. Wanneer die feesganger in die taxi spring, kry hy nie net die plaaslike ervaring nie, maar ook die jong talent.
  • Musiekdebuutwerke soos Die Woordenaars (met Stef Bos, Spoegwolf, Jo Black, Koos van der Merwe en Herman Kleynhans) en Ekstravaklassiek (Chris Chameleon).
  • Die Aardklop Pronk Podium is die nuwe platform vir tiener- en studenteproduksies.
  • Van een-tot-een-teater – één akteur en één gehoorlid – tot gemengdemedia-installasieteater.
  • PG: ʼn Lewe Vol is ʼn huldeblyk aan dr. P.G. du Plessis, bekroonde dramaturg, draaiboek- en romanskrywer en storieverteller.

Kaartjies vir alle produksies is beskikbaar by Computicket. Toegang tot die feesterrein op Die Bult kos R20. ʼn Weekkaartjie sal jou R60 uit die sak jaag. Vir meer inligting, besoek Aardklop se webwerf.

Lees meer oor Aardklop 2017 op Maroela Media. Luister ook ʼn volledige onderhoud met Alexa Strachan, feesbestuurder, oor wat vanjaar se fees inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.