Groot FM se grootste radiotreffers

Groot FM se grootste radiotreffersIn Augustus verlede jaar het die groter Pretoria-gebied ‘n “nuwe” radiostasie gekry toe Groot FM begin uitsaai het. Eintlik het dié radiostasie Radio Rippel, wat op dieselfde frekwensie, 90.5 FM uitgesaai het, vervang.

Ter viering van Groot FM se eerste verjaardag het dié radiostasie onlangs ‘n versamelalbum met groot radiotreffers vrygestel. Die vraag is net of die kunstenaars verteenwoordigend is van wat gereeld gespeel word en of hul grootste treffers op hierdie album voorkom.

Die eerste snit is een van Celine Dion se groot treffers, A new day has come. Dit was die titelsnit van een van haar gewildste albums, en een van ‘n hele aantal van har treffers wat oorweeg sou kon word vir hierdie album. Adam Tas het die laaste paar jaar ontsettend gewild geword, en ‘n mens sou verwag dat Is dit hoe die hemel lyk, seker sy bekendste treffer, hier sou voorkom. Dit is ongelukkig nie die geval nie, want In die huis waar stilte woon is ingesluit. Een van die gewildste Suid-Afrikaanse groepe van die afgelope twee dekades was Watershed, en dis goed om hul treffer Letters op hierdie versameling te sien.

Joe Foster het verlede jaar weggebreek van die groep Adam en die titelliedjie van die roplrent Pad na jou hart geskryf en gesing. Dit is moeilik om hierdie snit in die hande te kry, daarom is dit goed dat dit hier ingesluit is. Hopelik sal sy eerste solo-album aanstaande jaar vrygestel word. In 1990 het Wilson Philips hul gelyknamige debuutalbum vrygestel en ‘n groot treffer met Release me gehad. Hulle het sedertdien nog nie veel sukses behaal nie, en hierdie liedjie was seker hul grootste treffer. As daar een snit is wat ‘n baie goeie kans het om as Groot FM se Afrikaanse liedjie van die jaar aangewys te word, is dit Sewe oseane van Andriëtte, en daarom was dit ‘n moet vir hierdie versameling. Heinz Winckler het al hoe meer sukses begin behaal vandat hy van Engelse- na Afrikaanse musiek oorgeskakel het, maar of 1001 soene sy beste Afrikaanse snit, of sy grootste treffer, tot nog toe was, is betwisbaar.

As daar een liedjie van die middel tot laat 1980’s is wat tot vervelens oor die radio gespeel is, was dit Manic Monday, wat die sanger Prince onder die skuilnaam Christopher vir The Bangles geskryf het. Manie Jackson het die gaping gevul wat deur Bles Bridges se dood gelaat is, en elke CD wat hy tot dusver vrygestel het, het baie goed verkoop. Die titelsnit van sy derde Afrikaanse CD, Sprei jou vlerke, is op hierdie verameling ingesluit. Romanz het vroeë vanjaar aangekondig dat hulle gaan ontbind, en om en van hul treffers te kies om by ‘n versamelalbum in te sluit, was sekerlik moeilik. In die hemel was egter nie hul grootste treffer nie; My hele hart sou dalk ‘n beter keuse gewees het. Twee jaar gelede het Ray Dylan, Elizma Theron, Monique en Nicholis Louw 4 Werke, seker die eerste Afrikaanse supergroep, gevorm. Hulle het al twee albums vrygestel, en Vuurwerke, vanaf hul eerste album, is ingesluit. In 1985 het Jennifer Rush se debuutalbum rekordverkope behaal, en veral The power of love het ‘n reuse treffer geword. Dis egter moeilik om te verstaan hoekom Madonna’s eyes ingesluit is. Nog ‘n snit waaroor ‘n mens net kan wonder, is Winterwasemharte van Kurt Darren. Kurt het al soveel treffers gehad waaruit ‘n mens sou kon kies, en veral Meisie meisie, Loslappie of Kaptein sou ‘n beter keuse gewees het.

Riaan Grobler is ‘n omroeper by Groot FM en bied die Groot 20, Groot FM se treffersparade, om Saterdae tussen 10h00 en 12h00 aan. Hy is egter ook ‘n sanger wat vier CD’s vrygestel het. Droom van my geluk is oorspronklik deur Dana Winner gesing, maar Riaan se weergawe is ingesluit. Albert Hammond was een van die suksesvolste sangers en liedjieskywers in die 1970’s en het onlangs in Suid-Afrika kom optree. It never rains in Southern Calfornia is een van sy vele treffers, en word nou nog gereeld gehoor. Daarom is dit dalk goed dat dit ingesluit is.

Ray Dylan het die afgelope tien jaar ‘n spul treffers gehad, en Harte van goud was die titelsnit van een van sy suksesvolste albums. Ricus Nel het homself die afgelope drie jaar as sanger gevestig nadat hy lank tevore al bekendheid as multi-instrumentalis verwerf het. Hy het met ‘n wenner vorendag gekom met Spyt kom te laat, die eeste treffersnit vanaf sy mees onlangse Afrikaanse album. Elizma Theron is die tweede lid van 4 Werke van wie ‘n solo-snit ingesluit is, maar My beste fout was jy was nie so ‘n groot treffer nie. Die getroude sangpaar Anders het aan die begin van die jaar ‘n groot treffer gehad met Mooi vir my, hul eerste kommersiële treffer. Die laaste snit is die enigste Christelike lied op die album. Die pionier van moderne Afrikaanse Christelike musiek, Jan de Wet, het verlede jaar sy eerste volwasse album in ‘n baie lang tyd vrygestel, en die titelsnit daarvan, die bekende Hoe groot is U, is hier ingesluit.

Hierdie versameling laat ‘n mens met gemengde gevoelens. Die meerste kunstenaars daarop is uiters gewild en selfs dié wat lank laas nuwe musiek vrygestel het, is nog in aanvraag. Die keuse van sekere snitte wat regtig nie die betrokke kunstenaars se grootste treffers is nie, laat ‘n mens egter wonder. Daar is dalk goeie redes hoekom die vanselfsprekende snitte van daardie kunstenaars nie ingesluit is nie, maar die weglating daarvan maak dat hierdie versameling nie is wat dit kon gewees het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.