Groot tunes Vol. 1

Groot tunesDaar was deur die jare al soveel verskillende versamelalbums op die mark dat ‘n mens begin wonder het of enigiemand nog met ‘n vars aanslag vorendag kon kom.
Groot tunes is egter iets wat seker nog nooit in Suid-Afrika gesien is nie; ‘n versameling met plaaslike- en internasionale treffers, maar waarop ‘n aantal Afrikaanse snitte ook ingesluit is. Die eerste snit op hierdie dubbele versameling is Eden se onlangse treffer, Superhero. Eden het nie uitmekaargespat nie, en daar is sprake dat hulle later vanjaar weer ‘n album gaan uitreik. Ellie Goulding is een van die belowendste nuwe kunstenaars op die internasionale toneel, en haar debuut-treffer, Burn, is die volgende snit. Nog ‘n snit deur ‘n nuwe kunstenaar is Build it up, wat ‘n groot treffer vir die plaaslike groep Monark geword het. Hulle het met hierdie snit, asook met hul nuwe treffer, Something, bewys dat hulle een van ons land se beste rock-groepe op die oomblik is. Die musiekvideo van hierdie snit verskyn onderaan. Carly Rae Jepsen se treffer Call me maybe het veral onder jonger luisteaars byval gevind, en dis goed dat dit hier ingesluit is. Twee van die beste Afrikaanse kunstenaars op die oomblik is volgende, naamlik Riana Nel en Theuns Jordaan; Timbuktu en By jou het verdien om groot treffers te word. Wake me up was Avicii se eerste treffer, en was verlede jaar die algehele treffer van die jaar op een van ons land se grootste radiostasies. Nog ‘n baie groot treffer van verlede jaar was Roar van Katy Perry, en daarom is dit goed dat dit ook hier ingesluit is. Corlea het een solo-album vrygestel sedert sy en Rudi Claase opgehou het om saam te sing, maar vroeër jaar het sy ‘n groot treffer met Swart koffie gehad. Nugter weet wanneer sy weer ‘n album gaan opneem, maar intussen sal haar aanhangers bly wees dat hierdie snit by nog ‘n versamelalbum ingsluit is. Bok van Blerk se jongste album, Steek die vure aan, is vroeër vanjaar vrygestel, maar dit is ‘n jammerte dat die titelsnit, wat hier ingesluit is, nie beter gevaar het op die trefferslys waartoe hy toegetree het nie. Dewald Wasserfall se eerste solo-album, Vergeet wat jy weet van liefde, het drie treffers opgelewer, onder meer Sewentien, wat hier ingesluit is. One Republic is seker een van die gewildste internasionale groepe op die oomblik, en Counting stars is een van hul mees onlangse treffers. Selena Gomez en Justin Bieber was tot onlangs in ‘n verhouding, en hul onderskeie treffers Slow down en Beauty and the beat, kom een na die ander op hierdie versameling voor. Karlien van Jaarsveld het groot sukses met die titelsnit van haar jongste album, Jakkals trou met wolf se vrou, behaal. Lawson se Learn to love again is dalk nie so bekend nie, maar dit is ‘n baie goeie snit wat verdien om gewild te word. Drie van die grootste plaaslike treffers van die afgelope jaar of twee is volgende. Bobby van Jaarsveld is deesdae een van ons land se beste en gewildste Afrikaanse kunstenaars, en op Kan ek met jou praat kom ‘n mens agter dat sy lirieke meer om die lyf het as wat ‘n mens van ander kunstenaars van sy ouderdom verwag. Jay en Lianie het wel ‘n aantal Afrikaanse duet-treffers gehad, maar met In a moment like this het hulle ‘n groter teiekngehoor bereik. Nadat Elvis Blue as die wenner van Idols aangekondig is, was Things my father said, vanaf sy eerste album, baie gewild. Daar is ‘n paar country-liedjies wat die laaste tyd gewild geword het, onder meer If I die young van The band Perry; die laaste snit op die eerste CD.
As daar een Afrikaanse sangpaar is wat gerus weer ‘n album kan opneem, is dit Coleske. Sewende hemel was hul eerste Afrikaanse opname in meer as twintig jaar, en maak ‘n mens lus vir nog meer goeie Afrikaanse musiek van hul kan af. Hulle sing ook saam met Riana op haar nuwe treffer, Glass, vanaf haar nuwe album, Die regte tyd. Lady Antebellum het groot sukses met Need you now behaal, en dis jammer dat hulle nog nie daardie sukses kon nadoen nie. Nog ‘n country-liedjie wat gewild geword het, en tans gereeld oor die radio gehoor kan word, is Florida Georgia Line se Cruise. Dis net jammer dat country-musiek deesdae nie meer so gewild hier is soos in die 1970’s en die vroeë 1980’s nie. Nog ‘n snit met ‘n effense country-klank is From the bottom of my heart, vanaf Blackbyrd se debuutalbum. Craig Hinds, die hoofsanger van Watershed, sing dit saam met hulle. Jy voltooi my was die titelsnit van Juanita du Plessis se mees onlangse oorwegend Afrikaanse album, en het baie goed op verskeie trefferslyste gevaar. Adam is seker een van die gewildste Afrikaanse sanggroepe op die oomblik, en Gebore om jou lief te hê was een van hul grootste treffers. Ampie was al by ‘n hele aantal musiek-projekte betrokke voordat hy met sy solo-loopbaan begin het; Niks en niemand was die titelsnit van sy eerste solo-album. Lianie May se jongste album, Naweeklyfie, is onlangs vrygestel, en Noodlanding sal hopelik een van die treffers vanaf dié album wees. Nog ‘n kunstenaar wat onlangs ‘n nuwe album vrygestel het, is Arno Jordaan. Kan nie langer wag nie is ‘n baie goeie snit wat ‘n treffer behoort te word. Connell Cruise het vroeër vanjaar ‘n treffer met Not just friends gehad, en dit lyk asof hy mettertyd een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaars gaan word. Die Heuwels Fantasties se musiek is dalk op ‘n “alternatiewe” gehoor gemik, maar Beloofde land was ‘n treffer op verskeie radiostasies. Mumford and Sons het ook vroeër vanjaar sukses met I will wait behaal, en een ding wat hul musiek besonders maak, is dat hulle interessante akoestiese instrumente gebruik. Ho hey was The Lumineers se groot treffer, maar om een of ander rede is die Campbells se opname hier ingesluit. Steve Hofmeyr se Toeka 3-album word binnekort vrygestel, maar sy groot treffer FM Stereo is hier ingesluit. Pad na jou hart was seker die gewildste Afrikaanse rolprent tot nog toe, en die temaliedjie was ‘n groot treffer vir die gewese Adam-lid Joe Foster. Jay is tans besig om groot sukses met sy album Dis hoe ons rol, wat al drie treffers opgelewer het. Waar is jy nou, wat hier ingesluit is, is ‘n pragtige snit. Joe Niemand het hom die laaste tyd op Christelike musiek toegespits, maar Ek sal nie bang wees nie, was ‘n kommersiële treffer. Joshua na die Reën is een van die belowendste kunstenaars op die Afrikaanse musiektoneel en Lig op die horison is nou nog baie gewild. Die laaste snit op die album is Mal oor jou van Johan C. Venter
Hoewel versamelalbums maak dat sommige kunstenaars se oorspronklike CD’s nie die hoogtes op die amptelike Suid-Afrikaanse trefferslys bereik wat hulle verdien nie, is Groot tunes vol. 1 een van die handjievol wat weklik verdien om suksesvol te wees. Dit is amper ‘n meer geloofwaardige opsomming van wat in die musiekbedryf gebeur as die meeste ander versamelings waarvan een volume na die ander uitgereik word. As ‘n mens te hard prober om iets vir almal op een versamelalbum te bied, misluk jy gewoonlik, maar hierdie versameling bewys dat dit nie noodwendig hoef te gebeur nie. Mag dit die eerste van verskeie volumes wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.