Grootste Afrikaanse liedjie-kategoriewenners bekendgemaak

GrootsteAfrikaanseLiedjieHier is die vyf kategoriewenners in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie-veldtog:

Tradisioneel:
Die Stem van Suid-Afrika
Musiek: M.L. de Villiers
Woorde: C. J. Langenhoven

Dit was Suid-Afrika se nasionale lied van 1957 tot 1994. Die woorde is in 1918 deur C.J. Langenhoven geskryf, en drie jaar later deur M.L de Villiers getoonset. Dit is op 2 Mei 1957 as Suid-Afrika se nasionale lied aanvaar. Dit is ook in 1952 in Engels vertaal onder die titel The call of South Africa.

Tydlose treffers:
Kinders van die wind
Woorde en musiek: Koos du Plessis

In 1979 het Koos du Plessis as liedjieskrywer en Laurika Rauch as sangeres bekendheid verwerf toe Kinders van die wind die temaliedjie van die televisiereeks Phoenix en Kie was. Jana Cilliers het die rol van ‘n nagklubsangeres in dié reeks vertolk, en Laurika se sangstem is gebruik. Op 14 September 1979 tree Kinders van die wind in die 17de plek toe tot Springbok Radio se Top 20; dit haal die derde plek en bly 13 weke lank op die Top 20. Koos het dit ook vir sy eerste album, Skadu’s teen die muur opgeneem, en toe Theuns Jordaan dit vir sy album Koue vuur opgeneem het, was dit opnuut ‘n treffer. Die Franse klavierspeler Richard Clayderman het ook groot sukses met sy opname daarvan behaal, en Jannie du Toit het dit in Nederlands onder die titel Kinderen van de wind vertaal.

Populêr:
Pampoen
Woorde en musiek: Steve Hofmeyr

Pampoen is aanvanklik ingesluit as ‘n nuwe snit op Steve se album Toeka, waarop hy hulde aan Suid-Afrikaanse kunstenaars van weleer gebring het. Die veteraan-akteurs Al Debbo en Miems de Bruyn, was die hoofkarakters in die musiekvideo.  Die Suid-Afrikaanse groep Clint and Co. Het dit in Engels vertaal onder die titel Rescue me.

Raserig:
Dis ‘n land
Musiek: R. Siegel en R. Meinunger
Woorde: Johan Stemmet

In 1987 het Carike Keuzenkamp haar twintigste jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gevier en die album Ek sing… bekendgestel. Dis ‘n land was seker die grootste treffer vanaf hierdie uiters suksesvolle album. Van Coke Kartel en Snotkop het hul eie weergawes, wat baie van die oorspronklike een verskil, opgeneem, en Van Coke Kartel se weergawe is as kategoriewenner aangewys.

Kinderliedjie:
Heidi
Musiek: Christian Bruhn, Wolfgang Winzler, Andrea Wagner
Woorde: Martha Venter (regte naam: Tinus Esterhuizen)

Dit was die temaliedjie van die gewilde kinderprogram wat in 1978 op televisie was. Die oorspronklike weergawe deur Gutti und Erika is in dié program gebruik, maar verskeie weergawes is in Suid-Afrika opgeneem. Peter Lotis het die tweede plek op Springbok Radio se Top 20 met sy Engelse weergawe gehaal, en is net deur Rivers of Babylon van Boney M van die eerste plek af gehou. Twee Afrikaanse weergawes is ook opgeneem, en Carike Keuzenkamp se opname is sekerlik die een wat die meeste mense onthou. Herbie en Spence het egter ook ‘n Afrikaanse opname vrygestel, en op 23 Junie 1978, ‘n week nadat Peter Lotis toegetree het, haal Herbie en Spence se opname Springbok Radio se Top 20 in die twintigste plek. Hulle vorder tot by die dertiende plek en bly tien weke lank op die trefferslys. Kurt Darren het ook dié liedjie gebruik as basis vir ‘n treffer wat op sy album In jou oë voorgekom het.

http://www.youtube.com/watch?v=stAaIALA9U0

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.