Grootste treffers- Romanz

Grootste treffers RomanzBy die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2008 het ‘n nuwe plaaslike sanggroep vir die eerste keer opgetree.
Sedertdien het Romanz sewe albums (onder meer een saam met Nianell) vrygestel, maar dié groep het onlangs bekendgemaak dat hulle uitmekaar gaan. Hoewel hul duisende aanhangers sekerlik nie baie gelukkig hieroor is nie, het hulle besluit om ‘n laaste keer bymekaar te kom en vyf nuwe snitte op te neem, wat by hul versameling grootste treffers ingesluit is.
Die eerste snit op hierdie dubbele versameling is Waterval, die eerste nuwe snit wat ‘n radiotreffer geword het. Hierdie snit gaan byna verseker ‘n groot treffer word! Die titelsnit van hul debuutalbum, My hele hart, is heel gepas die eerste bestaande snit wat by die versamling ingesluit; dit bly steeds mooi. Romanz het van die begin af Christelike liedere by hul repretoire ingesluit; hul opname van Genade onbeskryflik groot is envoudig skitterend. Die volgende snit op die album is Bly getrou aan jou liefde, die eerste treffer vanaf hul tweede album Bly getrou. Nog ‘n nuwe snit met besliste trefferpotensiaal is Ek leef my droom. Houtkruis is seker een van die grootste Afrikaanse Christelike treffers tot nog toe, en hoewel niemand seker ooit Prophet se oorspronklike opname kan nadoen nie, is Romanz se weergawe baie goed. Hou vas was die titelsnit van hul laaste kommersiële album, wat verlede jaar uitgereik is. Kom en red my is ‘n oorspronklike komposisie van Sean Butler en Neil Schoombee en het oorspronklik op die album Bly getrou voorgekom. Neil en Sean het die volgende snit, oorspronklik vanaf dieselfde album, naamlik Ek weet dit nou, saam met Marc Brendon en Don Kelly geskryf. Jy’s veilig by my is nog ‘n goeie oorspronklike komposisie, wat op die album Bly getrou, voorgekom het. Staan op en sing is ‘n skitterende loflied tot eer van die Here, en dit was een van die treffers vanaf hul eerste Christelike album, Ek sal getuig. Nie alle Christelike snitte wat hulle opgeneem het, was noodwendig op hul Christelike albums nie; Here lei my kom ook vanaf die album Bly getrou. Nog ‘n splinternuwe opname is eintlik glad nie ‘n nuwe liedjie nie. In 1975 het Heintje Simons die enigste kunstenaar buite Suider-Afrika geword wat Springbok Radio se Top 20 met ‘n Afrikaanse liedjie gehaal het. Jou hart is weer myne is intussen ook deur onder meer Bles Bridges en Steve Hofmyr opgeneem. Soos Steve sing Romanz die refrein nie aan die begin soos Heintje Simons dit gedoen het nie, maar begin die liedjie met die eerste vers. Hoe ook al, dit bly ‘n uitstekende weergawe van hierdie groot treffer van weleer. ‘n Groot verrassing is You got it, die eerste liedjie wat vir Roy Orbison ‘n treffer geword het nadat hy in 1988 an ‘n hartaanval oorlede is. Ray Dylan het dit ook onlangs op sy Roy Orbison-huldeblykalbum opgeneem en dit sal interressant wees om die twee opnames met mekaar te vergelyk. Romanz en Nianell het die album ‘n Duisend drome opgeneem, maar Glaskasteel is ongelukkig die enigste snit waarop hulle saam sing, wat op hierdie trefferversameling ingesluit. Die video van hierdie snit verskyn onderaan hierdie resensie. My angel is oorspronklik op hul Engelse album, With all my heart, ingesluit. Neem my op vlerke was natuurlik ‘n groot treffer vir Anneli van Rooyen, en is intussen ook deur Jennifer Zamudio en Dewald Wasserfall opgeneem, maar Romanz se opname is baie goed. Daar is drie Christelike snitte aan die einde van die album, naamlik Hier is my alles, Hy’s die Eerste en Laaste en In die hemel. Laasgenoemde is nie Junaita du Plessis se liedjie nie, maar eerder ‘n oorspronklike komposisie van Neil Schoombee en Sean Butler.
Die tweede album skop af met Reik na die sterre, sekerlik Bles Bridges se grootste treffer. Romanz se weergawe daarvan is baie goed, en toe dit by ‘n heruitreiking van hul debuutalbum, My hele hart, ingesluit is, het dit van voor af ‘n treffer geword. Mona Lisa jy was een van die treffers vanaf die album Hou vas. Nog ‘n nuwe snit is Breek die stilte nou, en weer eens behoort dit ‘n groot treffer te word. Ti amo was oorspronklik ‘n treffer vir Laura Branigan, maar Romanz se Afrikaanse weergawe was selfs nog beter. Daar is nog ‘n Afrikaanse weergawe van ‘n bekende liedjie wat ook op hierdie versameling ingesluit en wat beter as die oorspronklike een is, mar meer daaroor later. Ek sal getuig was die titelsnit vanaf hul eerste Christelike album, en ‘n mens kan verstaan hoekom dit gewild geword het. Casablanca-oomblik was ‘n treffer vanaf die album Hou vas. Die ander Afrikaanse weergawe van ‘n bestaande liedjie wat beter as die oorspronklike een is, is volgende op die album. In die 1980’s het die Italiaanse sangpaar Al Bano en Romina Power ‘n treffer met Felicitia gehad. Amanda Luyt het Afrikaanse woorde darvoor geskryf en dit klink baie goed. Hierdie snit, asook Heer leef binne my, het oorspronklik op die album Hou vas voorgekom. Die laaste nuwe snit op die versameling is Soebat, ‘n komposisie van Neil Schoombee en Sean Butler. Hierdie aand is oorspronklik deur Danie Niehaus opgeneem, maar Romanz se weergawe is selfs beter. Ek wil weer oor begin en Dit is my dankie was twee van die treffers vanaf My hele hart. African dream was oorspronklik ‘n treffer vir Vicky Sampson, maar Romanz se weergawe is net so goed, indien nie beter nie. My laaste song vir jou is iets besonders; enigiemand wat ‘n pa aan die dood afgestaan het, sal hiermee kan identifiseer. Nog ‘n hoogtepunt is Solitaire, wat deur Neil Sedaka geskryf is, en ‘n nr. 1-treffer in Suid-Afrika vir Andy Williams was. Dit is ‘n pragtige liedjie, maak nie saak wie dit sing nie, en daarom is dit goed dat Romanz se weergawe by hierdie versameling ingesluit is. Remember me is ‘n oorspronklike komposisie van Neil Schoombee en Sean Butler en soos Solitaire het dit oorspronklik op die album With all my heart voorgekom. Een van die mooiste snitte op hierdie versameling is I want to spend my lifetime loving you, wat oorspronklik uit die rolprent The mask of Zorro gekom het en oorspronklik deur Marc Anthony en Tina Arena gesing is. Vicino a me is die Italiaanse weergawe van Bly net vanaand by my. Dit sou beter gewees het as die Afrikaanse weergawe ingesluit was, maar hierop wys hulle dat hulle nie net in Afrikaans of Engels kan sing nie. Die Onse Vader is ‘n gepaste afsluiting vir hierdie versameling, maar dit verskil van die een wat in die Liedboek van die Kerk voorkom.
Hoewel dit ‘n groot jammerte is dat Romanz uitmekaar is, is die goeie nuus dat Louis Loock, wat die groep in 2012 verlaat het en Adam Barnard reeds solo-albums vrygestel het en dat André Venter, wat die musiekprogram Jam op kykNet aanbied, ook binnekort ‘n solo-album gaan vrystel. Burgerd Botha is met Zita Pretorius, wat al saam met Rudi Claase gesing het, getroud, en hulle het ook saam begin sing. Hoe ook al, hierdie versameling is ‘n volledige opsomming van hul loopbaan as groep en hoort in die CD-versameling van enigiemand wat musiek van hoogstaande gehalte waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.