Grootste treffers Volume 1- Heinz Winckler

Heinz-Winckler

Heinz Winckler het onlangs sy eerste grootste treffers album vrygestel, wat ‘n bewys is van sy suksesvolle loopbaan. Foto: Heinz Winckler se Facebookblad.

In 2001 het Suid-Afrika op die Idols-lawaaiwa gespring en Heinz Winckler is as die eerste wenner van dié kompetisie aangewys.

Sedertdien het Heinz die een mylpaal na die ander bereik. Hy het die eerste Idols-wenner geword wat ʼn suksesvolle loopbaan in die Afrikaanse musiekbedryf van stapel kon stuur, en hy het ook die liedjie Chasing shadows vir die Walt Disney-roplrent Treasure Planet opgeneem. Hy het ook nou op ʼn ander manier geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse Idols-wenner te word wat ʼn trefferversameling vrygestel het.

Die eerste snit op hierdie versameling is een van twee nuwe opnames. Heinz het sy debuut as akteur gemaak in die rolprent Mooiriver, wat binnekort uitgereik word. Hy het Meisie van my hart vir dié rolprent geskryf, en sing dit ook daarin. Dit is reeds ʼn treffer op feitlik elke radiostasie. Die volgende snit is die titelsnit vanaf sy eerste Afrikaanse album, Ek kan weer in liefde glo. Dit is ʼn oorsese melodie waarvoor hy Afrikaanse woorde geskryf het, en dit het baie gewild geword. Toe Heinz as Idols-wenner aangewys het, is hy opdrag gegee om ʼn spesifieke liedjie op te neem. Once in a lifetime was Heinz se eerste treffer, en was ook op die speellyste van radiostasies wat selfs nie in Afrikaanse musiek belangstel nie. Nog een van Heinz se groot pop-treffers was Next stop happiness, wat in 2004 vrygestel is. Jakarandakoningin en Dis daai 20 minute was twee van die treffersnitte vanaf die album, Ek kan weer in liefde glo. Never got over you was nog een van Heinz se grootste pop-treffers.

Charlize Berg sing You and I saam met hom, en dit het haar sangloopbaan ʼn hupstoot gegee. Vat my hand was die eerste treffer van sy mees onlangse Afrikaanse album, Jy’s bonatuurlik. Emil Struwig het 1001 soene vir die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie, en hoewel dit die kompetisie gewen het, was dit moeilik om te verstaan hoekom, want dit is regtig nie watwonders nie. Nogtans het Emil ʼn uiters produktiewe liedjieskrywer geword, en het hy sedertdien met baie beter liedjies vorendag gekom. Die tweede nuwe snit op hierdie versameling is The moment, waarvan hy self die musiek en woorde geskryf het. Hy het dit in September verlede jaar vir die eerste keer op Idols gesing, en dit behoort baie gewild te word. 24/7/365 was die titelsnit van Heinz se tweede Afrikaanse album en het ʼn groot treffer geword. Can’t lose with you was een van Heinz se vroeë pop-treffers, en was op die trefferslyste van die meeste radiostasies. Heinz het Drowning me saam met onder andere Joe Niemand geskryf. Joe is een van ons land se voorste liedjieskrywers, maar hy het hom die afgelope tyd op Christelike musiek toegespits. Thank you is nie so bekend nie, maar tog ʼn baie goeie snit. Nog ʼn liedjie wat in dieselfde kategorie val is Only for you, waarop Heinz wys dat hy rustige ballades maklik kan baasraak. Real song is een van Heinz se eie komposisies, en dis jammer dat dit nie meer gereeld gehoor word nie. Die laaste snit op dié versameling is die hoogtepunt, naamlik 100 000 gebede.  Heinz het ook hierdie snit self geskryf, en hier wys hy dat hy ook Christelike liedjies kan skryf. Hopelik sal hy dit meer gereeld in die toekoms doen.

Daar is min voormalige Idols-wenners wat dié kompetisie gebruik het om suksesvolle musiekloopbane van stapel te stuur. Die enigste ander Idols-wenner wat tot dusver regtig ʼn groot indruk gemaak het, was Elvis Blue; seker die heel beste kunstenaar wat tot nog toe uit Idols gekom het. Heinz is sonder twyfel die enigste ander voormalige Idols-wenner wat ʼn konstruktiewe bydrae tot dusver in die plaaslike musiek gelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.