Hande vol genade- Dozi

 

Hande vol genadeIn 2001 het die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer kennis geneem van Dozi toe hy ‘n keurspel van Afrikaanse liedjies wat hy in Zoeloe vertaal het, op Noot vir noot gesing het.

Hy het sy eerste Afrikaanse CD, Op aanvraag, net daarna vrygestel en veral sy weergawe van Chris Blignaut se treffer, Ou ryperd, het ‘n groot treffer geword. Sedertdien het hy sewentien albums vrygestel; nie net in Afrikaans nie, maar ook twee albums waarop hy van sy rock-gunstelinge opgeneem het, asook ‘n hukldeblyk-album aan Creedence Clearwater Revival.

Dozi se gewildheid het effens afgeneem, veral nadat hy die album Voel so reg in 2010 vrygestel het, maar sy agttiende album, Hande vol genade, het pas verskyn en die vraag is of hy terug is na sy beste toe en of die publiek weer in sy musiek sal belangstel.

Dozi se gereelde liedjieskrywer, Stef Kruger, was vir al die snitte op die album verantwoordelik, en die eerste snit, Kruispad, is een van die moontlike treffers vanaf die album. Mautirz Lotz is een van ons land se beste kitaarspelers, en sy kitaarwerk op hierdie snit is besonder goed. Die mooi verhaal is nog ‘n snit met trefferpotensiaal. Die eerste radiotreffer is Ek wil jou kom haal, en hier het Stef Kruger met ‘n wenner vorendag gekom. Dis net jammer dat dit nog nie die trefferslys van sommige radiostasies gehaal het nie, maar dit sal sekerlik nog gebeur. Om te groet is ‘n mengsel tussen country en blues; die musikale verwerking is baie goed en dit sal jammer wees as dit nie radiolugtyd kry nie.

Foto is seker een van die beste snitte op die album, met ‘n effense blues-klank, en dit vertel die verhaal van ‘n jong paar wat deur oorlog van mekaar verwyder is. Binneboudbaaisiekel gaan byna verseker ‘n treffer word, al het hy dit al vantevore opgeneem. Met die volgende snit, Punt, kom ‘n mens net weer agter dat Stef Kruger ‘n baie goeie liedjieskrywer is. Die blues-kitaarwerk op Jy sal sien is uitstekend,en diegene vir wie goeie musikale verwerking belangrik is, sal baie daarvan hou. Op Weer begin word die klem soms op die verkeerde lettergreep geplaas; Kupido het dit tot ‘n “kuns vervolmaak.” ‘n Mens het beter verwag. Een van die hoogtepunte van die album, Karootelegram, is volgende, en  ‘n mens hoop dat die radiostasies die moed sal hê om hierdie skitterende blues-snit by hul speellyste in te sluit. Die CD word afgesluit met twee weergawes van die enigste Engelse snit op die album If I was Jesus. Dit klink dalk omstrede, maar dit is glad nie geval nie Die tweede weergawe klink beter as die eerste een.

As ‘n kunstenaar eers een keer ‘n CD vrygestel het wat nie by die publiek byval gevind het nie, is dit moeilik om hulle terug te wen as aanhangers. Hierdie album is egter een van Dozi se bestes nog en dit verdien om baie gewild te word. Anders as in die verlede het Dozi nie noodwendig met ‘n album vorendag gekom wat op die kommersiële mark gemik is nie, maar oor die algeneem is die lirieke en die musikale verwerking so goed dat ‘n mens daarvan kennis behoort te neem. Hierdie album verdien ‘n plek in die versameling van enigiemand wat goeie musiek kan waardeer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.