Handel se ‘Messiah’ in Oudtshoorn opgevoer

Lynelle Kenned (Foto: Verskaf)

George Frideric Handel se Messiah is een van die mees uitgevoerde koorwerke in Westerse klassieke musiek en geniet sedert die 1742-première daarvan gereelde uitvoerings.

Op Vrydag 8 Desember om 18:00 word ʼn unieke uitvoering van dié oratorium in Oudtshoorn aangebied.

Die Kaapstadse Barokorkes (CTBO), onder Erik Dippenaar se leiding van die klavesimbel af, deel die verhoog met sangers van die barok vokale ensemble, Lutesong Consort.

“Hierdie is ʼn belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Messiah se uitvoering in Suid-Afrika, aangesien die volledige 1742 Dublin-weergawe baie selde hier op barokinstrumente uitgevoer word.

“Musiekliefhebbers kan uitsien na barok-strykinstrumente en continuo, baroktrompette en -keteltromme, en ʼn ensemble van twaalf professionele sangers wat die solo’s sowel as die koordele sing. Daar is ook ʼn terugkeer na die kleinskaalse kamermusiek-gevoel van die eerste uitvoerings,” sê Dippenaar.

Die sangers, almal lede van Lutesong Consort, is Lynelle Kenned, Elsabé Richter en Louise Howlett (soprane); Lente Louw, Nick de Jager en Minette du Toit-Pearce (alte); Jason Atherton, Willem Bester en Levi Alexander (tenore); en Aubrey Lodewyk, Keaton Manwaring en Patrick Cordery (basse).

Die Kaapstadse Barokorkes (CTBO), onder Erik Dippenaar se leiding. (Foto: Verskaf)

Raphael Pouget en Julian Ritsch, bekende Oostenrykse baroktrompetspelers, sluit ook by hulle aan. Pouget keer nou vir ʼn derde keer na Suid-Afrika terug om saam met die CTBO te werk, ná vorige optredes by die Kaapstadse Barokfees in 2018 en 2019.

Die uitvoering vind by die Burgersentrum op Oudtshoorn plaas, en dit word deur die Mzansi Nasionale Filharmoniese Orkes, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), en Klein Karoo Klassique ondersteun.

Kaartjiepryse wissel tussen R100 en R175. Dit kan aanlyn by Webtickets, of by Pick n Pay bespreek word. Kontak die KKNK-kantoor by 044 203 8600, of stuur ʼn e-pos na [email protected] of ʼn WhatsApp na 065 285 2337, om meer oor die konsert te wete te kom.

  • Die 28ste KKNK word van 23 tot 31 Maart 2024 op Oudtshoorn aangebied, terwyl die 15de Klein Karoo Klassique van 9 tot 11 Augustus 2024 op Oudtshoorn plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.