Die opkomende Afrikaanse sanger, Hanna Boss, sê haar eerste enkelsnit, “Daar”, gaan oor die ander kant van liefde, weg van die sprokie.
“Hierdie liedjie vertel nie regtig van ʼn sprokie nie, maar eerder ʼn werklikheidsverhaal oor die liefde. Sprokies is soms baie ver en iets wat met ander mense gebeur. Dié sogenaamde werklikheidsverhaal vertel van die groot liefde van jou lewe wat soms reg onder jou neus wegkruip en nog altyd net daar was,” het sy gesê.
Hoewel sy eers onlangs begin naam maak het in die musiekbedryf, sing sy al vandat sy drie jaar oud was. Sy het ook twee keer ’n musiekskool in Nashville in die VSA bygewoon wat haar finaal oortuig het om ’n loopbaan in die musiekbedryf te volg.
“My eerste optrede was op driejarige ouderdom voor 2 000 mense by die Maranata Konferensie tydens Paasfees waar ek die nasionale sangkompetisie gewen het. My pa en suster was baie musikaal, so sang en musiek was nog altyd deel van my lewe.”
Hanna kry die afgelope vier jaar sanglesse by die bekroonde operasanger en stemafrigter, Mauri Mostert, en is ook ’n liedjieskrywer uit eie reg. Sy het self haar eerste enkelsnit geskryf, getoonset en saam met een van die land se beste klankregisseurs, Stass, gewerk.
Sy het haar ook as siviele ingenieur aan die Universiteit van Pretoria bekwaam waar sy onder die topdrie in haar jaargroep geëindig het vir haar finalejaarprojek.
Oor haar toekoms in die musiekbedryf is sy baie opgewonde. “Ek is baie opgewonde om my stem en stories te voeg by die Afrikaanse musiekbedryf en ’n nuwe klank tot die bedryf by te dra.”