Hantam gatskop

Klipwerf Orkes

Hulle het al meer albums opgeneem as wat sommige bekende Afrikaanse sangers as lewensjare agter hul naam kan skryf. Van tuig neerlê, is daar nie eens sprake nie. Daarom dat die Klipwerf Orkes terug is met hul 27ste album wat hulle Hantam Gatskop gedoop het.

“Daar is sekere mense in die musiekbedryf wat Klipwerf wil afskryf. Ons wil hulle gat(te) skop. Ons staan in die middel. Aan die een kant is daar die CD-bedryf en aan die ander kant die publiek en ons ondervinding is die publiek bepaal jou gewildheid as jy n goeie produk lewer. Almal in die bedryfsketting moet hulle deel doen.

“Maar die dansvloere bly vol,” vertel Kobus Visagie van Klipwerf. Of dit nou ‘n skoolsaal of ‘n skuur is, ‘n mens kan maar nou al die brandslang nader sleep. Met Hantam Gatskop steek Klipwerf die wêreld aan die brand met hul vurige dansnommers. Daar is Wals vir Hessie, Banjo kaperjolle, Lientjie se vastrap, Ek wil my baby hê vanaand en selfs Hans se gemmerdans. Pieter van der Westhuizen se immergroen Wie se kind is jy kry ook die Klipwerf-behandeling. “Dit is net ‘n boeremusiekritme wat ons aan enige liedjie gee, maar dit klink beter as ons sê Klipwerf style,” beskryf Visagie hul eiesoortige klank.

Klipwerf het sy nis gevind met albumverkope van ver oor die miljoen eksemplare, sonder fieterjasies. Dit is juis die Hantam (rondom Calvinia) wat in Klipwerf se musiek kom nestel het. “Die streek se eenvoud en aardsheid kom sterk na vore in ons musiek.”

Die wenresep is ongebreidelde dansmusiek, sonder sang. En al word daar soms ander liedjies of reeds bekende boeremusiek in die Klipwerf-kookpot gedruk, skryf hulle ook hul eie liedjies. Santjie, die tweede snit op die nuwe CD, is so ‘n nuutskepping uit die pen van Willie Burger.

Burger is een van twee nuwe Klipwerf-lede. Hy speel die kitaar en werk vir Telkom in Vredendal. Die groep se nuwe tromspeler, Johnny Dreyer, is ‘n sakeman en boer van Kliprand in die Namakwaland. Visagie, wat die klawerbord speel, is ‘n plaasboer in die omgewing van Calvinia. En Gené van Niekerk, wat ook klawerbord speel, is ‘n boervrou in die hartjie van die Boesmanland en die enigste roos tussen die dorings.

Hantam Gatskop is Klipwerf se heel eerste CD wat deur Vonk Musiek uitgereik word. “Hulle is wonderlike mense met die regte idees wat ons gaan help om gat te skop,” voeg Visagie by. Met Hantam Gatskop kry boeremusiek opnuut ‘n meesleurende hupstoot en sal musiekliefhebbers nie net tot ounag nie, maar sommer tot vroegmôre kan makietie hou.(Vonk Musiek)

Speellys

  1. Banjo kapperjolle
  2. Santjie
  3. Ver van die huis
  4. Wie se kind is jy
  5. Toe Toe Vastrap
  6. Perlemoen Vang
  7. Wals vir Hessie
  8. Lientjie se Vastrap
  9. Hans se Gemmerdans
  10. Ek wil my Baby he vanaand
  11. Silwerstroompie
  12. Daar kom hy aan
  13. Dans by oom japie
  14. Geelslang

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jackie Jacobson ·

DANKIE Klipwerf , weer eens ‘n puik cd , ek is sekerlik een van die duisende van julle aanhangers en ek spog met al julle cd’s en dvd’s . Weereens baie dankie en hou so aan mense . Groete Jackie . Kimberley .

Elzare Louw ·

Dankie tog ek het gedink klipwerf is iets van die verlede. My familie kom van Calvinia en ons het oujaarsaande duk stukke gedans op klipwerf se musiek. Ek kom saammet die orkes vandat ek 10 jaar oud was en het al julle cd’s. Ek gaan beslis vdag nog Gatskop vir my koop. Hou so aan julle

Groete Elzare Pretoria

Dawid Zwiegelaar ·

Ek woon in Perth,Australia en sal graag die DVD gen. Hantam Gatskop wil koop. Hoe moet ek maak? Ek het n kredietkaart.
Hoor graag van julle.
Dankie
Dawid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.