Hantam nostalgie Volume 1

Klipwerf Orkes

Met die Namakwaland wat hierdie tyd van die jaar in sy allerfraaiste lente-rok van veldblomme geklee is, kon die uiters gewilde Klipwerf Orkes nie ‘n beter tyd gekies om nostalgies te raak nie. Klipwerf se jongste CD-uitreiking is meer as net ‘n dubbeldoor of tipiese dubbel-album. Hantam Nostalgie Volume 1 bevat altesame drie CD’s uit die groep se vroeëre loopbaan wat saam verpak is – Kom kuier in die Hantam, Hantam vrolikheid en Hantam opskop.

Hantam Nostalgie Volume 1 bestaan dus uit drie immergroen-albums met gesamentlik 42 liedjies deur dié gewilde boere-orkes. Die liedjies wissel van Klein bietjie wyn, Boesmanland, Feestyd se wysie, Blikkies settees, Suidwes-lied, Suikerbos settees en Aandblom tango tot die Klipwerf vastrap en Umfaan.

Vir die Klipwerf Orkes is die 42 liedjies op hierdie nostalgiese gerf van albums uit 1988, 1990 en 1991, besonder veelseggend. Hulle vier vanjaar hul 42ste bestaansjaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Klipwerf word allerweë beskou as een van Suid-Afrika se mees suksesvolle orkeste en spog met albumverkope van meer as 1,2 miljoen eksemplare. As instrumentale groep wat hul aanhangers en gehore gewoonlik sonder ‘n sanger moet vermaak, het die vierstuks musikante uit die Hantam al hul eie styl en klank ontwikkel. Die eindproduk is stampvol dansvloere en natuurlik stringe treffers wat die hart vuurwarm laat klop, terwyl die voete aanhou jeuk.

Die Klipwerf orkes woon en werk steeds tussen die blou berge en die blommeprag wat hul musiek inspireer. Die groep bestaan tans uit vier orkeslede. Kobus Visagie, wat die klawerbord speel, is ‘n plaasboer in die omgewing van Calvinia. Gené van Niekerk, wat ook klawerbord speel, is ‘n boervrou in die hartjie van die Boesmanland en die enigste roos tussen die dorings. Die kitaarspeler Willie Burger werk vir Telkom te Vredendal, terwyl Jonney Dreyer wat die tromme speel, n sakeman en boer van Kliprand in Namakwaland is

Hantam Nostalgie Volume 1 is net nog ‘n bewys waarom Klipwerf al goed op pad is na hul halfeeu van musiek maak wat enige langpad korter sal maak. En enige muurblommetjie die dansvloer met vreugde en vrolike voete sal laat aandurf. (Vonk Musiek)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.