Hantam-unplugged- Klipwerf-Orkes

Hantam unpluggedHoewel die Klipwerf-Orkes sekerlik die gewildste orkes sekerlik die gewildste orkes in die land is, het hulle ook al onder kritiek deurgeloop omdat hulle gereeld van elektroniese instrumente gebruik maak, en hul musiek nie werklik as Boeremusiek geklassifiseer kan word nie.

Nou het hulle met iets heeltemal nuuts vorendag gekom; ‘n album met die gepaste naam Hantam unplugged, waarop hulle van niks anders as akoestiese instrumente gebruik maak nie.  Die orkeslede vir hiedie album is die oorblywende stigterslid Kobus Visagie op trekklavier, Gené van Niekerk, ook op trekklavier, Willie Burger op kitaar en Jonny Dreyer op tromme. Die vraag is nou net of hierdie album hul kritci twee keer sal laat dink.

Die eerste ses snitte op die album is Kobus se eie komposisies, en dit sluit die bekende Boesmaland in, wat natuurlik ‘n groot treffer vir Worsie Visser was, asook onder meer Nicol se vastrap, Kallie Klip se wals en Stofskop. Klipwerf het nog altyd internasionale treffers op hul albums ingesluit, en die een wat hierdie keer aan die beurt kom, is Sweet Maria, wat weliswaar hier ‘n treffer vir Gert Potgieter was, maar deur die bekende Duitse orkesleier Bert Kaempfert gekomponeer is.  Hierdie opname klink nie heeltemal so goed soos die oorspronklike een nie.  Die Soutpansberg-setees is ‘n baie bekende Boeremusiek-komposisie, en die mondfluitjie op hierdie opname klink baie goed.  ‘n Mens kan nie dink dat Loslappie deur wat ‘n tradisionele orkes genoem kan word, gespeel kan word nie, maar dit klink nie sleg nie.  Die Kalfiewals is natuurlik ook ‘n groot gunsteling onder Boereorkeste, en daarom is dit seker reg dat Klipwerf dit ook ingesluit het. Suikerbossie het geen bekendstelling nodig nie; dit is seker een van die heel bekendste volksliedjies. Ver in die ou Kalahari is so bekend dat dit ook as ‘n volksliedjie beskou kan word. Dit word as “tradisioneel” beskou, wat nie heeltemal die waarheid is nie.  Die komponis was Danie Pretorius, en dit is ‘n skande dat hy nie die erkenning kry wat hy verdien het nie. Hierdie saak moet dadelik reggestel word. Daar kom hy aan is nog een van Kobus se eie komposisies. Outa in die langpad is baie bekend, en is al deur verskeie orkeste opgeneem, maar ‘n mens wonder of die titel daarvan politiek korrek is. Rooispan is eintlik niks anders as die bekende Battle hymn of the Republic nie, en die laaste snit, Wipneusie, is nog ‘n baie bekende Boeremusiek-komposisie.

‘n Interessante projek waaraan Klipwerf onlangs deelgeneem het, was die televisieprogram Jam Sandwich op SABC 2, waarin musikante van uiteenlopende aard bymekaarkom en ‘n liedjie opneem. Klipwerf het met Jack Parow saamgespan en Dans met my saam opgeneem. Sal Klipwerf dalk die moed hê om hierdie snit by hul volgende album in te sluit?

Om terug te keer na hierdie album; dit is dalk een van Klipwerf se bestes nog, juis omdat hulle net van akoestiese instrumente gebruik gemaak het. Dit is  natuurlik ‘n ope vraag of hul kritici met ‘n  oop gemoed daarna sal luister, maar hulle moet maar self besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Ockie van Rensburg ·

Klipwerf is ‘n genot om na te luister, elektronies of nie. Waaroor die bohaai, die musiek word elektronies opgeneem en jy luister na die musiek met elektroniese apparaat. Klipwerf bly ‘n bobaas Boereorkes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.