Hart van glas

Coenie de Villiers

“Hart van Glas is ongetwyfeld nie net die Afrikaanse CD van die jaar nie, maar ook een van die heel beste Suid-Afrikaanse CD’s van 2011. De Villiers oortref homself met sy nuwe musiek, waarvan die klank groots maar terselfdertyd subtiel is, en lirieke waarvan die poëtiese trefkrag nie hul gelyke in Afrikaanse musiek het nie.” – Theunis Engelbrecht, LitNet.

“Dis nou maar net ‘n feit dat De Villiers poësie sing. Hier is werklik ‘n album waar weemoed sag uit die liedere klim, harte van glas kan laat versplinter en antwoorde uit oeroue hars kan laat ontspring …” – Mariana Malan, Die Burger.

Ná meer as drie jaar keer Coenie de Villiers terug met ‘n oorspronklike ateljee-album van wêreldgehalte. Hart van Glas omvat veertien snitte wat weer eens bewys dat dit onmoontlik is om De Villiers se skeppende vermoëns in ‘n blik te druk: daar is ‘n skeut jazz; hy span kragte saam met nuwe, alternatiewe kunstenaars; bewys dat hy die meester van die ballade is; bevind hom gemaklik in die klassieke genre en verras met liriek en musiek wat ‘n nuwe standaard vir Afrikaanse musiek – én Suid-Afrikaanse musiek – daarstel.

Die produksieleiding en verwerkings word behartig deur Jaconell Mouton, inmiddels ook musiekregisseur vir Herman van Veen in Europa. “Ek het ‘n groot respek vir Jaconell se talent, en kon nie glo dat dit ‘n debuutproduksie vir haar sou wees nie – sy het reeds met elke sessiemusikant in Suid-Afrika gewerk,” vertel De Villiers. “Sy is eenvoudig ‘n musikale fenomeen!”

Die album is oor etlike maande opgeneem. “Ons het sewe ateljees en ingenieurs gebruik om die regte klank vir die regte verwerking te verseker,” sê Coenie. “Ons het byvoorbeeld die simfonie-strykers in Kaapstad opgeneem. En ja, dis ‘n volle simfonie-strykseksie – die verwerkings was gewoon te spesiaal om dit met minder te doen!”

Verskeie strykverwerkings op die album is gedoen deur die Brits-Amerikaanse regisseur en verwerker Jeremy Lubbock, wat ook die dirigent vir die orkes op die CD was. Hy het drie Grammy-toekennings op sy kerfstok (onder meer vir sy werk met Celine Dion), en het produksies en verwerkings gedoen vir onder andere Michael Jackson, Barbra Streisand, Whitney Houston en Madonna. Lubbock het ‘n Oscar-nominasie vir die rolprent The Colour Purple ontvang.

Coenie vertel: “Dit was ongelooflik om saam met Jeremy te kon werk. Hy is een van die ringkoppe in die internasionale musiekbedryf, en hy het ook ‘n pragtige lied vir die album geskryf; ek het die liriek daarvoor gedoen. Die naam daarvan is Ná Soveel Jaar. Hy en Jaconell maak ook ‘n wenkombinasie, en hulle kreatiewe energie was verbysterend.” Ná Soveel Jaar is sekerlik een van die mooiste liedere in ons musiekskat wat die brose verhaal van ou liefde opteken.

Ewe indrukwekkend is die plaaslike en internasionale talent wat aan die CD meedoen. “Die coup was om Jeremy in die ateljee te kry,” sê Coenie met ‘n vonkel in die oog. “Maar dan was dit ook ‘n voorreg om Dave Koz, die Amerikaanse saxofoonspeler as ‘n gaskunstenaar te verwelkom. Ek glo steeds hy is die beste saxofoonspeler ter wêreld en ek is gelukkig genoeg om hom ‘n vriend te kan noem.” Dave Koz speel saam op die snit Die Lied van Hout, ‘n innoverende liriek wat sinspeel op hout se ervaring wanneer ‘n vakman daarmee werk.

Twee formidabele Suid-Afrikaanse divas sing saam op die wiegelied Thula. “Ek het die hoogste agting vir Sibongile Khumalo en Amanda Strydom,” vertel De Villiers, “en om hulle saam op één snit te hoor saamsing, was ‘n eenmalige ervaring.”

Die verrassing van die album – en die een lied wat Coenie nié geskryf het nie – is die welbekende kunslied Heimwee deur S. Le Roux Marais en Van Bruggen waarmee Mimi Coertze dekades gelede groot sukses behaal het. “Ek dink dis die mooiste lied wat nog in hierdie land geskryf is,” meen De Villiers. “Ek dreig reeds jare lank om saam met Jan Blohm te werk, en ek dink sy stem pas perfek by die gees van die lied. As Jan die woorde sing, móét jy hom eenvoudig glo!”

Heimwee weerspieël die interessante vokale kombinasie van De Villiers en Blohm, maar die snit eindig met ‘n verbysterende elektriese kitaarsolo deur Mauritz Lotz. “Mauritz het homself oortref”, sê Coenie. “Sy solo is pure Pat Metheny, en sekerlik een van die mooiste stukke elektriese kitaar wat nóg in hierdie land opgeneem is.”

Die Heuwels Fantasties het Wonder bo Wonder saam met Coenie opgeneem op hulle album Wilder as die Wildtuin, en die ooreenkoms was om dit ook op Hart van Glas vry te stel. “Dit was die perfekte samewerking,” lag Coenie. “Hulle het 50% van die liedjie geskryf, en ek 50%, en ons het dit ook so opgeneem. Ek is ‘n groot aanhanger van hulle musiek. Al is ek die oudste dude met wie hulle nog saamgewerk het, was dit ‘n baie goeie ervaring vir my.”

Die kitaarduo CH2 bestaan uit Corneille Hutton-Burger en Leon Gropp, en hulle het reeds konserttoere saam met Coenie gedoen. “Ons het saam geskryf aan die snit Flamenca, en ‘n mens besef opnuut waarom hulle as van die bestes ter wêreld beskou word,” vertel De Villiers. CH2 het vroeër hierdie jaar hulle afdeling gewen en algeheel derde geëindig in die Six String Theory-kompetisie in Amerika waar musikante van oraloor teen mekaar meeding.

Maar dis met die solo-snitte waar De Villiers se veelsydigheid as skrywer en kunstenaar opval. Die album open met die titelsnit Hart van Glas, waarin hy die weerloosheid van vaderskap onder die loep neem. “Die kort snit Amber is eintlik maar ‘n orkestrale haikoe,” sê Coenie. “Dit was ongelooflik moeilik om lewendig met die orkes op te neem – jy kry net een kans om dit reg te doen!”

Op Reis vertoon Jaconell Mouton se verwerkingstalent om ook ‘n kontemporêre aanslag te laat slaag. “Maar die snit wat sy die graagste wou doen, is die lied Hier by My wat ek seker 25 jaar gelede geskryf het,” glimlag Coenie. “Die ryk orkestrale verwerking herinner aan die werk wat Diana Krall in Parys gedoen het, en dit was suiwer plesier om met die stadige orkesverwerkings te sing. Dis ‘n pragtige nuwe jas vir ‘n ou lied.”

Camera Obscura is ‘n eenvoudige lied met slegs Coenie se stem en Mouton agter die klavier. Die komponis is filosofies: “Eenvoud is die moeilikste ding om te laat slaag – jy kan nêrens wegkruip nie!”

Vir Lucas is ‘n ode aan Coenie se vriend en musiekbroer, Lucas Maree wat in Februarie hierdie jaar oorlede is. “Ons het altyd gaan sterre kyk in die Karoo, en dis van my mooiste herinneringe aan hom. Ek mis hom verskriklik, en wou graag iets ter nagedagtenis aan hom skryf. Maar soos dit nou maar eenmaal met Lucas is, was selfs die herinnering vrolik!” Die liedjie eindig met Lucas self wat vir die laaste lag sorg.

Van die mooiste liriek kom voor in die lied Michelangelo, waarin Coenie die kunstenaar besing wat besig is om die dak van die Sikstynse Kapel te skilder. “Die instrumentale tussenspel is interessant,” vertel hy; “as jy mooi luister, hoor jy instrumente uit die Renaissance, dan die Barok-periode, en dan die Romantiese periode”.

Maar sekerlik die sterkste verhaal is vasgevang in die snit Die Tjellis van Sarajevo. Dit vertel die ware gebeure óm die beleg van die stad Sarajevo, waartydens die tjellis van die stad se simfonie-orkes, Vedran Smailovic, gesien het hoe 22 van sy vriende in ‘n bomaanval omkom. Hy het besluit om die pragtige Adagio van Albinoni vir 22 dae op die stadsplein te speel – een dag vir elke mens wat omgekom het. In die tyd wat hy gespeel het, het daar ‘n skietstaking geheers: “Net musiek kan bomme en skerpskutters stop,” sê Coenie. Die aangrypende verwerking gebruik die oorspronklike Albinoni Adagio as koorgedeelte.

Speellys

  1. Hart van glas
  2. Thula (met Sibongile Khumalo, Amanda Strydom)
  3. Amber
  4. Op Reis
  5. Hier By My
  6. Die lied van hout (met Dave Koz)
  7. Camera Obscura
  8. Vir Lucas
  9. Na soveel jaar
  10. Heimwee (met Jan Blohm)
  11. Michelangelo
  12. Die tjellis van Sarajevo
  13. Flamenca (met CH2)
  14. Wonder bo wonder (met Heuwels Fantasties)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae