Wilhelm Lichtenberg, ’n kardiotorakale chirurg van Kaapstad, ken nie net die kamers van die hart nie, maar sing ook daaroor.
Lichtenberg het onlangs sy stetoskoop vir ’n wyle opsygesit om saam met die internasionaal bekroonde sanger Stef Bos agter die mikrofoon in te skuif. Lichtenberg en Bos het kragte saamgesnoer om ’n nuwe verwerking van Bos se treffer “Taal van my hart” op te neem.
“Taal van my hart” is meer as 20 jaar gelede die eerste keer deur Bos opgeneem. Die nuwe verwerking, behartig deur Riaan Steyn, gee ’n unieke gestalte aan die lied en bring twee wêrelde bymekaar. Bos met sy rasperstem en Vlaamse aksent ontmoet Lichtenberg se suiwer, klassieke tenoorstem om ’n grasieuse samevloei van klanke te vorm. Bos en Lichtenberg word begelei deur ’n aantal strykers en die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugkoor maak ook ’n buiging.
Luidens ’n berig van Vonk Musiek is Lichtenberg van ’n vroeë ouderdom deur sy pa aangemoedig om met sy musiektalent te woeker. Hy het in sy studentejare trompet gespeel in die Vrystaatse Jeug- en Sukovs-simfonieorkes in Bloemfontein. Sowat vyf jaar gelede het hy met sanglesse in Kaapstad begin, waar hy ook privaat as kardiotorakale chirurg praktiseer.
Deur saam met Bos ’n liedje te kon opneem, kon Lichtenberg sy twee passies in die lewe bymekaar bring: die hart en musiek.
“Die hart is nie net ’n fisiologiese noodsaaklikheid nie, maar kan ook simbolies verbind word aan liefde. Wanneer die hart fisiek probleme gee, het jy ’n hartdokter nodig om hom te genees en wanneer emosies hom metafories breek, is woorde van genesing deur musiek nodig,” meen dié hartdokter.
hartsake
die seer van my hart is
hartseer ,
lê drukkend swaar
tog
ek weet
die vol gewig van my liefde vir jou
is hartversterkend