Harte van goud deur Ray Dylan

Die musiekvideo van ‘Seblief volg onderaan die berig. Gewoonlik gebeur dit dat die meer kommersiële Afrikaanse kunstenaars elke jaar ‘n nuwe album vrystel. Daarom is dit effens eienaardig dat Ray Dylan nie verlede jaar sy album Verskietende sterre met ‘n nuwe een opgevolg het nie. Hy het eerder die groep 4 Werke saam met Nicholis Louw, Monique en Elizma Theron gevorm en groot sukses saam met hulle behaal. Hy is egter nou terug met sy jongste album, Harte van goud, en dit lyk asof sy aanhangers uitgehonger was daarvoor aangesien dit dadelik gewild geword het.

Die titelsnit het sommer ‘n baie lekker country-klank; dit is immers ‘n musiekgenre waarin hy uitblink. Dit is skerlik ‘n rede waarom die album so gewild geword het; hopelik sal dit een van die trffersnitte vanaf die album wees. Die twee treffers tot dusver is volgende op die album.

‘Seblief is besig om teen die trefferslyste van die meeste radiostasies uit te klim en dit is presies waarvan Ray se aanhangers hou. Die Arikaanse woorde is deur Sarah Theron en Ernst Kleinhans van Select Musiek geskryf.

Cleopatra is egter ‘n oorspronklike komposisie, wat weer eens presies is wat sy aanhangers wil hê. In Crazy lief vir jou sing hy van sy liefde vir country-musiek, dis net jammer dat hy die woord “crazy” daarin gebruik. My liefde sal jy nooit verstaan nie is ‘n snit wat hy self geskryf het, en ‘n mens wens dat hy meer van sy eie liedjies wil skryf. Hier kom die son is ‘n komposisie van Neil Schoombie saam met Kosie van Niekerk en Ernst Kleinhans, en weer eens is dit ‘n snit waarvan Ray se aanhangers sal hou.

Vat my hand is op die speellys van een van die grootste radiostasies in die land; weer eens is dit een van sy oorspronklike komposisies. ‘n Mens wens hy kan meer sulke liedjies skryf en opneem. Dit is sonder twyfel een van die heel beste snitte op die album. Vir ‘n verandering het Ray nie bekende Engelse snitte op die album ingesluit nie; Pretty little angels is ‘n uitstekende oorspronklike Engelse snit wat hy self geskryf het.

Dan voel ek hoe loop die trane is ‘n pragtige snit waarop Ray sy veelsydigheid as kunstenaar bewys. Die kitaarwerk op Senorita is uitstekend; my gebruiklike kritiek teen die gebruik van oorsese invloede in Afrikaanse musiek geld nie op hierdie snit nie. Ek voel vanaand gaan ek jou liefkry is tot ‘n mate ‘n tipiese Ray Dylan-snit; dit is ‘n bietjie eksplisiet, soos ‘n mens van hom kan verwag. Die kitaarwerk is baie goed, maar ‘n mens wonder of die lirieke nie dalk te gewaagd is nie.

As ‘n mens na die omslagaantekeninge kyk, sien jy dat Ek wil huis toe gaan deur ‘n vriend geïnspireer is; ‘n mens weet egter nie wat die storie agter die liedjie is nie. I’m in love love love again is ‘n oorspronklike komposisie met ‘n country-klank; as dit nie ‘n radiotreffer word nie, sal dit ‘n jammerte wees. Bloedrooi deur is ‘n baie lekker snit met ‘n effense rock and roll-klank wat beslis ‘n treffer kan word. ‘n Mens wonder of die lirieke van Hoe sê ‘n mens vir jou goodbye nie dalk deur sy eie persoonlike ervarings geïnspireer is nie. Hoe ook al, dit is ‘n pragtige snit.

Omdat Ray die skindermedia gehaal het om redes wat hoegenaamd niks met musiek te doen het nie, was dit effens moeilik om objektief na hierdie album te luister. Hoe ook al, ‘n mens kom agter dat hy ‘n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer is en dat hy die sukses wat hy tot dusver behaal het, verdien. Dit is ‘n baie goeie album wat nog lank die trefferslyste sal kan oorheers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Amy ·

Jammer, maar die ou doen nou regtig niks vir my nie. Nie hy of sy stem of sy musiek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.