Hartklop

Pierre Vigoureux

Van die begin af kon mens sien dat Pierre Vigoureux ‘n sanger in sy hart is. Op vyfjarige ouderdom begin hy solo optredes doen by die kleuterskool! Sy ma is sy grootste aanhanger, en het seker gemaak dat hy regdeur sy jong lewe sanglesse geneem het. Sy het ook haar seun op haar knieë aan die Here toevertrou, alhoewel hy geen idee daarvan gehad het nie.

Jare later sou sy ma vir hom vertel van al die gebede wat sy vir hom gebid het, en dat die Here vir haar Jesaja 42 gegee het as ‘n woord oor Pierre se lewe. Vers een lui: “Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak.” En Pierre getuig vandag van die guns wat die Here op sy lewe het.

Pierre se Christelike ouerhuis was nie altyd maanskyn en rose nie. Pierre sê hy is geleer dat “God jou dophou en wag vir jou om droog te maak, sodat hy jou kan bykom.” Hy het grootgeword en skoolgegaan in Brakpan, en in 1993 by die Polisiekollege aangemeld. Hy was ‘n polisieman – in sy woorde “ ‘n gewone ene”. Hy het opleiding ontvang as ‘n kommersiële duiker, en in diens van die polisie bewysstukke en lyke gesoek in die water. Hy vertel dat daar baie tye was waarin hy trauma beleef het en die seer moes verwerk op enige menslike manier wat hy kon. Hy het sy lewe geleef soos hy wou, sonder ‘n werklike verhouding met sy Verlosser.

In 1998 kom hy ‘n Diensjaar vir Christus span teë,en sy hart het geweet hierdie is iets waarin hy betrokke moet raak. Hy het geweet daar moet meer aan die lewe wees as wat hy ken. Daarna het alles net in plek geval – hy het aansoek gedoen om self Diensjaar te kan doen en dit is goedgekeur. Gedurende sy fasilitering van die diensjaargroep se uitreike in 1999, het die polisie se kapelane hom raakgesien en gevra dat hy by hulle moet aansluit. Hy het begin bedien as ‘n geestelike werker onder die polisiebeamptes, en gestudeer vir kapelaan. Dit sou nog 5 jaar wees voordat hy as volwaardige kapelaan in diens van die polisie kon begin bedien. Dit het hom die geleentheid gebied om die Woord van God met polisiebeamptes en gevangenes te deel, en dit het ook vir hom ‘n platform geskep om sy passie vir sang uit te leef.

Nou kan Pierre terugkyk oor sy lewe en sien hoe die Here se genade altyddeur sigbaar was. Ten spyte van vele lewensgevaarlike situasies of traumas, is hy vandag veilig en geestelik heel. Pierre glo in diensbare leierskap, en dit blyk duidelik uit sy lewe. Hy glo die Gees van die Here was deurentyd op hom en het hom beskerm van homself en andere.

Die Here is besig om vir hom nuwe, opwindende deure oop te maak in bediening. Eersdaags stel hy in samewerking met Maranatha Platemaatskappy sy tweede CD “Hartklop” vry – klankgewys laat dit jou hart klop in die modern Afrikaanse idioom, en die lirieke sal verseker jou geestelike hart vinniger laat klop!

“Daar is drie dinge wat ‘n mens nooit moet vergeet nie, al neem die lewe jou ook waar: Bly by Jesus se voete, onthou waarvandaan jy gekom het en onthou die mense wat saam met jou gestap het.” – Pierre Vigoureux

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.