Heartfelt Arena kry bedryf weer aan die gang met ‘groot konsert’

(Argieffoto: Unsplash)

Die gordyn het vroeër vanjaar vir die vermaakbedryf gesak toe die Covid-19-maatreëls weens die wêreldwye pandemie alle kunstefeeste, konserte en byeenkomste wat beplan is vir 2020 in die wiele gery het.

Volgens dié maatreëls mag daar nie meer as 50 gehoorlede by ʼn vertoning toegelaat word nie. Die Heartfelt Arena in Pretoria het egter besluit om dié maatreël uit te daag deur ʼn konsert te reël waar 400 gehoorlede toegelaat sal word.

“Ons kan 4 000 mense akkommodeer, maar dit is uit die aard van die saak buite die kwessie,” sê Altus Janse van Rensburg van AJR Audio and Gear, die arena se produksiemaatskappy.

“Winkelsentrums, restaurante en casino’s het ʼn groot aantal mense wat daar besoek aflê, maar in ʼn groot arena soos Heartfelt moet ons die aantal mense tot 50 beperk. Dit maak mos glad nie sin nie. Ons wil demonstreer dat daar op ʼn ordelike wyse vertonings vir meer as 50 gehoorlede gehou kan word, mits almal in ʼn blok of spasie gespasieer word om te voldoen aan die regulasies rakende sosiale distansiëring.”

Janse van Rensburg voeg by dat alle funksies vir die jaar gekanselleer is weens die Covid-19-maatreëls en dat hulle nou, ses maande later, steeds met leë dagboeke sit.

(Foto: Verskaf.)

“Al ons werk vir hierdie jaar is van die tafel af gevee of uitgestel na volgende jaar met die hoop dat dit dan weer sal kan voortgaan. Maande later het ons steeds nie ʼn uitweg nie. Dit is nie net die kunstenaars wat daaronder ly nie, maar ook kuierplekke, tegnici en vryskutwerkers in die bedryf,” sê hy.

ʼn Vertoning deur die groep Bad Peter en die sangers Muller Brand en Heidi word op Saterdag 12 September in die Heartfelt Arena in Voortrekkerhoogte aangebied.

“Ons het na kunstenaars uitgereik en gevra wie sou kon help. Die meeste van hulle sit ook sonder werk sedert einde Maart.”

AJR Audio and Gear en die Heartfelt Arena stel hul dienste gratis beskikbaar vir die vertoning. “Ons doel is om met die kaartjieverkope genoeg geld in te samel om die kunstenaars wat optree te betaal. Hopelik kan ons met dié inisiatief bewys dat die konsep werkbaar is en dat daar binnekort meer byeenkomste en gesellighede gehou sal kan word, veral met die einde van die jaar in sig,” sê Janse van Rensburg.

“Ons was deel van die #LightSAred-beweging op 5 Augustus vanjaar om bewusmaking te skep vir die vermaakbedryf wat in sak en as is, en ʼn maand later is ons nog steeds net waar ons was.”

Die arena het in Julie vanjaar een van die eerste inry-kerkdienste aangebied met 210 voertuie om te bewys dat ʼn byeenkoms gehou kan word hou sonder gesondheidsrisiko’s.

“Dit was ʼn reusesukses, want die mense was honger om uit te kom. Ons het einde Augustus die Neverland-sirkus in die arena gehad en kaartjies verkoop vir vyf vertonings. Elke gesin het in hulle eie gesinsblok gesit om te voldoen aan die sosialeafstandregulasies en dit het goed gewerk. Dit was baie lekker om die mense se positiewe reaksie te beleef oor hoe ons die maatreëls toegepas het en dat hulle veiligheid in ag geneem is,” sê hy.

Alle Covid-19-protokols sal ook streng gevolg word met Saterdag se konsert. “Ons kaartjieverkope is elektronies en dus kontakloos. Elke persoon wat die geleentheid bywoon, teken ook ʼn teenwoordigheidsregister en temperature word geneem. Daar is geen verskil tussen om hier in te teken of by ʼn restaurant nie,” verduidelik hy.

Kaartjies vir die konsert op Saterdag 12 September kos R120 en is hier beskikbaar. Die konsert sal van 18:00 tot 21:00 aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.