Helené Bester is terug met ʼn nuwe enkelsnit

Helené Bester se liedjie, sal binnekort 'n treffer wees. Foto: Argief.

Helené Bester se liedjie, sal binnekort ‘n treffer wees. Foto: Argief.

Nadat sy omtrent drie jaar gelede ʼn groot terugslag beleef het, is Helené Bester eindelik terug met ʼn nuwe enkelsnit.

Elke dag is ʼn par weke gelede vir die eerste keer op Jubekox bekendgestel, en volgens Helené is dit die eerste stap in ʼn nuwe rigting wat sy voortaan gaan inslaan. Dit is geskryf deur Christiaan Kritzinger en Jake Odendaal het dit vervaardig. Jake het al saam met bekende kunstenaars soos Elvis Blue en Joe Niemand gewerk, en dit is die eerste keer wat hy en Helené saamwerk.

Hierdie snit verskil van Helené se vorige opnames deurdat daar hierdie keer slegs van lewendige instrumente gebruik gemaak is, met geen begeleidingsnitte of sintetiese instrumente nie. Helené het besluit om meer kreatiewe vryheid uit te oefen en haar nuwe album, wat mettertyd sal verskyn, sal ʼn projek wees wat sy op haar eie aanpak, sonder dat enigiemand vir haar voorskryf.

Daar is nog nie ʼn datum vasgestel vir die vrystelling van haar nuwe album nie, maar Elke dag is die tema waarop dit gebaseer sal word. Op hierdie stadium wil Helené eers vasstel hoe die publiek hierdie nuwe enkelsnit gaan ontvang. Sy wil mense hoop daardeur gee; volgens haar is dit ʼn positiewe en inspirerende lied vir almal wat deur moeilike tye gaan. Dit is ook ʼn manier waarop sy dankie wil sê vir almal wat haar bygestaan het toe dit moeilik met haar gegaan het.

Die musiekvideo, wat hieronder te sien is, is nog ʼn manier om almal op ʼn spesiale manier te bedank, en almal wat daarin voorkom, het haar ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.