Helene Bester vier haar 40ste verjaardag

Helené Bester se liedjie, sal binnekort 'n treffer wees. Foto: Argief.

Helené Bester se liedjie, sal binnekort ‘n treffer wees. Foto: Argief.

Vryheidsdag 2016 was vir Helene Bester nie sommer net nog ’n dag nie, want op dié dag het sy haar 40ste verjaardag gevier.

Helene is op 27 April 1976 gebore en het in 1994 matriek aan die Hoër Meisieskool in Springs behaal. Suid-Afrika se eerste volle demokratiese verkiesing het op haar 18de verjaardag plaasgevind.

Daarna het sy in bedryfskommunikasie aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit) gestudeer en haar honneursgraad in radiojoernalistiek verwerf. Tydens haar studentejare was sy ’n lid van die Alabama-studentegeselskap en die Puk-koor.

In 2002 het Sarel Myburgh, die destydse hoof van RSG, haar gehoor en sy het ’n kontrak by een van ons land se voorste platemaatskappye losgeslaan. Haar debuutalbum, Wens, is daarna vrygestel. Hierdie album het treffers soos “Mansmens van my”, waarvoor sy die Afrikaanse woorde geskryf het, asook haar eie komposisies, “Die plaas” en “Pappa” (opgedra aan haar pa, wat die vorige jaar oorlede is), bevat.

Sy het ook bewys dat sy klassieke komposisies kan sing, en op hierdie album het sy ’n Afrikaanse weergawe van Jacques Offenbach se komposisie, “Barcarolle”, ingesluit.

Haar tweede album, Hou van jou, het in 2004 verskyn. Een van die hoogtepunte op die album was ’n duetopname van Nick Taylor se treffer, “Stille rivierstroom”, waarop Mathys Roets saam met haar gesing het. Onder die ander treffers op die album was die titelsnit, asook “25 Desember”. Sarel Myburgh is oorlede nadat Helene se debuutalbum vrygestel is, en sy het “Maatjie mater” ter nagedagtenis aan hom opgedra.

In 2007 het haar derde album, Oorgee, verskyn, en weer eens het dit ’n spul treffers opgelewer, onder meer “Droom en dans”, waarvoor sy die Afrikaanse woorde geskryf het, asook “Soos die winde waai” en “Kom rus ’n bietjie hier,” wat sy saam met Don Kelly geskryf het. Helene het weer eens ’n klassieke snit opgeneem. Hoewel sy ’n tweede (met ander woorde lae) sopraan is, het sy die Georges Bizet-komposisie, “Habanera”, wat eintlik vir ’n hoë sopraan bedoel is, maklik baasgeraak.

Gewoonlik wag ’n kunstenaar totdat hy of sy minstens vyf of ses albums uitgereik het voordat daar ’n trefferversameling oorweeg word, maar Helene het dit gedoen nadat sy drie albums vrygestel het. Al die treffers wat op haar vorige albums voorgekom het, het hierop verskyn, asook twee nuwes, naamlik “10 munte” en “Ek wou jou gesoen het”, wat onderskeidelik deur Johan Oberholzer en Neil Schoombee en Sarah Theron geskryf is en treffers uit eie reg geword het.

Teen die tyd dat haar volgende album, Tussen die lyne, in 2012 vrygestel is, was Helene by ’n nuwe platemaatskappy. Sy het ook saam met nuwe liedjieskrywers begin werk. Rudi Claase het “Vat die blomme” vir haar geskryf, terwyl Arri Opperman vir die treffer “Iemand om vas te hou” verantwoordelik was.

Helene het ook twee van Gerhard Steyn se komposisies, naamlik “Omgekeer” en “Skildery”, op hierdie album ingesluit, en die duet “Nog nie te laat nie” saam met hom opgeneem. Hierdie snit het op Gerhard se album Brood en melk voorgekom.

Sedertdien het Helene nog ’n enkelsnit, naamlik “Elke dag”, vrygestel, maar dit is nog nie seker wanneer sy weer ’n hele album gaan vrystel nie. Die musiekvideo van hierdie snit word hierby ingesluit:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.