Helmut Meijer verskuif grense met musiek, outobiografie

Helmut Meijer. (Foto: Peartree Photography)

Helmut Meijer is ʼn bekroonde Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger, komponis, sanger en liedjieskrywer wat pas sy jongste enkelsnit getiteld “Sink” uitgereik het.

Die musiekvideo, wat die liriek bevat, is ook bekendgestel en dit is vandag (Woensdag) eerste op Maroela Media te sien. Meijer het die liedjie self geskryf, vervaardig en afgerond.

Die genre van die liedjie word as synthpop beskryf waarvan die 1980’s-groep A-Ha seker die bekendste voorbeeld is.

Die snit is geskep in ʼn besonder uitdagende tyd in Meijer se lewe. Hy het die lied reeds in Mei 2019 geskryf en ʼn opname gemaak, maar dit onlangs eers afgestof.

“In die tyd waarin ons nou leef, is dit moontlik dat die meeste mense dalk voel asof hulle sink terwyl ander toekyk sonder dat hulle iets daaroor sê. Met dié liedjie hoop ek om woorde te gee aan hoe mense voel.

“Vir my was dit geweldige terapie om net te kon uitskree wat ek voel. Net die rou emosie, dat dit voel asof ek sink, en nou is die tyd om te sê hoe jy voel, want bitter baie mense voel presies so,” sê Meijer.

Die wêreldbekende musiekgroep DNA Strings het onder Meijer se leiding tot ongekende plaaslike sukses gestyg. Die groep het duisende liedjies vir plaaslike en internasionale kunstenaars gekomponeer en vervaardig. Hulle albums getiteld El Niño en Nomad het aan Meijer sy eerste Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) besorg.

Meijer, ook ʼn skrywer, leerder en onderwyser van die Oud-Hebreeuse taal, is in 2015 met ʼn koronêre hartsiekte gediagnoseer. Nadat hy drie hartprosedures oor ʼn tydperk van vier jaar ondergaan het, het hy verplig gevoel om sy storie van ʼn “gebreekte hart” in boekformaat te vertel.

“Ek het gevoel dit kan vir menige ʼn lewensbelangrike storie wees, maar eintlik was die motivering om hierdie boek te skryf tweeledig. Aan die een kant wou ek die storie deel van my reis en ontdekking van pure eminensie van die hart. Aan die ander kant wou ek ook my persoonlike ontdekking van die Oud-Hebreeuse taal gedurende my laaste hartprosedure deel,” sê Meijer.

Sy eerste boek getiteld Fractal – A Tale of Three Interventions is onlangs uitgereik.

“Net soos ʼn goeie liedjie, glo ek dat ʼn goeie storie ook by mense se eie verhale moet aanklank vind. Om my storie te skryf was baie terapeuties en het my laat besef dat ʼn eerlike vertelling van ʼn gebroke verhaal soveel mense kan help.”

Fractal – A Tale of Three Interventions is ʼn kombinasie van niefiksie, filosofie en geloof. Dit is ʼn eerlike vertelling van sy lewens- en liefdesreis, suksesse en verliese.

Meijer is in 1978 in Kaapstad gebore en het op Oudtshoorn in die Klein-Karoo grootgeword. Hy het in 1995 begin klavier speel nadat hy sy BA-graad in wetenskap verwerf het. Hy het ook ʼn graad in wetenskap (dierkunde en aardrykskunde) en ʼn meestersgraad in musiektegnologie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf.

Die boek is hier beskikbaar.

“Sink” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die video vir “Sink”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.