Helpende Hand vier hoopdraers van die gemeenskap

Mathys Roets oorhandig die Mathys Roets-toekenning aan Prop. (Foto: Verskaf)

Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as die sanger en liedjieskrywer Prop, en die 18-jarige Edwin Nelson, wat onlangs albei sy bene in ʼn gru-ongeluk verloor het, is Vrydagaand as hoopdraers vereer.

Die Mathys Roets-toekenning is tydens Solidariteit Helpende Hand se konsert, Afrison Liefde In Gestremdheid (LIG) wat by Sol-Tech se Monumentpark-kampus in Pretoria plaasgevind het, aan Prop en Edwin oorhandig.

Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, het by die konsert gesê dat elke mens gawes van God af ontvang het waarmee daar ʼn verskil in die gemeenskap gemaak kan word.

“Die vraag wat jy jou hele lewe moet kan beantwoord, is: Wat het jy wat jy nie van God ontvang het nie? Wat het jy wat nie van jou weggeneem kan word nie, waaroor jy kan roem, wat jou beter of anders maak?

Hannes Noëth oorhandig die Mathys Roets-toekenning aan die 18-jarige Edwin Nelson, wat onlangs albei sy bene in ʼn gru-ongeluk verloor het. (Foto: Verskaf)

“Dan moet ons almal sê dat alles wat ons is en alles wat ons het van God alleen af kom. Dit is wat die Woord vir ons leer: Wat jy is en wat jy het, is genoeg. Daarom kan ons vir mekaar sê: ‘As ek kan, kan jy ook’.”

Die Mathys Roets-toekenning word opgedra aan mense met gestremdhede wat ʼn inspirasie vir die gemeenskap is.

Helpende Hand het dit in 2022 aan Mathys oorhandig vir sy deursettingsvermoë nadat hy manalleen op ʼn grondpad naby Richmond in die Noord-Kaap gaan staan het en die res van die pad in sy rolstoel aangedurf het. Hulp is ontbied toe veiligheidswagte hom op veiligheidskameras gesien en iemand gestuur het om hom te help.

Nog ʼn hoogtepunt van die LIG-konsert is die fakkelseremonie waartydens die Solidariteit Beweging se verskillende instellings saam met konsertgangers fakkels aansteek om hulde aan persone met gestremdhede te bring.

Prop vermaak die gehoor by die Afrison LIG-konsert. (Foto: Verskaf)

“Mense met spesiale behoeftes moet erkenning kry omdat hulle waardevolle lede van ons samelewing is, en omdat hulle unieke perspektiewe en talente het.

“Deur hulle te erken, word inklusiwiteit bevorder, wat die fondament is van ʼn regverdige samelewing,” sê Suzette Oosthuizen, Helpende Hand se hoof van sentrums en die nasionale tak vir mense met gestremdhede.

Izelle Els, stigter van die Club 21-leersentrum, en haar seun, Jan-Herman, was ook deel van die fakkelseremonie. Verder is die wenner van Helpende Hand se Sê jou sê-kultuurkompetisie vir leerders met gehoorverlies bekendgemaak en Afrison, hoofborg van die konsert, het ʼn skenking aan Helpende Hand se studiefonds vir gestremde persone gemaak.

Sarina Bosman het as seremoniemeester opgetree en ʼn tolk het deurgaans die kunstenaars se lirieke in gebaretaal getolk. Prop, Drie van die bestes – Mathys Roets, Danie Niehaus en Germandt Geldenhuys – en Vernon Barnard het gaste met treffers soos “Vier seisoene kind”, “Engel”, “Kwaaitjie” en “Stuur groete aan Mannetjies Roux” vermaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.