Herman Kleinhans: ʼn Lewe op die pad, maar op Patensie voel hy tuis

Herman Kleinhans in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Herman Kleinhans in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die Ghoema-benoemde sanger en liedjieskrywer Herman Kleinhans is ʼn besige man. Hy is nie net deel van die musiekgroep TWEE nie, maar is hy ook besig met talle solo-projekte en deesdae skryf hy ook musiek saam met top-kunstenaars soos Bok van Blerk.

Kleinhans vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat tegnologie en vooruitbeplanning die geheim is om sy kalender, wat bykans ses maande tot ʼn jaar vooruit vol bespreek is, te bestuur.

“Dit is ʼn baie groot voorreg,” sê hy oor sy besige skedule. “Ek maak wel seker dat ek tyd inruim vir familietyd. Die lewe gaan oor die bou van verhoudings en ek heg baie waarde daaraan, so ek maak aktief tyd om by my mense uit te kom. Hulle voeg soveel waarde toe tot ʼn mens se lewe, so ek prioritiseer dit.”

TWEE se album, Sirkels, is vir ʼn Ghoema benoem in die kategorie vir beste album deur ʼn duo of groep en hul snit “Patensie” is benoem vir beste komposisie van die jaar. Dié snit is, nes al TWEE se ander liedjies, uit Kleinhans se pen.

“Ek werk maar die beste as ek op my eie is en ʼn glas rooiwyn kan skink. My skryfproses is nie so romanties soos baie mense sou wou hê dit moet wees nie. Baie keer gebeur dit dat ek net iets op die hart het en dan vat dit 15 minute en die liedjie is klaar; ander kere kan ʼn liedjie tot ses maande neem om te voltooi.”

Dié gebore en getoë Oos-Kapenaar het ná ʼn lang tyd op Stellenbosch in Januarie verlede jaar verhuis na Patensie, ʼn plek waar hy só tuis gevoel het nadat hy weer besoek daar afgelê het, dat hy besluit het om sak en pak terug te gaan.

“Ek is maar ʼn boorling van die Oos-Kaap. Dit is met trots dat ek kan sê ek is terug daar en ek is mal daaroor. Toevallig is die Oos-Kaap nie die beste plek om met TWEE te toer nie, hulle ken ons nie so goed daar nie. Ek sal ʼn bietjie moet werk daaraan,” lag hy.

Dit is dié plek wat sy Ghoema-benoemde snit inspireer het en hy vertel dat hy inspirasie vir liedjies uit ʼn legio plekke en dinge kan put.

“Ek kan geïnspireer raak wanneer ek net in die verkeer sit of in ʼn winkelsentrum rondloop en sekere goed agterkom, hartseer goed en dinge wat verkeerd is. Dan het ek net nodig om weer in die rustigheid van Patensie te gaan leef om my kop half skoon te kry en dan sal ek uiting gee aan alles wat ek beleef het.”

Al gee hy toe dat hy daarvan hou om op sy eie te werk, het hy ook nou vir die eerste keer musiek saam met Van Blerk geskryf en werk hy ook saam met Dawie de Jager aan die klankbaan vir die nuwe kykNET-dramareeks, Alles Malan, wat in Julie op die kassie begin.

Herman Kleinhans in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Herman Kleinhans in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Ek behartig die titelsnit vir die reeks asook ʼn liedjie per episode. Dit gaan ook dan uiteindelik ʼn album word,” verklap Kleinhans.

Hy vertel hy is gaande daaroor om saam met Maria Viviers, sy sangmaat in TWEE, te werk. “Ons is nie net sangmaats nie, ons is ook vriende en ons is regtigwaar baie geheg aan mekaar. Ek is bevoorreg dat ons ʼn goeie verhouding het. Dit maak dit makliker. Die enigste kwessie wat daar soms is, is om datums te kry wat ooreenstem en dit is ʼn wonderlike issue om te hê!”

Kleinhans vertel dat hy verbasend genoeg nie juis na musiek luister nie. “As ek die langpad aandurf, doen ek dit in stilte. Dit gee my tyd om te dink. Om langpad te bestuur is deel van ons werk en om dit in stilte te doen, is een van my gunsteling dinge. ”

Hy voeg by dat hy een van die dae sy eerste partytjielied gaan uitreik. “Dit gaan interessant wees. Mense gaan definitief daarop kan skoffel en die hele koor sê basies: ‘Ek wil brandewyn drink’. Ek het so gevoel dit mag dalk net my grootste treffer tot op hede wees – dit is mos maar altyd die ironie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.