Herrie oor ‘Beautiful in Beaufort-Wes’

Foto: Facebook/Theuns Jordaan

Foto: Facebook/Theuns Jordaan

Die digter, sanger en liedjieskrywer Gert Vlok Nel het sy Facebook-blad gebruik om sy misnoeë uit te spreek oor die feit dat Theuns Jordaan sy liedjie “Beautiful in Beaufort-Wes” opgeneem het sonder Nel se toestemming.

Dié liedjie, wat op Jordaan se debuutalbum, “Vreemde stad”, in 2000 verskyn het, het die sanger goed gevestig in die musiekbedryf. Nel noem in sy skrywe Jordaan het nooit erkenning aan hom gegee nie, en dat hy ook ʼn minimale bedrag in tantième ontvang het.

Jordaan het pas ʼn amptelike verklaring uitgereik en sê hy is geskok oor Nel se uitlatings.

“Ek is stomgeslaan deur Gert se aantygings en hoe hy die werkinge van die musiekbedryf verstaan. Ons het al voorheen hierdie gesprek gehad en ek het aan hom verduidelik dat die uitbetalings aan hom van die onderskeie platemaatskappye moet kom. In die geval van “Beautiful in Beaufort-Wes” was dit Wildebeest Records en EMI (deesdae deel van Universal Records). Die tantième van die Skouspel-DVD waarop “Beautiful in Beaufort-Wes” is, se verantwoordelikheid lê by Select Musiek wat deesdae deel van Sony is. Die betalings aan liedjieskrywers kom nooit van die sanger wat dit sing nie, maar van die platemaatskappye wat die opnames besit. Dit is hoe dit wêreldwyd en ook hier by ons werk. Wat Samro betref, is dit die uitgewer van die liedjie se verantwoordelikheid om betalings met hulle op te volg, nie die sanger van die liedjie nie. Gert moet dus self vir Samro kontak.

“Ek het nog altyd die grootste respek vir Gert as liedjieskrywer gehad en ek hoop hy kan die geld wat hy glo aan hom verskuldig is by die maatskappye kry wat dit aan hom skuld.”

Nel se skrywe op Facebook lees as volg:

Nee Theuns. Ek het lank genoeg stil gebly oor jou. Laat ons dit mooi verstaan dat ek jou nie haat nie, maar ek sou graag lief vir jou wou wees en ek dink dit is moontlik. 

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Jy het “Beautiful in Beaufort-Wes” gesteel. Jy het my nooit gevra of jy dit kan opneem nie, Ook het niemand wat betrokke was by die opname my gebel en gevra of dit reg is as hulle dit doen nie, Ek het jou daai tyd nie geken nie. Was dit omdat daar gedink is dat ek nee sou sê? Ek glo vandag nog dat in die kamer waarin die kunstenaar is, is daar net een persoon, Ek sou nee sê.

Die eerste keer wat ek jou dit hoor sing het, was by die KKNK in 1999 of 2000. Ek het saam met my oom Goegie afgeloop in die straat verby ʼn groot tent waarop Huisgenoot geskryf was en hy het vir my gesê iemand sing jou song. Dit was jy.

Kort daarna het ek jou op Maak ʼn las op TV gesien waar jy my song sing voor ʼn miljoen mense (ek was daardie aand op Beaufort-Wes) sonder om my naam te noem. Daarna was jy beroemd en natuurlik baie ryker.

Ek was, sonder geld, een aand by daai plein in Potchefstroom (was dit 2000 of 2001?) toe jy jou tweede of derde album bekend gestel het. Jy het jou ander “nuwe” songs gesing, maar die mense het die hele tyd geroep “beautiful”. Ek het dit gehoor. As jy die bekfluitjie begin speel op die song kry jou gesig iets slu.

Ek het vanaf 2001 vir amper 8 jaar weer op Beaufort-Wes gebly. Ek en my familie het daardie jare gekrepeer. Daar is ‘n storie oor jou en my en die Royal Hotel op Beaufort-Wes en ʼn honeymoon couple wat ek wyd en syd vertel, maar ek gaan dit nie nou hier herhaal nie. Safe to say die honeymoon couple het vir die barman gesê hulle het verlief geraak op “Beautiful in Beaufort-Wes” van Theuns Jordaan op ʼn dans in die Transvaal, hulle het getrou op “Beautiful in Beaufort-Wes” van Theuns Jordaan in die Transvaal en hulle het pas by die Royal Hotel in Beaufort-Wes aangekom; hulle kom hou hulle honeymoon in Theuns se tuisdorp. Nie hulle of die barman het geweet dis my song nie, ek was sitting there saying never a word.

Wat het jy my betaal? Niks.

Deur die 18 jare het ek, met ongelooflike moeite, seker maar R8 000 van jou albumverkope altesaam verhaal, van jou labels, sonder enige hulp van jou, alhoewel my song op 500 000 verkoopte albums van jou is. Of is dit meer?

Maroela Media het Gert Vlok Nel genader vir kommentaar en wag op terugvoer.

Lees die volledige brief hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

58 Kommentare

eugene ·

18 jaar later Gert?
As jy kripeer is dit defnitief nie Theuns se sukses se skuld nie
BiBW is ook nie Theuns se sukses nie – hy is

Japie Olivier ·

Ek stem saam. Dis 18 jaar nadat theuns die lied die eerste keer gesing het en nou wil Gert huil daaroor? Ek dink nie die probleem is so seer die geld nie ek dink dis omdat Theuns dalk meer sukses behaal het met die lied. Mens hoor nooit van gert vlok nel nie almal weet van hom maar mens hoor niks. Ek dink die hele ding is n plan om mense te kry om sy musiek te koop en na sy shows te gaan kyk. n hartseer storie wat mense se harte breek

Riana ·

Hi Gert, jy hoor mos nou Theuns se hy moet jou nie betaal, so hoekom kontak jy nie sy platemaatskappye nie, Dit help nie jy prober sy naam nou deur die modder sleep. Moet se, baie mooi liedjie!!

Jan Jooste ·

Gert Vlok Nel moet die saak met SAMRO opneem. Sien ook artikels oor SAMRO wat in Noseweek verskyn het. SAMRO sal vining die tantieme vorder by sangers en almal wat liedjies speel, maar is skynbaar nie so vining met die uitbetaling aan die skeppers nie.

mm ·

Die geld word nie van die sanger in gevorder nie, maar wel van die platemaatskapy. Die tantieme vorder die geld by die platematskapy in. Sien die berig op netwerk24 uitgeryk deur hulle.

mm ·

Dit was al op verskei kere aan Gert Vlok Nel verduidelik. Klink nie of hy die proses verstaan of wil verstaan nie.

MissDemeanor ·

@mm, ja maar dit sal ou Teuns ook niks kos om op die verhoog te staan en aan te kondig ” die volgende liedjie wat ek nou gaan sing is geskryf deur Gert Vlok Nel nie. Ek meen, dit sou net goeie maniere te wees om vir hom daardie bietjie erkenning te gee.

Neels ·

Wat n ongelooflike liedjie! Gert is n man met ongelooflike talent en so ook Theuns. Albei manne het n punt beet en die waarheid, of liewer die oplossing, lê iewers tussen in. Gert voel te na gekom en Theuns voel hy het niks verkeerd gedoen nie….albei is reg. Die verantwoordelike party is die plate maatskappy. Indien Theuns niks verkeerd gedoen het nie dan kan hy seker gerus help om n vergadering belê tussen die platemaatskappy se verantwoordelike persone en Gert?

Waarheid ·

Stem saam, Neels, behalwe dat ek moet byvoeg: die ordentlike en regte ding van Theuns se kant af sou wees om ook van sy kant af vir Gert te kontak. Ek het eens ‘n liedjie van Nianell by ‘n troue gesing en het ‘n backtrax van haar liedjie gemaak en haar toe genader om toestemming te kry. Dis hoe mens dit doen.

Waarheid ·

Ek stem Neels! Hopelik met druk van die publiek, toon Theuns ‘n bietjie menslikheid en ordentlikheid.

Uiltjie ·

Theuns, ek en my wederhelf geniet jou musiek verskriklik! Maar gee tog maar vir ou Gertjie ietsie man, ek meen die ou se mos jy’s nou dik in die pond! Of help sing hom laat hy ook iets kan maak! On thou, gebruik sonder om te vra, gaan ook deur vir steel en my weet wat se Die BYBEL oor steel…

Waarheid ·

Stem heelhartig saam met jou, Uiltjie, behalwe dat ek nie Theuns se musiek geniet nie. Sy uitspraak (elokusie) laat veel te wense oor. ;).

Marie Visser ·

Theuns lyk nooit slu wanneer hy BiBW sing nie, hy lewe hom so in die lied in, mens beleef die emosie in sy stem saam met hom. Hy sing die lied baie beter as Gert, met baie meer emosie, so asof hyself daai ou van Beautiful was/is.

Waarheid ·

Marie, jy val vir Theuns se diep stem. Luister weer-en-weer na Gert en dan bedink jy onbevooroordeeld jou opinie. (Komende van iemand wat nie ‘n aanhanger van enige van die 2 sangers is nie). Maar sowaar Marie, Gert s’n is definitief meer sielvol.

Francien ·

Aggenee Gert nou skielik na soveel jaar????jy moes lankal die regte kanale gevolg het. Nou bietjie laat vir n gehuil

nic ·

Gert my ou maat, as Theuns nie die lied opgeneem het met sy ongelooflike vertolking daarvan nie, was die ou liedjie miskien nog net op papier. Moenie ‘n mooi ding laat suur draai nie, wees eerder dankbaar.

MissDemeanor ·

Hoe sal jy voel as jy jou ouma se beste bobotie resep met jou buurvrou deel, en dan bak sy dit vir die kerkbasaar en almal prys haar, en sy maak asof dit haar eie resep is en publiseer dit in ‘n boek? Ek sou so bietjie vies wees, maar miskien is jy verhewe bo dit?

Wilsie ·

Dit is seker maar net goeie maniere om toestemming te vra of die liedjie opgeneem mag word. Ek verkies Gert se weergawe van die liedjie.

Edward ·

Wilsie. Lyk my ook nie jy verstaan mooi nie. Dit is die platemaatskappy wat daardie onderhandelings doen. Obviously het Gert die song verkoop aan hulle.

MissDemeanor ·

Ja Edward, daar is reels en daar is goeie maniere. Die reels is dat die platemaatskapye moet betaal. Goeie maniere is dat Teuns elke keer wat hy dit sing noem dat Gert die lied geskryf het.

rian malan ·

Moenie worrie Gert, amper almal weet waarvandaan die song kom en dis ‘n ontsaglike beautiful dier daardie. Jammer dat die plate ouens jou so sleg behandel het. Mnr Jordaan moet asseblief sy naam skoon vee deur namens jou daar druk uit te oefen. Die uwe, Trekboer.

Karin ·

Dis ‘n vreemde berig. Hoe kan Gert Vlok Nel, vir wie ek groot bewondering het as liedjieskrywer en sanger, na soveel jare met hierdie aantygings kom? Na my mening het Theuns Jordaan, een van my gunstelingsangers, niks verkeerd gedoen nie. Gert is mos darem nie van gister af in die musiekbedryf nie en weet tog sekerlik hoe die sake werk? Baie jammer dat soiets nou ‘n skadu werp oor twee groot geeste in ons musiekbedryf en oor ‘n besonderse lied. Dalk bietjie suur druiwe van Gert se kant af …

Sakkie ·

So is ons ou volkie maar.. elkeen met sy eie son gebore… ons kon nog nooit verstaan dat dit partykeer meer as een mens vat om iets ‘n sukses te maak nie… en as dit in die proses nou so sou gebeur dat die een meer erkenning kry, dan braak die ander gal… ja wat, daai bloed loop ook maar net so dik in my are… dis maar iets wat mens moet aanleer, erken ander se insette, ieder aan die begin of die einde om een geheelbeeld voort te bring…
Ek het nog nie baie gehoor (eintlik nooit) dat daar van enige mooi liedjie gesê word, oi dis mooi wat XXX geskryf het nie, nee, altyd is dit: heng daai was nou mooi… en daai ou kan darem sing.. Ek glo almal sal nou weet wie is Gert… maar ai, hy sal altyd onthou word as die ou wat 18 jaar wag om Teuns swart te smeer.. en BiBFW sal die liedjie wees wat gesteel is…

Almama ·

Ek wonder ook net – al sing Theuns dit hoe mooi, kan dit naby Gert se eie vertolking daarvan kom nie, en – gaan luister gerus!

ekke ·

Ag asb.. Gert, jy klink effens jaloers ? Theuns sing die liedjie pragtig, na al die jare kry ek nogsteeds hoendervleis. 18 jaar is darem maar baie lank om “uit te hou” voordat jy iets sê? Kom nou, word groot

Harrie ·

Ek het nog altyd geweet dit Gert Vlok Nel die skrywer was van BIBW. Wat is nou die kabaal? Iemand het gesit en slaap klink dit my…

dries ·

Maklik om dit na die plate maatskappye te verwys vir die geld. Nie so maklik as jy nie TOESTEMMING gehad het om dit op te neem nie. Nie n goeie antwoord nie Theuns

mariaan ·

Asseblief neem tog net kennis dat die toestemming deur die platemaatskappye verkry moes word en dat Theuns net instruksie gegee is om dit te sing. Maw as daar nie toestemming was nie is dit die platemaatakappy se skuld. Verder twyfel ek sterk of daar nie toestemming vanaf sy kant was nie, waarom sou hy dan die geld waarvan hy praat wat so minimaal was aanvaar het as hy geweet het hoeveel geld die liedjie maak sou hy mos dadelik die saak verder gevat hwt

Retha ·

Na 18 jaar… ekskuus…. jy spog met jou dronkenskap… skande. Jy sal nooit ooit soos Theuns kan wees nie, so moenie probeer nie. Om hom te beswadder help minder. Jy en jou pa kon mos lanlkal 16 jaar terug gepraat het. Gerieflik nou nè.

Susan ·

sjoe maar die ou is omtrent bitter, ek hoor sommer sy naarheid in sy woorde. Jy sal jou attitude moet verander Gert jy maak jouself die ongelukkigste van almal.

Willem Faure ·

Nee Gert, hoekom ná 18 jaar, wil jy nou skielik die krediet hê? Ek dink nie jy is eerlik met die publiek oor jou motiewe nie en om eerlikwaar te sê, dink ek nie jy sou met jou weergawe van die liedjie ‘n sukses daarvan kon maak nie!

Shondre ·

GERT is soos sommige mense wat aspris voor n kar sal in loop en hoop die bestuurder sal vir die res van sy lewe vir hom sorg. 18 jaar later, nou skielik hoop hy om oornag ryk word!! Hoekom het jy nie dai tyd by Huisgenoot se tent ingestorm en gevra wat nou nie? Sies man!!! Jy behoort jou te skaam om jou vuil wasgoed so voor die hele publiek te was!!! Sekerlik kon jy die situasie op n meer profesionele manier aan geraak het. ALLE RESPEK VIR JOU VERLOOR…

johann cb ·

Gert, ek kan nie verstaan hoekom die groot bohaai na 18 jaar nie. Jy en Theuns is albei volwasse genoeg om die probleem onderling op te los. Om jou nóú tot sosiale media en ander media te wend, grens aan belaglikheid. In 1999 moes julle die kwessie aangespreek het. Theuns het jou liedjie geneem en dit op ‘n pragtige wyse bekend gestel aan ons in Suid-Afrika. Ek glo hy het baie moeite gedoen en jou ook sodoende “op die map” gekry. Dat jy só min daaruit verdien het, is jammer. Iewers het iemand nie sy huiswerk gedoen nie. Hierdie bekgeveg het al klaar lelik geword. As jy só sterk daaroor voel, dagvaar Theuns en sy agente in sy/hulle persoonlike hoedanigheid. Ek voel net dat die media die verkeerde plek is vir diegene van ons wat goeie musiek waardeer en nie gewoond is aan baklei nie. Reël ‘n ontmoeting met Theuns en kom tot ‘n vergelyk. Dit sal julle en ons, die lesers en luisteraars, ook baie gelukkig maak. Ek glo dat julle albei billike mense is en gou ‘n redelike ooreekoms sal bereik. Sterkte aan alle betrokke partye. Groete van ‘n groot Gert en Theuns aanhanger.

Francie ·

Wat ‘n teleurstelling, ek het nog altyd jou liedjies baie geniet.
Hoekom, as julle krepeer van armoede, dat jy dan in ‘n kroeg sit?
Ek dink die regte manier om ‘n probleem te hanteer is om direk met die person te kontak; om op ‘facebook’ modder te gooi skep ‘n baie swak indruk.

mariaan ·

Hy verwys nie dat hy die een is wat baie drink nie maar verwys eintlik dat Theuns is. Lees verder. Hy se dat mense hom as ‘n alcholis en slegte pa sien omdat hulle hom met Theuns verwar. Die man klink of hy strooi praat

Neels ·

Gert, by elke vertoning waar ek was en Theuns BiBW gesing het, het hy genoem dat die song deur jou geskryf is. Wat vir my snaaks is, is dat jy die sosiale media gebruik om jou misnoë uit te spreek. Is dit jaloesie? Hoe gemaak met die ander sangers wat jou liedjies sing?

Heidi ·

Gert, dit is wat dit is. Jy is ‘n legend. Soos Rodrigues. Maar jy’s te laat.

Pote ·

Gert se vraag word nie deur Theuns beantwoord nie- het hul Gert se toestemming gehad om die lied te gebruik

Leon ·

Pote, dink bietjie mooi oor die saak. As daar nie toestemming was van Gert dat Theuns sy lied mag opneem nie, waarvoor het Gert (op sy eie weergawe) R8000.00 ontvang? Van wie af sou hy die geld gekry het? Met wie het hy gestoei (op sy eie weergawe) om die geld te kry? Die sanger van ‘n lied betaal nie royalties nie. Die feit dat hy Theuns nou na 18 jaar in ‘n slegte lig stel is baie jammer.

Waarheid ·

@Leon, die waarheid is: Gert se naam is geregistreer as die musiek- en liriekskrywer van die liedjie. AS radiostasies en kunstenaars eerlik werk, word die inligting van die speel van die lied elke keer opgeteken en deurgegee aan SAMRO en so moet hy betaling daarvoor kry. Maak ook gladnie sin dat daar aangedui is deur SAMRO (soos aan hulle derugegee) dat Theuns dit net 2 keer in die openbaar gesing het nie?! Kom nou….Jy weet nie presies hoe dit werk nie, so pasop om nie hovaardig te wees oor jou ‘kennis’ nie.

Liana ·

Glo nou sal die wêreld weet wie is die digter van Beautiful in Beaufort Wes. Theuns die gentlemen het met ‘n ander man se kalwers geploeg. Jammer vir Gert. 18jr is ‘n lang lang tyd. Glo hy sal ontvang wat hom toekom al is dit net erkenning.

Stephanie ·

Genade toggie, ek lees nou net op netwerk24, dat Karla Du Plessis (Koos Doep se dogter) ook se hulle het nog geen tantieme by Theuns Jordaan gekry het, vir die liedtjies op sy album, waarvan baie haar pa sin was, nie. Is die mense dan regtig so oningelig dat hulle nou ook die skuld voor Theuns se voete wil le?
Ek moet by voeg, dat ek net die hoof opskrif kon lees. Mens moet Netwerk betaal om volledige artikel te kan lees.

Andre ·

Nee Gert jy is so talentvol en so mooi gawe gekry sort die dinge uit dat jy nog baie liedjies vir die sangers kan skryf

Leon ·

@Waarheid, baie dankie vir jou insig wat jy deel. My kommentaar het gegaan oor Gert se stelling dat hy nie toestemming gegee het aan Theuns om sy lied op te neem nie. Volgens beriggewing in Netnuus het Wildebeest toestemming verleen vir die opname van die lied. Ek hoop die twee kunstenaars kan die saak uitsorteer en wens beide van hulle net die beste toe.

Thys ·

Dit was Theuns wat my bewus gemaak het van Gert se bestaan. By Theuns se vertoning het hy gese BiBW is deur Gert Vlok Nel geskryf gaan koop sy CD. Ek het toe Gert se CD gaan koop en ek is Theuns ewig dankbaar dat hy my van Gert bewus gemaak het. Gert skrywe ongelooflike lirieke. Jammer oor hierdie onsmaaklikheid.

Litratuur ·

LT CLOETE het geskryf “Hamster Jukstaposisie 1982
Die digter is ook n dief, hy steel
van elke liggaam en elke gesig
en siel iets, van wie hulle nie heel en bymekaar hou nie roof hy iets vir n gedig!
Mooi woorde,!! Teuns kan maar sing, Gert skryf maar die liedjies alles is tog mooi!! sjoe dit het jou net lank geneem om kapsie te maak, so mooi liedjie kom tot sy reg met die regte person wat dit sing, dankbaar jy het dit uitgedink Gert!! :)

Blommie ·

Kan in elk geval nie vir Teuns verdra nie. Sy arrogansie was nog altyd vir my voor die hand liggend.. mooi so Gert. Genoeg is genoeg. . Moenie toelaat dat enige iemand oor jou loop nie. Moet ook nie toelaat dat die ding jou lewe versuur nie.. the cat is now out of the bag.

Niel du Bois ·

Ek was daar by die KKNK toe Theuns Jordaan beroemd geraak het, deur sy treffende stem natuurlik, maar met onbetwisbare aansienlik hulp van “Beautiful in Beaufort-Wes”. Toe is algemeen aanvaar dat Theuns die skepper is van “Beautiful”. Of dit was omdat hy daardie indruk gewek het, of omdat ons graag so wou glo, en of omdat Theuns nooit daar aan Gert die erkenning gegee het nie, is nie werklik ter sprake nie. Die feit is dat die valse persepsie dat hy die skepper van hierdie besonderse lied was en dus ‘n diep-diep seun en ‘n ware kunstenaar op vele vlakke moes wees, het vir Theuns na sterstatus gekettieskiet.

Daar is ‘n beslise morele verpligting op sangers om van meet af erkenning te gee aan die skeppers van liedjies. Ongeag wat die wetlike bepalings is. Ek het bedrieg gevoel toe ek later uitgevind het dat Theuns NIE “Beautiful” geskryf het nie. Vir my is dit vals. En my aanvanklike openlike bewondering vir hom, erg laat taan.

Daar is natuurlik heelwat meer sulke gevalle – wie weet byvoorbeeld die skepper van “Grassade in die Wind” Stef Kruger is? Hoeveel kunstenaars is daar nog wat nie die nodige erkenning kry nie.

Denise ·

Hoekom nou vir Gert so aanval Theuns is die een wat nie wou he die mense moet weet dis nie sy liedjie nie anders sou hy van die begin die regte ding gedoen het ag nee Theuns is skuldig en ja net Gert kan daai liedjie sing Sal dit nou so erg wees om te se my volgende liedjie is geskryf deur Gert!!!! Eggo speel hier n rol!!!!

Jakkalas ·

Ek sou dink dat indien jy jou liedjies aan die plate maatskappye oorlewer jy toestemming gee dat die lied gesing word deur wie hulle ookal dit aan toevertrou. Die ooreenkoms is dus tussen jou en die plate maatskappye. Jy weet nooit wie dit sal sing mits hulle jou laat weet of jy hoor wie dit sing. Die kunstenaar is aan jou niks verskuldig behalwe dalk deur jou naam te noem indien hy so verkies. Gert jou hêrrie is met die plate maatskappy. Klaar!! Doen jou huiswerk eerste.

Daleen ·

Neil is daar werklik ‘n morele plig op ‘n sanger om te openbaar wie die skrywer is? Wie weet dat Petula Clark se Smile deur Charlie Chaplin geskryf is, Nothing compares to You van Sinead O’Connor deur Prince, Gebed van Dozi deur Koos du Plessis, Islands in the Stream van Dolly Parton en Kenny Rogers deur die Bee Gees, ens, ens. Party mense weet dit en ander nie. Maak dit saak dat min mense weet die temalied van Out of Africa is ‘n Mozart komposisie? Gaan die mense, wat van Theuns se musiek hou, Gert Vlok Nel aanhangers word as hulle uitvind Nel het die lied geskryf? Ek dink die meeste Theuns aanhangers gaan nie van Nel se weergawe van Beautiful hou nie. Wanneer jy jou regte op jou musiek oorteken, is daar daarna ‘n verpligting op elke daaropvolgende kunstenaar wat die lied opvoer om vir elke gehoor te sê wie die komponis is, of is die verpligting net op diegene wat sukses met die lied behaal? Word dit nie op ‘n CD gesê deur wie die liede geskryf is nie? Ek vra maar al hierdie vrae want ek weet self nie wat die antwoorde is nie!?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.