Het oorsese konsertsale, operahuise blinker ligte?

anzel-gerber

Anzél Gerber is ‘n gerekende Suid-Afrikaanse tjellis wat haarself in Oostenryk gaan vestig het. Foto: Anzelgerber.com

Begin ʼn mens ʼn lys maak van Suid-Afrikaanse musici wat nie net in die buiteland woon nie, maar ook daar gereken word as instrumentaliste, pianiste en sangers, besef jy vinnig in hoeveel lande Suid-Afrikaans gebore kunstenaars hulle gevestig het. En soms wonder ʼn mens of die poeletjie hier te lande nie al kleiner word nie.

Anton Nel is professor in klavier aan die Universiteit van Texas in Austin in die VSA. Tessa Uys is al sedert die laat 1960’s in Londen waar sy in 1994 ʼn genoot van die Royal Academy geword het. Ben Schoeman het hom ʼn paar jaar gelede in Londen gevestig waar hy ʼn doktorale tesis voltooi oor die klaviermusiek van Stefans Grové.

Pretty Yende het die wêreld stormenderhand verower en in Milaan se Accademia Teatro alla Scala gaan studeer. Elza van den Heever wat eersdaags die titelrol in Handel se Alcina vertolk in die Santa Fe-operahuis in Nieu-Mexiko, woon in Bordeaux in Frankryk. In Linz, Oostenryk, is Jacques le Roux vinnig besig om hom te vestig as dramatiese Heldentenor.

Koordirigente wat hulle in die buiteland gaan vestig het, sluit in Johann van der Sandt in Bolzano-Bozen in Italië, Rudolf de Beer in Düsseldorf, Duitsland, en Richter Grimbeek in Aistersheim, Oostenryk.

En nou het Anzél Gerber, tjellis en lektor aan die Universiteit van Stellenbosch (US), besluit om haar in Wene, Oostenryk, te gaan vestig.

Gerber, wat pas in Gauteng te sien was in ʼn reeks konserte saam met pianis Ben Schoeman, het ʼn stewige akademiese agtergrond. Sy het in 2008 haar doktorsgraad in uitvoering aan die universiteit van Londen se Goldsmiths College behaal met ʼn proefskrif met die titel “Critical success factors in cello training in a comparative study on cello training in Germany, Russia, the United Kingdom and the United States of America”.

Haar belangstelling in die veld van musiekonderrig vir begaafde leerlinge het gelei tot postdoktorale navorsing oor dié onderwerp in die VSA. Dié studie het sy in 2011 voltooi.

Gerber wil haar toelê op verhoogwerk

Nietemin beëindig sy haar amptelike verbintenis met US aan die einde van Januarie om haar toe te lê op uitvoering – iets wat sy van 13-jarige ouderdom geweet het sy wil doen.

“Die vermoë om myself in musiek uit te druk en die volle spektrum emosies met behulp van die tjello weer te gee, maak my nie net gelukkig nie, maar is ook my manier van kommunikasie met mense,” sê sy. “Dit is ʼn wonderwerk dat musiek mense so intens kan aanraak.”

Dít is wat sy wil doen met haar tjello, om en by in 1820 gemaak deur Antonio Gagliano, wat sy op bruikleen het van die Switserse Maggini-stigting.

In Europa is die geleenthede net soveel meer, sê sy, en voeg by dat haar sopraan-suster, Marelize, al jare lank in Wene woon. “Ons is baie geheg aan mekaar en dit sal wonderlik wees om weer naby aan haar te wees.”

Maar met Wene as basis is Gerber meteens ook soveel nader aan Schoeman met die oog op gesamentlike uitvoerings en opnames. “Nie een van ons hoef ʼn lang en duur reis te onderneem om by mekaar uit te kom nie – wat boonop ʼn pluspunt is.”

pretty-yende

Pretty Yende is ‘n bekende Suid-Afrikaanse operasanger wat hoofsaaklik oorsee naam gemaak het. Foto: Pinterest.com

Getalle bepaal inkomste

Geld kan ʼn mens gewoon nie buite rekening laat nie.

En dit bring die situasie in Suid-Afrika meteens weer in die prentjie. “Omstandighede in Suid-Afrika is net te beperkend om hier ʼn suksesvolle loopbaan te vestig. Die gehore is wonderlik,” het sy en Schoeman pas weer in Gauteng ervaar, “maar die mark is net te klein. Daar is net te min mense wat belangstel in kunsmusiek (as beskrywing vir wat algemeen bekend staan as “klassieke musiek”) op hoë skaal.” En getalle bepaal inkomste.

Sy verwys na die neiging om populêre “klassieke” nommers op te dis as die ware Jakob, na die crossover-neiging wat oral ter wêreld mode is. “Die verskil is net dat ons hier nie die getalle het om musiek op hoë skaal aan die gang te hou nie.”

Coert Grobbelaar, ʼn tenoor wat in 1995 en 1996 in Duitsland gaan studeer het, het later tog in ʼn stadium besluit om terug te keer na Suid-Afrika, juis omdat hy gevoel het dat hy “ʼn sinvolle bydrae in die heropbou van die bedryf hier kon maak”.

Hy was besig om met Truk te onderhandel vir ʼn oudisie toe die destydse minister van kuns en kultuur, Ben Ngubane, die Staatsteater vir ʼn jaar gesluit het. “Dit was ʼn ondeurdagte en katastrofale besluit wat nie deurdink was nie – hoewel ek nog steeds nie oortuig is dat dit met opset en politiek gemotiveerd was nie.”

Werk bedags, sing saans

jacques-le-roux-tenoor

Jacques le Roux in ‘n toneel uit ‘Viva la Mama’. Foto: Jacques-le-roux.at

Sy terugkeer het teen ʼn prys gekom: “Ons is terug by die tyd toe Nellie du Toit, Gé Korsten en ander bedags gewerk en saans gesing het. As ʼn operasanger wat net opera wil sing en niks anders nie, gaan jy ʼn hongerbestaan voer.”

Le Roux het in sy voorgraadse studiejare al besef dat die mark hier te min finansiële sekuriteit bied. In 2007 is hy Duitsland toe – juis omdat Duitssprekende Europa die enigste kultuurgemeenskap ter wêreld is met ʼn “Ensemblekultur” wat beteken dat operahuise uit hul eie “stal” sangers in rolverdelings gebruik. “Jy het dus heelwat sekuriteit met ʼn maandelikse inkomste met medies en pensioen ingereken,” sê Le Roux, “maar ook die geleentheid om nuwe rolle in te studeer.”

Oostenryk is ʼn land wat na sy uitvoerende kunstenaars omsien. Volgens Le Roux verdien hy jaarliks ʼn volle 13de én 14de salaris (teenoor die 72% van ʼn 13de tjek in Duitland) en geniet hy die uitsonderlike belastingvoordele vir musikante – “as jy in drie maande meer as 80 uur saans tussen 19:00 en 22:00 werk, val jy in die minimum-belastingkategorie”. Daarby het jy jaarliks tien weke betaalde verlof waarvan jy verplig is om agt weke tydens die somer te neem omdat teaters dan sluit.

Boonop werk jy daagliks met die beste musici ter wêreld in ʼn uiters produktiewe en kreatiewe omgewing. “Die feit dat jy in Oostenryk ʼn pos as musikus het, dra by tot die aansien wat jy onder musici, agente en konsertorganiseerders het en die moontlikheid om buite jou operahuis nog geld te verdien met konserte is groter,” voeg Le Roux by.

Aan die ander kant gee ʼn mens in die proses heelwat prys: goed soos jou taal, jou familie, jou vriende, jou kultuur, jou humorsin – des te meer as jy alleen is.

Politieke wil en nuwe visie

Om die kunste in Suid-Afrika weer op gesonde voet te kry is subsidie van die staat nodig. Daarvoor is ʼn politieke wil en ʼn nuwe visie nodig.

“Vir Suid-Afrika om ʼn groter aanbod van klassieke musiek te geniet moet meer kunstenaars finansieel geborg word sodat hulle hul tyd en energie kan inploeg in hulle kuns. Die Suid-Afrikaanse publiek moet meer bewus gemaak word van klassieke musiek en musici deur veral radio en televisie,” meen Le Roux. En les bes moet “Suid-Afrikaanse klassieke musici baie meer blootstelling kry en onder die publiek geliefd, bekend en beroemd word”.

Word die poeletjie al kleiner?

Grobbelaar twyfel of die poeletjie al kleiner word. “Ek dink dit is meer ʼn geval dat die poeletjie se karakter verander. Tradisionaliste en puriste kry swaar. Daarom wyk baie uit. Jy moet bereid wees om volgens nuwe reëls te speel. Nie almal sien kans nie en gee pad of gee op,” sê hy met verwysing na die popularisering van musiek waarna Gerber verwys het.

Probleme is legio. Soos die ongeskrewe reël by sekere teaters en lokale dat kunstenaars nie twee jaar agtereenvolgens daar kan optree nie. “Dit maak die min geleenthede wat daar is, net nog minder,” sê Gerber.

Met die knou wat die Johannesburg Philharmonic ʼn paar jaar gelede gekry het, en nou met die hulp van die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes dalk weer kan opstaan, het simfoniekonserte in Gauteng byna van die verhoog verdwyn.

“Ons staan gewis verder as ʼn paar jaar gelede toe daar nie eens een orkes oor was in Gauteng nie,” sê Grobbelaar. “Operas word weer deur orkeste begelei, netjiese dekorstelle word gebou en goeie produksies sien weer die lig. Dié produksies is skaars, gewoonlik een of twee per jaar, maar ook dít groei.”

In die Kaap lyk die situasie beter met gereelde konserte en uitvoerings in Kaapstad en Stellenbosch. Nietemin dien die beperking op aanstellings en bevorderings aan tersiêre instellings die bedryf in geen opsig nie. Dit is nie net uitvoerende kunstenaars wat die wyk neem nie, maar eweso knap akademici.

Met al die geld in die wêreld en met die beste steun denkbaar kan die poeletjie egter net groter word as gehore groei. En gehore groei organies as kinders meer blootgestel word aan kunsmusiek en opera, as musiekwaardering deel word van ʼn leefwyse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

pieterdp ·

Dit is nie net in die vermaaklikguids bedryf nie.
Dit gaan oor die helle sektor. Die SA maak geweldig goeie naam in die wêrld.
Hoe sterk kon SA Ekenomies gewees het as die ANC die blankis, ander ondersteen en gebruik het en nie verlaat het nie.

Leendert ·

Jammer dat die aanvraag nie meer daar is nie, dis soos die land se gesig egter verander het, so het die tradisionele opera en klassieke musiek gehoor verander, meeste stukke is vanuit Europa, of Westers, waarmee die Afrikaan dit moeilik vind om hom mee te vereenselwig. Politieke besluite sal altyd die voorkeer kry. Inheems en vanuit Afrika.

Ons koop maar DVD’s, luister die ou plate.

Opvoeding ·

Dit gaan hier oor opvoeding. Geen dissipline=geen opvoeding. Daar waar jy straataf ry met ‘n blêrende lawaai terwyl jy ook jou sigaretstompies, papiersakke, bottels ens. by die venster uitslinger. Tuis gedra jy jou (soort van) maar naweke maak jy ‘n uitbreek daarvan om rustige dorpies langs ons damme op horings te neem want jy mag mos. Daar is talle van jou soort en niemand doen iets daaromtrent, selfs nie eers op skoolvlak of in die ouerhuis.
Daar kan dus nie verwag word dat daar belangstelling sal wees in enige opbouende sang of musiek soos in die berig gemeld.

Wicus ·

En uit Secunda twee van ons jongmense wat musieknaam maak in die VSA (dirigent en operasanger). Ons teater is besig om te verval.

Ek wonder baie oor die moderne lewe, alles kits, alles weggooi, alles plasties, watter invloed het dit op kultuur. Lyk my dis makliker om net geraas te maak as ‘kunsmusiek’.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.