Heuwels, Appel klim Top-20-leer tot bo

Die Heuwels Fantasties en Appel se jongste enkelsnit, “Nora Vlok”, het twee weke gelede die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree en neem vandeesweek die no. 1-posisie in.

Dié liedjie het van verlede week se sesde plek tot heel bo aan die treffersparade gespring. Die musiekvideo is ook sowat 155 000 keer gekyk.

Die Heuwels Fantasties het aanvanklik die liedjie halfpad geskryf, waarna dit vir Appel aangestuur is om die storie klaar te maak.

“Die liedjie is vir die spreekwoordelike ‘ystervuis in ʼn fluweelhandskoen’-vroue in ons midde,” sê Appel.

Barto se “Impulsief” is nou in die tweede plek en Bernice West se “Lyfie” is in die derde plek.

In hierdie week se Top-20 is daar ses liedjies wat klim, ses wat hul plek verloor, sewe wat onveranderd bly en een wat die Top-20 betree.

  1. Die Heuwels Fantasties & Appel – “Nora Vlok”
  2. Barto – “Impulsief”
  3. Bernice West – “Lyfie”
  4. Barto – “H2Oë”
  5. Dodo Nyoka – “Foto’s”
  6. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
  7. Eloff – “Witblits”
  8. Eloff – “ATKV”
  9. Prop – “Kwaaitjie”
  10. Eloff – “Johnnie Blou”
  11. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  12. Brendan Peyper – “Insomnia”
  13. Riaan Benadé – “Spontaan”
  14. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe bliksem”
  15. Irene-Louise van Wyk – “Ek sê so”
  16. Fatman & Lianie May – “Ditjies en datjies”
  17. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  18. Jan Jan Jan – “Braaf soos ʼn boerboel”
  19. Tasché – “Sal jy vir my wag”
  20.       Snotkop – “Skrik vir niks”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Die musiekgroep Legkaart wil graag met die splinternuwe liedjie getiteld “Nuwe reise” luisteraars terug na die Desembervakansie neem.

Legkaart is oorspronklik van Durbanville in die Wes-Kaap en bestaan uit Anrich Gericke en Werner van der Merwe.

“Daar was ʼn ou motor waarmee ons gereeld op reise gegaan het toe ons leer bestuur het en van die beste tye van ons lewe was binne die vier deure van daardie motor,” meen Anrich.

Die lied is deur Johnny de Ridder (Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar) en Loki Rothman gemeng en vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Afrikaanse musiek was nog nooit so swak nie. Leeg en sinneloos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.