‘Hierdie is die lewe’ vir Francois van Coke

francois-hierdie-is-die-lewe-facebook

Die omslag vir Francois se nuwe album, Hierdie is die lewe.

Ná ʼn onderhoud met ʼn bekende wil mense altyd weet: “So, hoe is hy?”

Wel, Francois van Coke is ʼn nice ou. ʼn Opregte, vriendelike ou wat baie glimlag. Plat genoeg op die aarde vir ʼn lewende legende soos hy.

Ek toets my eie stelling deur hom in die voorportaal in te lig dat “sy grootste aanhanger” vir hom in die ateljee wag. Marco is my kollega se seun en sou my nooit vergewe as ek hom nie laat weet het Francois kom weer by Maroela Media kuier nie. “Marco Brits?” vra Francois. Ek kan amper nie glo dat hy weet wie Marco is uit die duisende aanhangers wat elke dag hulle lojaliteit teenoor hom op sosiale media betoon nie.

Francois en die gevaar

Francois van Coke en Die Gevaar. Foto: Facebook

Hierdie is die lewe

Ons gesels oor ditjies en datjies terwyl Francois geduldig die eksemplaar van sy nuutste solo-album, Hierdie is die lewe, teken wat Marco saamgebring het. Sy meisie s’n ook. Die album het ʼn paar dae gelede op die rakke verskyn.

“Dit verkoop gelukkig goed,” sê Francois verlig. “Ek het einde verlede jaar die eerste enkelsnit vrygestel en die reaksie daarop was baie gemeng. Dit het my so klein bietjie laat stres oor hoe mense Hierdie is die lewe gaan ontvang, want ek was bekommerd dat hulle nie gaan verstaan wat ek met die nuwe album gedoen het nie. Dit is nogal anders as die vorige goed, maar gelukkig met die vrystelling was die reaksie tot dusver 99% positief.” Hy skep asem. “Ek het regtig niks om oor te kla nie.”

Francois is sedert 2003 aktief in die musiekbedryf en sy aanhangers kan nie genoeg van hom kry nie. “Om relevant te bly is iets waaroor ek baie dink,” sê hy beslis. “Eerlikheid in my lirieke is ook belangrik, want dit weerspieël waar ek is in my lewe. Ek probeer relevant bly ten opsigte van waar ons in hierdie tyd is, veral ook hoe dinge in Suid-Afrika en in die wêreld rondom ons is. Ek kyk op na groepe wat dit al vir ʼn lang tyd kon regkry. ʼn Groep soos Red Hot Chili Peppers is ʼn baie goeie voorbeeld van mense wat steeds treffers kan skryf al is hulle 50 jaar oud,” vertel hy.

“Die styl van die album is dieselfde as die vorige een,” sê hy. “Ek vind gereeld dat mense my musiek anders ervaar as wat ek dink dit is, maar dit sal altyd rockmusiek bly. Hoewel daar invloede van pop-musiek is soos The Beach Boys en Roy Orbison, waarna ek baie geluister het toe ons geskryf het, dink ek daar is nog steeds meer as genoeg punk attitude,” lag hy.

Francois-Lauren-Alex

Francois by sy vrou, Lauren en baba Alex Lila. Sy is op 7 November verlede jaar gebore. Foto: Facebook

Skryfproses

Francois sê hy wag nie vir die inspirasie om hom te tref nie. “Vir my is dit nodig om net te sit en dit te doen. Ek skryf heeltyd. As iets opkom in ʼn gesprek met iemand anders of iets in ʼn fliek wat my aanraak, dan skryf ek dit neer. Met hierdie album het ek en my groep, Die Gevaar, in ʼn vertrek gaan sit en ons het musiek geskryf. Veral Jedd (Kossew), die kitaarspeler, en Rudolf (Willemse), die baskitaarspeler, was heeltyd saam met my betrokke in die skryfproses. Hulle sal byvoorbeeld kom met ʼn riff of ʼn ritme, dan sal ek iets daar bo-oor skryf en dan brei ons dit uit van daar af,” sê hy.

“Dit raak beter as jy ouer raak”

Die splinternuwe musiekvideo vir “Dit raak beter”, is saam met die album vrygestel en is reeds amper 40 000 keer op YouTube gekyk. “Ek het nie aanvanklik besef dit gaan net mý gesig op die video wees van die begin tot die einde nie,” lag hy. “Ek het vir die regisseur, Johan Beukes, al die beeldmateriaal wat my ouers maar so oor die jare van my bymekaar gemaak het, gegee en ek dink hy het dit baie goed aanmekaargesit. Johan het ook maniërismes opgelet wat ek nog al die jare het, waaarvan ek self nie eens geweet het nie. Ek is bly dat mense daarvan hou, want ek dink baie mense wat my ouderdom is, kan hulle met my vereenselwig oor die pad wat ek gestap het,” sê hy.

Die tussen-tonele vir die video is by Francois se alma mater, Hoërskool Bellville, verfilm. “Vandat ek uit die skool is, was ek drie keer weer terug daar. Die eerste keer wat ons terug was soontoe het hulle vir ons sertifikate gegee vir uitmuntende prestasie in musiek, en dit was amper 10 jaar nadat ek uit die skool is, so dit was baie vreemd. Ek het goeie herinneringe van hoërskool en die onderwysers was eintlik baie vriendelik met my toe ek teruggaan. En hulle het vir my die saal gratis gegee om daar te skiet!” lag hy.

Francois en Japie

Francois en Japie maak vriende. Foto: Maroela Media/Leonie Bezuidenhout

Roetine

“Ek dink soos wat mense op die video ook sal sien, is my leefstyl en my roetine baie onvas,” vertel Francois. “As ons op die pad is, is dit basies opstaan, ontbyt eet, gaan na die volgende dorp toe, klanktoets, slaap ʼn bietjie, speel die vertoning, kuier saam met die ouens en gaan slaap weer. So dit verskil altyd, want dit hang af waar ek is. Deesdae is dit baie anders as ek by die huis is, want ons het pas ʼn babatjie gehad,” glimlag hy. Alex Lila Badenhorst is op 7 November verlede jaar gebore. “So daar word bottels gemaak en baba gevoer tussenin, en dan oefen ek saam met my groep, so dis nooit ʼn vaste patroon nie. Ek dink nie ek is iemand wat regtig van roetine hou nie, maar partykeer as ek daar inval wanneer ek by die huis is, dan mis ek dit wanneer ek weggaan.”

Ná die onderhoud kom ons kantoorhond Japie [ʼn golden retriever] om die hoek gedraf. “Ek mis sommer vir Ringo,” sê hy en vryf Japie se kop dat sy poot eintlik so skop van die lekkerkry. Ringo is Francois en sy vrou, Lauren, se bulhond, en hy is “soos ʼn ander kind in die huis”. “Ek het hom vernoem na een van die wêreld se mees onderskatte tromspelers, Ringo Starr, wat vir die Beatles gespeel het. My ma het ook altyd gesê ʼn hond se naam moet ʼn ‘r’ in hê, dit het iets te doen met hoe hulle reageer daarop. Of dit waar is, weet ek nie.”

Voor hy vertrek, groet hy ons almal met die hand, en gee vir Japie ʼn laaste bietjie liefde. Ek het mos gesê, dis ʼn plat op die aarde ou dié met ʼn sagte gees. Selfs Japie kon dit aanvoel.

Kyk hier na Francois se video vir “Dit raak beter”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.