Hoe geloofwaardig is Afrikaanse Christelike musiek?

Jan de Wet

Foto verskaf aan Maroela Media

In Psalm 150 vers 6 staan geskryf: “Laat alles wat asem het, die Here prys.”

Nogtans is jare lank geglo slegs ʼn orrel of klassieke instrumente soos ʼn viool of ʼn fluit, is toelaatbaar in die kerk. Toe Jan de Wet, wat in die 1970’s as liedjieskrywer bekendheid verwerf het en ʼn predikant van die NG kerk was, met ʼn kitaar op die kansel geklim het, het die meeste mense hom as ʼn ketter beskou.

Toe die tweede Psalm- en Gesangeboek in 1978 bekendgestel is, is weggedoen met die Halleluja, omdat die liedere wat daarin voorgekom het, “te vrolik” was. Sommige van die liedere, soos “Stille nag”, “Kom herwaarts getroues” en “Die Onse Vader” is in die Psalm-en Gesangeboek ingesluit, maar met nuwe woorde. Boney M het in daardie tyd ʼn reuse treffer met “Rivers of Babylon” gehad; die kerk se amptelike standpunt was glo jy kon daarna luister, maar nie daarop dans nie. Anton Goosen het “Ster van Bethlehem” vir Cora-Marie geskryf, maar die SAUK het dit summier verbied, omdat dit “te vrolik” was.

Teen die 1980’s het dit egter begin verander. In 1984 het twee dinge gebeur wat Afrikaanse Christelike musiek in ʼn nuwe rigting gestuur het. Die kerk het besef jongmense stel nie noodwendig  belang in die soort musiek wat tydens eredienste gehoor word nie en die eerste Jeugsangbundel is bekendgestel. Dit het ʼn paar Halleluja-liedere met nuwe woorde bevat, maar ook ʼn paar ander liedere wat op kampe en tydens jeugsaamtrekke gesing is, maar nooit amptelik deel van die kerk se liedereskat was nie.

Die ander groot verwikkeling daardie jaar was die stigting van die Maranatha-platemaatskappy, wat uitsluitlik daarop gemik is om Christelike musiek te bevorder en versprei. Jan de Wet was uit die aard van die saak die eerste kunstenaar wie se musiek deur Maranatha versprei is; hy was immers die pionier van Afrikaanse Christelike musiek soos ons dit ken.

Ek hou niks daarvan om die woord “gospel” in hierdie verband te gebruik nie. Gospel is ʼn aparte musiekgenre wat deur kunstenaars soos Joyous Celebration gesing word. Hoe ook al, teen die 1990’s het al hoe meer kunstenaars begin om Christelike musiek te sing, onder meer Willie Joubert, Piet Smit, Wanda de Kock en tot ʼn mindere mate, Manuel Escorció.

Teen die middel van die 1990’s het die sangpaar Prophet, wat bestaan het uit Koos van der Merwe en Theo Geyser, die wêreld van Afrikaanse Christelike musiek op sy kop gedraai. Hulle was nie bang om sekere “heilige koeie” (toevallig die titel van een van hul albums) te slag en standpunt in te neem teen sekere verkeerde dinge in die kerk nie. Met “Popoliedjie” het hulle ʼn konsertina gebruik en hulle het nie stilgebly oor mense wat dink Christene is onnosel nie. Hulle het hulle nie laat afskrik deur die genadelose kritiek wat hulle moes verduur nie. Kort tevore het Piet Smit die hele volk laat saamsing met sy “Oorwinningslied”, wat natuurlik op die wysie van “Battle hymn of the Republic” geskryf is.

ʼn Paar kunstenaars het voorheen kommersiële Afrikaanse musiek gesing, maar het ʼn radikale verandering in hul loopbane ondergaan en besluit om net op Christelike musiek te konsentreer. Min Shaw het dit al in die 1970’s gedoen en sekerlik baie aanhangers verloor, maar dit is ook omdat kontemporêre Christelike musiek tot charismatiese denominasies beperk was en ʼn negatiewe konnotasie by enigiemand anders gehad het.

In die 1990’s het Danie Botha sy suksesvolle kommersiële loopbaan agtergelaat en hom op Christelike musiek toegespits. Freda Francis het ʼn paar suksesvolle kommersiële albums vrygestel, maar dieselfde besluit geneem en ironies genoeg nog gewilder geword. Mettertyd het al hoe meer kunstenaars op die lawaaiwa gespring en dinge het belaglik begin raak toe selfs ʼn paar kommersiële kunstenaars, wat al uiters eksplisiete lirieke gesing het, skielik Christelike CD’s begin vrystel het. Dis beter om liewer nie name te noem nie.

Juanita du Plessis het natuurlik ook al ʼn aantal Christelike CD’s vrygestel, maar sy is getroud en sy het ʼn gesin; daarby sal jy nooit in die skindermedia lees dat sy by een of ander skandaal betrokke was nie.  Daar is ook kunstenaars wat Christelike musiek sing nadat hul kommersiële loopbane misluk het, maar hoe minder ʼn mens hieroor sê, hoe beter.

Dis maklik om te oordeel; ʼn mens weet nie watter pad die Here met sekere kunstenaars geloop het en hoe hul verhouding met Hom lyk nie. Al wat ek sê, is jy moet die hele tyd geloofwaardig wees en ʼn mens kan nie die publiek om die bos lei nie. Goed, niemand is volmaak nie, maar as jy die Woord van God deur middel van jou musiek gaan verkondig, moet jy jou daarop voorberei dat mense jou lewe baie fyn gaan dophou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Nikolaas Pienaar ·

1 Korintiërs 14:15 –
“Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.