Hoe groot is U – Jan de Wet

Dit is vanjaar 45 jaar sedert Jan de Wet tot die plaaslike musiek toegetree het.

Hy is as ‘n “ketter” uitgekryt toe hy met ‘n kitaar op die kansel verskyn het terwyl hy nog ‘n predikant in die NG Kerk was, maar hy word vandag beskou as die pionier van kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek.

Nadat hjy ‘n aantal jare lank gekonsentreer het op musiek vir jonger luisteraars het hy onlangs sy jongste volwasse album, Hoe groot is U, vrygestel. Die titelsnit is die baie bekende Hoe groot is U, wat in die Liedboek van die Kerk opgeneem is en ‘n mens dadelik sal laat saamsing. Die volgende snit is sy Afrikaanse weergawe van Matt Monro se treffer The impossible dream.  Hy noem dit Droom die onmoontlike droom, en sy boodskap is dat ‘n mens die verlede agter jou moet laat en met geloof vorentoe moet kyk. Hierdie snit kan dalk ‘n kommersiële treffer word al word dit op ‘n bekende wysie gesing. Nog ‘n bekende snit is Loof Hom met die tromme, wat vandag nog deur oud en jonk gesing word. Seisoene is op die wysie van die bekende Bacarolle van die klassieke komponis Jacques Offenbach.  Die woorde is mooi, maar hiedie wysie is al te veel kere gebruik. In Ek is… sing hy van mense se twyfel oor wie God is, en Jan sê in die eerstepersoonsverteller wie Hy eintlik is. Die lewe is ‘n groot orkes is as’t ware gebaseer op 1 Korintiërs 12, waarin Paulus van een liggaam met baie dele geskryf het; Jan verwys egter na elke mens as  verskillende instrumente  eerder as na  verskillende liggaamsdele.

Jan het al tien Comrades-marathons voltooi, en hy het Lied van die wenner op die wysie van Vangelis se tema uit die rolprent Chariots of fire geskryf. Dit is nie die eerste keer wat hy hierdie snit opneem nie.  Robert Goulet het ‘n groot treffer met How small we are how little we know gehad, en Jan het dit in Afrikaans onder die titel Hoe klein is ons vertaal. Sy boodskap is dat ons nietig is in God se oë, maak nie saak wie ons is nie. Nog ‘n bekende snit is Ek weet verseker, en hy sing die woorde wat voorheen in die Jeugsangbundel voorgekom het. Oorwinnaarsmars-keurspel is geskryf op ‘n aantal klassieke wysies, onder meer March of the Toreadors van  Georges Bizet, uit die opera Carmen en die Groot Mars uit Aïda van Guiseppe Verdi. Die liefde is op die wysie van Plaisir d’amour, wat uit die 18de eeu dateer en onder meer deur Mireille Mathieu en Nana Mouskouri opgeneem is. Die woorde kom byna net soos 1 Korintiërs 13. Die laaste snit op die album is Aandgebed, waarvoor hy, soos met die meeste ander snitte, die woorde geskryf het.

Daar is sekerlik baie mense wat gewonder het wanneer Jan weer ‘n album vir sy volwasse aanhangers  sou vrystel. Hulle sal beslis nie teleurgesteld wees met hierdie nuwe vrystelling nie. Daar is ‘n verskeidenheid van bekende- en nuwe snitte, en die enigste punt van kritiek is dat hy dalk van minder bekende wysies gebruik kon maak. Hoe ook al, Jan is ‘n legende in die Afrikaanse musiekbedryf, en enigiemand wat van sy vorige albums gehou het, sal ook hierdie een geniet.

http://www.youtube.com/watch?v=OTaSJs_B9dg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.