Hoe om dit te maak in die musiekbedryf

sing-vir-god

Argieffoto.

Talle opkomende en beginner-musikante en sangers vra hulself daagliks hierdie vraag af. Die heel belangrikste faktore in dié harde bedryf om te oorweeg as jy dit voltyds wil doen, is om net jouself te wees, uit die boks te dink en so oorspronklik moontlik te wees. Weens die daaglikse toestroming van nuwe kunstenaars, moet jy anders wees. Hanteer jou loopbaan soos enige ander voltydse beroep. Hier volg ʼn paar riglyne wat opkomende sangers en musikante in gedagte moet hou:

  1.  Oefen daagliks met jou instrument tot die beste van jou vermoë. In ʼn strawwe bedryf, met strawwe mededinging, moét jy deesdae die beste wees. Werk aan jou verhoogpersoonlikheid en jou persoonlikheid buite die kollig. Eerste indrukke hou vir altyd. Skep vir jou ʼn karakter of ‘masker’ wat jy dra wanneer jy in die kollig verskyn, maar wees tog jouself en moenie ooit vergeet waar jy vandaan kom nie.
  2. Skryf jou eie oorspronklike musiek soveel as moontlik, hetsy metafories of uit persoonlike ervaringe. Die publiek byt vas aan die waarheid. Kies ʼn styl en hou daarby. Deesdae is daar te veel kunstenaars wat soos iemand anders wil klink. Jy moet jou eie persoonlikheid en gevoelens uit persoonlike ervaring oordra. Daar is talle kunstenaars wat ander kunstenaars na-aap en dit selfs beter doen as die oorspronklike kunstenaar, maar onthou waarom daardie kunstenaar dit eerste reggekry het. Mense kom gou tydens jou optredes agter wie jy werklik is.
  3. Werk aan jou openbare voorkoms. Jou styl, kleredrag en voorkoms moet tog ook aantreklik wees en pas by die musiek wat jy maak. ʼn Rocker trek nie ‘bling’ aan soos ʼn rymkletser nie. Indien nodig vra ʼn stileerder se raad. Bly ook weg van enige politieke- of geloofsdebatte. Die mag van die media kan jou verslind oor een verkeerde stelling of uitlating. Wees altyd statig in ander se geselskap. Om saam jou gehoor tot drie-uur in die oggend te sit en kuier, sal veroorsaak dat jy vinnig aansien verloor. Pasop dat jou reputasie jou nie vooruit loop nie.
  4. Kry vir jou ʼn ordentlike bestuurspan en ʼn vaste agent. Die administrasie en beplanning van jou loopbaan is net so belangrik, indien nie belangriker nie, as die musiek self. Dis waarom hulle dit ‘die musiekbedryf’ noem. Die meester kunstenaars sal beaam dat dit bestaan uit 90% sake en 10% musiek. Sorg dat jy weet wat aangaan in die administrasie en beplanning van jou bedryf. Kry mense wat in jou glo en op wie jy kan vertrou. Die bedryf is vol slaggate wat bestuurders en kansvatter-agente betref.
  5. Sorg dat jou bemarking op internasionale standaard is. Met die tegnologie van vandag, soos Facebook, Twitter, Soundcloud en YouTube, is die wêreld vir jou oop om jou musiek bekend te stel. Wees aktief op sosiale media om jou vertonings en nuwe materiaal te versprei. Kry die regte skakelpersoon wat daagliks met die televisiestasies, gedrukte media en radiostasies kan skakel. Maak seker dat jy in die openbaar gesien word. Met die regte bemarking en publisiteit is die grootste deel van die stryd gewen. Moet nooit opgee nie, glo in jouself en sorg dat jou bestuurspan saam jou glo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.