Hoe om te klink soos Neil Diamond? Maklik, sê Steve Hofmeyr

Steve Hofmeyr. (Foto: Steve Doen/Facebook)

Deur Steve Hofmeyr

Om “Sweet Caroline” te sing, is soos om vrugte te pluk wat laag hang. Almal ken dit, almal wil dit hoor en as hulle dit hoor, wil hulle dit sing. Soos die koorgedeelte nader kom, kan jy al hoor hoe mense inasem vir die groot “PAM PAM PAM”.

Op my konserte is daardie “PAM PAM PAM” al vervang met “Blou Bul bo”. Soveel so, dat ek skares dit só hoor sing het toe Neil Diamond in Suid Afrika was!

“Sweet Caroline” is een van daai go-to-treffers op feeste, op dansvloere, by stadions en by troues. Die lied is dalk nog meer gewild as aansteeklike treffers soos “Stand By Me”, “I Will Survive”, “Every Breath You Take”, “Simply the Best”, “Country Roads” en “We are the Champions”.

Maar my taak is om die nostalgie ʼn ekstra inspuiting te gee deur die essensie van die kunstenaar in te reken. Dit doen ek deur, onder andere, soos hy te klink. Dis redelik maklik as jy ‘n bariton is met ʼn dieperige stem. Ek kan daarom vir Neil Diamond namaak, maar ek is minder geslaagd met Michael Jackson en Taylor Swift.

Daar is meer. In Diamond hoor jy die Joodse, Ierse en Italiaanse aksente van New York. Hy sê nie “tune” (tjoen) nie, maar “toen”, soos in “soen”, Don Vito Corleone-styl.

(Foto: Steve Doen/Facebook)

Soms, tydens sy liedjies, as ek meer soos Steve Hofmeyr klink en minder soos Neil Diamond, maak ek ʼn ligte, geestelike verstelling. Ek visualiseer myself as ʼn klein Joodse mannetjie met ʼn evangeliese boodskap in ʼn ontsaglike, vaderlike stem wat die Statue of Liberty laat snak na haar asem. Daarby saam werk jy met die wete dat hy nooit te hard probeer nie, nooit te sexy probeer wees nie, nooit probeer dans het nie en uiteindelik nooit meer as strelende digter wou wees nie. ʼn Moderne, effe dramatiese, Psalmis. As jy dit alles onthou, kry jy Neil Diamond gou onder die knie.

Dis bykans onmoontlik om enige liedjies voor te trek, maar ek het drie persoonlike gunstelinge. “Shilo”, “I Gotta Feeling” en “I Am I Said”. En dan volg “Holly Holy”, “Longfellow Serenade”, “Cracklin’ Rosie” en “Sweet Caroline”. Op enige dag keer ek die speellys op sy kop. Dan val minder bekendes uit, soos “Play Me”, “Solitary Man” en “Morning Side”. Ek weet ek laat iets uit, nè?

Die Diamond-liedjieskat is miljarde werd, ook in dit wat nie geweeg kan word nie. Soos baie ander, sien ek myself as sy grootste bewonderaar. Sy wysies en lirieke is ingemaal in die tekstuur van my lewe en kreatiewe prosesse. Ek het die legende nog nooit ontmoet nie, maar ek het hom al twee keer lewend hoor sing, een keer in Kaapstad en een keer in Los Angeles, by The Greek Theatre, waar hy destyds Hot August Night gedoen het. Daar het ek die Tree People ontmoet, ‘n klub van destydse jongmense wat, omdat hulle nie kon plek kry nie, teen die bome om The Greek Theater opgeklim het om hul held te sien. Dis daar waar hy hulle van die verhoog af gesien het en gegroet het op 24 Augustus 1974. Hulle is almal ouer as 70.

Neil Diamond, of Die Joodse Elvis, is gebore op 24 Januarie 1941. Hy het in New York grootgeword en hy sing daaroor in “Brooklyn Roads” en in “Beautiful Noise”. Hy was in dieselfde skool as Barbara Streisand. Hulle het as leerlinge nooit gepraat nie, maar hulle het later die duet “You Don’t Bring Me Flowers” (1978) saam gedoen. Twintig jaar later was die lied ʼn nommer twee-treffer in België vir my en Dana Winner.

En só het ek goue staaltjies oor elke lied wat hy sing, van “I’m A Believer” en “Holly Holy” tot “Love on the Rocks” en “Cracklin’ Rosie”. Laasgenoemde was nie ʼn meisie nie, maar ʼn wyn, wat ek beskikbaar gaan hê by my huldeblyk aan hom, Steve doen Beautiful Noise op 29 April 2023.

Het jy geweet?

  • Diamond het al in ander tale ook gesing soos Hebreeus (“Kol Nidre”) en Spaans (“Canta Libre”).
  • Sy liedjies ken geen rakleeftyd nie. Die een is so tydloos soos die volgende. Vat “I’m A Believer”. Dis geskryf in 1966 (toe ek twee jaar oud was) en was weer ʼn treffer in 1997 in die film Shrek.
  • “Song Sung Blue” is gebaseer op Mozart se pragtige 21ste klavierkonsert.

Daar blyk geen einde te wees aan sy invloed nie. Dis daarom ontroerend om te verneem dat hy weens gesondheid moontlik nooit weer sal toer nie. Maar hy is soos ivermektien. Almal het ‘n oomblik waarby niks jou so vinnig gaan opkikker soos die triomfantlike gesange van ene Neil Lesley Diamond nie.

Steve doen Beautiful Noise

Steve Hofmeyr se Neil Diamond-vertoning op 29 April 2023 by die Voortrekkermonument in Pretoria is op dieselfde skaal as wat Neil Diamond dit self sou doen. ʼn Verhoog so groot soos ʼn huis word gebou, met ʼn klankstelsel wat vier verdiepings hoog in die lug toring. Daar gaan ook ʼn orkes met 57 lede saam met Steve op die verhoog verskyn. Jy kan jou kaartjies hier aanskaf.

  • Luister boaan na ‘n volledige klankonderhoud met Steve Hofmeyr. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tong in die kies ·

You go Steve.
Dit gaan ‘n fees wees.
Ek self het met Neil Diamond grootgeword.

Harley Davidson ·

Ek dink Steve is na al die jare nog steeds die beste manlike sanger in Suid-Afrika en sy vroulike eweknie moet Juanita du plessis wees.

piet ·

Theuns Jordaan was die beste manlike Afrikaanse sanger in die land in my opinie. Daar’s beter sangeresse as Juanita maar sy’s baie gewild (goeie liedjies help). So terloops – Steve klink glad nie soos Neil Diamond nie.

houopkruip ·

Stem saam – Steve is een van die bitter min Suid Afrikaanse supersterre wat SA opgelewer het.
Die alewige negatiewe kommentaar jeens hom is so vervelig en afgesaag.
Kyk na die man se rekord.
Gelukkig steur hy hom nie aan hierdie seuntjies nie.

houopkruip ·

Stem saam – Steve is een van die enkele supersterre wat SA opgelewer het.
Die alewige negatiewe kommentaar jeens hom is so vervelig en voorspelbaar.
Gelukkig steur hy hom nie aan hierdie seuntjies en dogtertjies se kommentare nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.