Hollywood: Nuwe ABBA-musiek glo binnekort te hoor; lokprent vir Diana-fliek maak opslae

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Nuwe ABBA-musiek glo binnekort te hoor

Abba. (Foto: Facebook)

Die popgroep ABBA het aanhangers Donderdag geterg met ʼn nuwe webwerf, The ABBA Voyage, waar aanhangers kan registreer om nuwe musiek uit die groep se kraal te hoor.

Dit sal hulle jongste musiek in 39 jaar wees.

Die Sweedse groep sal na verwagting uiteindelik ʼn “hologram-vertoning” aanbied, wat reeds in 2016 aangekondig is. Daar sal glo vyf nuwe liedjies wees wat deel uitmaak van dié vertoning.

Die viertal – Agnetha Faltskog, Anna-Frid Lyngstad, Bjorn Ulvaeus en Benny Andersson – het in 2018 na die ateljee teruggekeer en het toe reeds onderneem om die liedjies later daardie jaar uit te reik.

Die twee liedjies, “I Still Have Faith in You” en “Don’t Shut Me Down”, se uitreiking is egter herhaaldelik uitgestel en die groep beplan nou om vyf snitte uit te reik om aanhangers te bedank vir hulle geduld.

Ulvaeus het vroeër vanjaar bevestig die nuwe musiek sal “definitief” in 2021 uitgereik word.

Die Abba Voyage-webblad is vandeesweek aangekondig. (Foto: Facebook)

Die ABBA Voyage-webwerf is Donderdagoggend van stapel gestuur, met ʼn kriptiese beeld van vier gloeiende planete, saam met die datum 2 September.

Volgens The Sun sal “ABBA-tars” van die sterre in die vertoning verskyn. Hulle sal treffers soos “Waterloo”, “Dancing Queen” en “Mamma Mia” sing.

Die hologramme sal glo van ʼn gebou in ʼn teater in die ooste van Londen in Brittanje af weerkaats word, waar aanhangers ook ʼn dokumentêre-styl rolprent oor die groep se terugkeer sal kan sien.

Die verfilming vir die projek het glo reeds verlede jaar in Londen se Ealing-ateljees plaasgevind.

Lokprent vir Diana-fliek maak opslae

Die eerste lokprent vir die lankverwagte fliek wat op die lewe van Diana, prinses van Wallis, geskoei is, is Donderdag uitgereik.

Kristen Stewart, die aktrise van Twilight-faam, vertolk die hoofrol in die fliek getiteld Spencer. Die fliek sal eersdaags op die rolprentfees in Venesië debuteer.

Die fliek speel in Sandringham af oor drie dae tydens die Kerstyd en handel oor die tydperk toe Diana besluit het om haar huwelik met prins Charles te beëindig.

Pablo Larraín is die regisseur van die fliek. Sally Hawkins, Timothy Spall en Jack Farthing is ook in die rolverdeling te sien.

Kyk hier na die lokprent:

Lief en leed

Eric Stonestreet en sy verloofde, Lindsay Schweitzer. (Foto: Instagram/Eric Stonestreet)

Die Revenge-aktrise Emily VanCamp en haar man, Josh Bowman, het ʼn dogtertjie verwelkom. Sy heet Iris.

“Ons harte is vol,” het VanCamp op haar Instagram-rekening geskryf by ʼn skattige foto van haar babadogtertjie se klein vingers.

VanCamp en Bowman, wat ook in Revenge te sien is, het in 2017 verloof geraak en is in 2018 in die Bahamas getroud.

Intussen het Eric Stonestreet, bekend vir sy rol as Cameron in Modern Family, verloof geraak aan Lindsay Schweitzer.

Nadat hy ʼn verlowingsfoto op sosiale media gedeel het, het talle gebruikers daarop gewys dat hy “veel ouer” as sy verloofde lyk.

“Blykbaar dink baie mense dat ek, as ʼn 49-jarige man, te oud is om verloof te wees aan my amper 42-jarige verloofde. Kyk, sy kan nie help dat sy fantasties lyk op 42 nie en ek kan ook nie help dat ek soos haar oupa lyk nie,” het hy geskerts.

Parvati Shallow en John Fincher saam met hulle dogtertjie, Alma. (Foto: Instagram/Parvati Shallow)

Een van Survivor se gewildste paartjies, Parvati Shallow en John Fincher, het pas aangekondig dat hulle paaie ná ʼn huwelik van vier jaar gaan skei.

Hulle het ʼn driejarige dogter genaamd Alma. Luidens berigte is Shallow die een wat aansoek gedoen het om ʼn egskeiding.

Shallow se Survivor-reis het in 2006 begin toe sy aan Survivor: Cook Islands deelgeneem het. Sy het later aan Survivor: Micronesia deelgeneem en die prysgeld huis toe gevat.

Sy het later tweede gekom in Survivor: Heroes vs. Villains en weer tweede gekom in die 40ste seisoen, Survivor: Winners at War.

Fincher het in 2009 aan Survivor: Somoa deelgeneem. Hoewel die twee nooit saam aan die spel deelgeneem het nie, is hulle in 2013 deur Survivor-ster Ethan Zohn aan mekaar voorgestel.

Bronne: BBC, The Hollywood Reporter, The Guardian, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.