Hollywood: ‘The Little Mermaid’-aktrise sterf, babanuus vir TV-ster

Pat Carroll het op die ouderdom van 95 gesterf. (Foto: Valerie Macon/Getty Images North America/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘The Little Mermaid’-aktrise sterf

Pat Carroll, die aktrise wat die stem was van Ursula in die gewilde animasie-rolprent The Little Mermaid is onlangs oorlede.

Sy is op 30 Julie by haar huis in Cape Cod, Massachusetts, in die ouderdom van 95 aan longontsteking oorlede.

Alhoewel haar beroemdheid hoofsaaklik aan haar rol in The Little Mermaid toegeskryf kan word, het sy ook talle ander rolprente en reekse op haar kerfstok gehad.

Haar eerste amptelike rol was in 1947 in die produksie A Goose for a Gander. Sy het deur haar loopbaan die verhoog sowel as die klein- en silwerskerm met talle groot Hollywood-name gedeel.

Sy was onder meer in Cinderella, Please Don’t Eat the Daisies, Love, American Style, My Three Sons, Police Woman, The Love Boat, Trapper John, Designing Women en ER te sien.

Sy word oorleef deur twee dogters en ’n kleinseun.

Monica Lewinsky stuur versoek aan Beyoncé

Nadat Beyoncé vroeër bevestig het dat sy ’n aanstootlike woord in haar onlangse album, Renaissance, gaan verander, het Monica Lewinsky ’n versoek aan die 40-jarige sangeres gerig om haar naam ook uit een van die sangeres liedjies te verwyder.

Beyoncé. (Foto: Kevin Winter/The Recording Academy/AFP)

Lewinsky se naam kan in Beyoncé se 2013-liedjie “Partition” gehoor word.

“U’hmm, terwyl ons daaroor praat… #Partition,” het Lewinsky op 1 Augustus op Twitter van haar laat hoor.

Die ondeunde liriek waarin Lewinsky se naam voorkom, is na aanleiding van haar vurige verhouding met oudpresident Bill Clinton.

Beyoncé is maar een van talle kunstenaars wat Lewinsky se naam in liedjies gebruik het. Miley Cyrus en Eminem vorm ook deel van die poel sangers wat inspirasie daaruit geput het.

Nadat verskeie Twitter-gebruikers vir haar gevra het waarom sy skielik ongemaklik met die naamgebruik is, het sy bloot geantwoord dat sy vroeër dit met humor hanteer het en dat sy nooit werklik gemaklik daarmee was nie.

Beyoncé het vroeër in warm water beland nadat sy die woord “spaz” in een van haar liedjies, “Heated”, gebruik het.

TV-ster deel babanuus

Gina Rodriguez, die gewilde Jane The Virgin-aktrise, verwag ’n eersteling saam met haar man, Joe Locicero.

Gina Rodriguez verwag ’n eersteling saam met haar man, Joe Locicero. (Foto: Gina Rodriguez/Instagram)

Die 38-jarige aktrise het die nuus in ’n Instagram-plasing gedeel.

“Dié verjaarsdag is anders,” het sy geskryf. In die video wat daarmee saam geplaas is, wys sy en haar man die positiewe swangerskaptoets.

Bekendes soos Adrienne Bailon, Taraji P Henson, Scott Eastwood, Viola Davis en Andy Grammer het die paartjie gelukgewens.

TikTok-sterre in die sop oor musiekspel

Abigail Barlow en Emily Bear het bekendheid op die gewilde video-app TikTok verwerf met die skep van die Unofficial Bridgerton Musical.

Emily Bear en Abigail Barlow het vanjaar ’n Grammy-toekenning vir ‘The Unofficial Bridgerton Musical’ gewen. (Foto: Patrick T. Fallon/AFP)

Die eerste seisoen van die gewilde Netflix-reeks Bridgerton het hulle geïnspireer om musiekspelliedjies daaroor te begin skryf en deel op TikTok.

Hulle het selfs ’n Grammy ingepalm vir dié gewilde musiek.

Die duo se rooskleurige prentjie het egter donker geword toe hulle onlangs deur die stromingsreus gedagvaar is vir die skending van kopiereg.

Dit kom nadat Barlow en Bear sonder Netflix se toestemming ’n massavertoning op Vrydag 29 Julie by die Kennedy Center gehou het. Kaartjies vir die winsgewende vertoning is teen $149 (sowat R2 500) verkoop.

Die dagvaarding dui ook daarop dat die duo ’n soortgelyke vertoning in die Royal Albert Hall in Londen beplan.

“Netflix ondersteun aanhanger-gegenereerde inhoud, maar Barlow en Bear het dit veel verder gevat. Hulle maak wins hieruit sonder formele toestemming om die Bridgerton-intellektuele eiendom te gebruik. Ons het hard probeer om saam met hulle te werk, maar hulle weier om hul samewerking te bied,” het ’n onlangse Netflix-verklaring gelui.

Die derde seisoen van die gewilde reeks het reeds met verfilming begin en sal die liefdesverhaal van Penelope en Colin Bridgerton vertel.

Shakira moontlik deur tronkstraf in gesig gestaar

Spaanse aanklaers wil die musiekster Shakira vir minstens agt jaar tronk toe stuur nadat sy ’n pleitooreenkoms oor beskuldigings van belastingontduiking verwerp het.

Shakira word daarvan beskuldig dat sy die Spaanse belastingowerheid uit €14,5 miljoen op inkomste tussen 2012 en 2014 bedrieg het.

Die bekende popsangeres Shakira. (Foto: Bryan R. Smith/AFP)

Aanklaers in Barcelona sal ook ’n boete van byna €24 miljoen van die “Hips don’t lie”-sangeres eis.

Shakira, wat al meer as 60 miljoen albums verkoop het, het Woensdag 3 Augustus die pleitooreenkoms van die hand gewys. In ’n verklaring deur haar prokureurs is gesê dat sy “absoluut seker van haar onskuld” is.

Daar is ook in die verklaring volgehou dat sy haar onskuld in ’n hof sal kan bewys.

’n Formele verwysing na die hof is nog nie aangekondig nie, daar is ook nog nie ’n verhoordatum vasgestel nie.

Aanklaers sê dat Shakira in 2011 na Spanje verhuis het met die bekendwording van haar verhouding met die FV Barcelona-speler Gerard Pique. Hulle beweer egter dat sy in daardie tydperk aangedui het dat sy in die Bahamas gewoon het.

Haar prokureurs sê egter dat sy eers in 2015 amptelik Spanje toe verhuis het, en dat sy voor dit op verskeie internasionale toere was.

Bahrein skop vas teen Thor: Love and Thunder  

Bahrein het nes talle ander Midde-Oosterse lande besluit om ’n bioskoopverbod op Thor: Love and Thunder in te stel.

Chris Hemsworth. Foto: Angela Weiss/AFP

Dít omdat daar homoseksuele karakters in die rolprent te siene is.

“Die ministerie van inligting het besluit om vertonings van een van die rolprente wat tans in fliekteaters te siene is te staak ter wille van die behoud en beveiliging van die samelewing se morele waardes,” het die ministerie in ’n onlangse verklaring gesê.

Die ministerie het die rolprent nie op die naam genoem nie, maar Thor: Love and Thunder het kort na die verklaring van Bahreinse silwerskerms verdwyn.

Pienkvoet op pad vir Hollywood-egpaar

Die sanger John Legend en sy vrou, Chrissy Teigen, het in ’n Instagram-plasing nuus met hul aanhangers gedeel.

John Legend en sy vrou Chrissy Teigen. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

“Die laaste paar jaar was gevul met emosies, om die minste te sê, maar geluk het ons huis en harte weer kom vul. Ons het nog een op pad,” het Teigen op Instagram gedeel.

Teigen en Legend het in September 2016 hul seuntjie Jack verloor kort nadat hy gebore is.

Die 36-jarige model het destyds die hartseer nuus van wat hul derde spruit sou wees, gedeel.

“Jack, ek is so jammer dat die eerste oomblikke van jou lewe met soveel komplikasies gepaardgegaan het en dat ons nie vir jou die tuiste kon skep om te oorleef nie. Ons sal altyd lief wees vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

En wat beteken die woord “spaz” nou eintlik? Daar word so baie nuwe woorde uigedink en opgemaak deur oorsese sangers/-esse, dat die woordeboek nie meer kan byhou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.