Hollywood: Tish en Billy Ray se paaie skei; Gangnam Style-sanger maak weer musiek

Harry Styles (Foto: Angela Weiss/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Harrry Styles bekoor met nuwe musiek

Styles se splinternuwe enkelsnit, “As it Was”, is op 31 Maart vanjaar vrygestel, iets wat talle Styles-aanhangers na hul fone laat gryp het om dit onder ore te kry.

Die nuwe liedjie is byna 44 miljoen keer gestroom in die eerste week ná sy uitreiking.

Die lied het ook ’n paar rekords verbeter deur die yslike getal luisteraars wat ingeskakel het om die liedjie binne die eerste dag van beskikbaarheid af te laai en te luister.

Radiostasies wêreldwyd het ook nie op hulle laat wag nie, die liedjie het deur middel van radiogolwe 27,2 miljoen luisteraars gelok.

Die nuwe lied is die titelsnit van Styles se derde solo-album, Harry’s House.

Die enkelsnit is boaan die speellys in die Verenigde Koninkryk, Oostenryk, Australië, Switserland, Nederland, Nieu-Seeland, Swede en Kanada.

Tish en Billy se paaie skei … weer

Vir ’n derde keer in ’n 28 jaar lange huwelik wink egskeiding vir Billy Ray Cyrus en sy vrou, Tish Cyrus.

Die ouerpaar van onder andere die 29-jarige sangeres, Miley Cyrus, het reeds in 2010 en weer in 2013 met egskeidingsdokumente in die hand gestaan.

Billy het die voortou geneem deur in 2010 om ’n egskeiding aansoek te doen. Hy het dit egter in 2011 laat vaar en die wêreld laat glo dat hul huwelik aan’t herstel is.

In 2013 het Tish egter weer aan die prokureurs se deure gaan klop. Dié proses het egter ook gesneuwel nadat die egpaar besluit het dat hulle graag die huwelik wil laat werk.

Die vrede het dié keer langer gehou, maar Woensdag het Tish glo weer besluit om hul huwelik tot ’n einde te bring.

Sy het om ’n egskeiding aansoek gedoen in Williamson County, Tennessee. Die rede vir die egskeiding is omskryf as “onversoenbare verskille”.

Sy het ook verduidelik dat sy en die 60-jarige Achy Breaky Heart-sanger al vir langer as twee jaar van bed en tafel geskei is.

Billy en Tish is in 1993 in hul huis se sitkamer in Franklin, Tennessee, getroud. Hul dogter, Miley, het in hul voetspore gevolg deur in 2018 in daardie einste sitkamer ewige trou aan Liam Hemsworth te beloof.

Dit het egter ’n skamele sewe maande geneem vir dié huwelik om op die rotse te loop.

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

Johnny Depp en Amber Heard weer in hof

In Desember 2018 het Amber Heard skokgolwe veroorsaak in ’n meningstuk wat deur The Washington Post geplaas is.

Hierin het sy haar nie net teen mishandeling uitgespreek nie, maar dit ook duidelik gemaak (sonder om sy naam te noem) dat sy self ’n slagoffer van mishandeling was in haar huwelik met die Pirates of the Caribbean-ster, Johnny Depp.

’n Skamele vier dae nadat dié stuk verskyn het, het Disney vir Depp die trekpas gegee en is hy sy rol as kaptein Jack Sparrow kwyt.

Twee maande later het ’n $50 miljoen-dagvaardiging (sowat R724 miljoen) op die tafel geland. Depp het sy misnoeë met Heard se uitsprake duidelik gemaak, wat die twee voormalige eggenote in ’n lastersaak gedompel het.

Heard het hierna nie op haar laat wag nie, sy het ’n dagvaardiging van haar eie van stapel gestuur. Sy het Depp vir $100 miljoen (ongeveer R1 449 miljoen) gedagvaar, aangesien hy na bewering aan die stuur van ’n komplot is om haar naam skade aan te rig.

Die saak het op 11 April in Fair Fax, Virginia, in die hof afgeskop.

Dit is Depp se laaste kans om te bewys dat hy weens Heard se uitsprake ’n verlies aan inkomste gely het.

Die twee se paaie het in 2011 gekruis terwyl The Rum Diary geskiet is. In 2016, ná ’n jaar lange huwelikslewe, het hul verhouding op die rotse beland.

Psy (Frazer Harrison/AFP)

Gangnam Style-sanger maak weer musiek

In 2013 het die Koreaanse sanger, Psy, ’n wegholsukses met sy trefferlied, Gangnam Style, beleef.

Ná ’n vyf jaar lange afwesigheid in die musiekbedryf is hy terug met sy negende vollengte-album.

Op Dinsdag, 12 April, het die sanger op sy Instagram-blad aangekondig dat die album op 29 April wêreldwyd beskikbaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.