Hollywood: Trouklokke lui vir Rita Ora; staatsbegrafnis vir Olivia Newton-John

Marcus Mumford. (Foto: Jamie McCarthy/Getty Images North America/AFP)

Maroela Media bied vir jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Marcus Mumford se skokonthulling

Marcus Mumford, hoofsanger van Mumford & Sons, het onlangs onthul dat hy op sesjarige ouderdom seksueel misbruik is.

“Nie deur ʼn familielid nie en nie in die kerk nie, wat sommige mense se aanname sal wees,” het Mumford aan die tydskrif GQ vertel.

Die 35-jarige sanger het verder verduidelik dat hy die kwessie in die liriek van sy onlangse solo-enkelsnit, “Cannibal”, aanraak.

“Ek het 30 jaar lank vir niemand daarvan vertel nie.”

Hy het verder gesê hy het ná afloop van Mumford & Sons se 2018-toer besef dat hy hulp nodig het.

Staatsbegrafnis vir Olivia Newton-John in Australië

’n Australiese staatsbegrafnis sal vir Olivia Newton-John gehou word.

Newton-John, wat in Engeland gebore is en in Australië grootgeword het, het Maandag op haar plaas in die suide van Kalifornië gesterf.

Olivia Newton-John. (Foto: Facebook)

Die rede vir haar dood is nie amptelik bekend gemaak nie, maar sy het ’n kankerstryd gedurende die laaste 30 jaar van haar lewe gevoer.

“Dit sal ’n vanpaste viering van ’n ryk, vrymoedige lewe wees,” het Dan Andrews, die premier van Victoria, gesê.

Die datum van die begrafnis is nog nie bekend nie.

John Easterling, Newton-John se wewenaar, het in ’n onlangse plasing op sosiale media hulde aan sy vrou gebring.

“In haar moeilikste tye het sy altyd gees, humor en wilskrag gehad om goed in die lig te bring.”

John Travolta, Stockard Channing, Edith “Didi” Conn en Barry Pearl, van die akteurs wat saam met Newton-John in die 1978-trefferrolprent, Grease, te sien was, het ook aan die ontslape aktrise hulde gebring.

“My liewe Olivia. Jy het ons lewe soveel beter gemaak. Jou invloed was ongelooflik. Ek het jou so lief. Ons sal jou weer sien en ons sal almal weer saam wees. Joune van die eerste oomblik dat ek jou gesien het en vir ewig! Jou Danny, jou John,” het Travolta in ’n Instagram-plasing gedeel.

Taika Waititi en Rita Ora trou

Ná ’n kys wat sowat ’n jaar geduur het, het Taika Waititi en Rita Ora trou aan mekaar beloof.

Rita Ora en Taika Waititi is getroud. (Foto: Daniel Leal/AFP)

’n Bron het aan E! News, bevestig dat die twee onlangs getrou het.

Waititi, ’n akteur en rolprentmaker, het tydens die Suicide Squad 2-première vir die eerste keer met die 31-jarige popsangeres aan sy sy in die openbaar verskyn, wat die gerugte dat hulle in ’n romantiese verhouding is, bevestig het.

Meer inligting oor hul troue is nog nie bekend nie.

Disney kraai koning

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Disney+ het Wall Street-ontleders se verwagting van 10 miljoen intekenare oortref. Dié platform het ’n allemintige 14,4 miljoen intekenare gedurende die derde fiskale kwartaal ingeoes.

Die stromingsreus het tans 152,1 miljoen intekenare.

Disney+, Hulu en ESPN+ het nou altesaam 221 miljoen intekenare, wat Netflix se 220,7 miljoen intekenare klop.

Disney het egter nie bekend gemaak hoeveel van dié intekenare deur gebundelde intekeninge kom nie.

Podsending in die sop oor gebruik van bekende naam

Harpo Inc., wat die kletsprogramaanbieder, Oprah, se handelsmerke besit, het Kellie Carter Jackson en Leah Wright Rigueur, die aanbieders van ’n podsendingreeks, Oprahdemics, vir kopieregskending gedagvaar.

Oprah Winfrey. (Foto: Paul Drinkwater/NBC via AP)

Roulette Productions het Oprahdemics in Maart van stapel gestuur en het die eerste seisoen daarvan in Junie tydens ’n regstreekse uitsending by die Tribeca Film Festival in Junie afgesluit.

Harpo Inc. se regspan het aangevoer Oprah se naam is in die titel van die podsending gebruik en dit lyk ook asof sy die een aan die stuur van die program is, wat nie die geval is nie.

Taylor Swift reageer op kopieregsaak

Die bekroonde Amerikaans sangeres en liedjieskrywer, Taylor Swift, het vroeër die week gesê sy het nog nooit van die vrouesanggroep 3LW of hul liedjie gehoor voor ’n saak van plagiaat teen haar aanhangig gemaak is nie.

Taylor Swift. (Foto: Kevin Mazur/The Recording Academy /AFP)

In ’n beëdigde verklaring wat sy by die hof ingedien het, het die 32-jarige Swift haarself verdedig as die skrywer van haar 2014-treffer “Shake It Off”.

Die liedjieskrywers Sean Hall en Nathan Butler het in 2017 aangevoer Swift het die liriek van die 3LW-liedjie, “Playas Gon’ Play”, gesteel, wat hulle geskryf het.

Swift het in haar verklaring aan die hof aangevoer haar lied se liriek is deur haar eie lewe geïnspireer. Sy het bygevoeg die frases “players gonna play” en “haters gonna hate” was goed wat dikwels gesê is terwyl sy nog op skool was.

Die sangeres het voorts gesê sy kon nie 3LW se musiek luister nie, want haar ouers het haar nooit toegelaat om MTV se Total Request Live te luister nie.

Nuus in die Kardashian-wêreld

Die blitsromanse tussen die komediant, Pete Davidson, en die werklikheidster, Kim Kardashian, het tot ’n einde gekom.

Die Kardashian-familie. (Foto: Jean-Baptiste Lacroix /AFP)

Dié twee was nege maande lank in ’n verhouding betrokke.

Khloe Kardashian, Kim se sussie, het op 5 Augustus ’n babaseuntjie saam met haar eks-kêrel, Tristan Thompson, via ’n surrogaat verwelkom.

Die 38-jarige werklikheidster en 31-jarige sportster het reeds ’n vierjarige dogtertjie, True Thompson, saam.

Die naam van die nuwe Kardashian-pienkvoet is nog nie bekend nie.

Bronne: E! News, The Hollywood Reporter, Hollywood Life

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.