Hoofborge van #JouAiG geëer

Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Steve Hofmeyr en Ruhan du Toit. Foto: Pixel Pro

Nadat die #JouAiG-veldtog vroeër vanjaar van stapel gestuur is, het aanhangers van Afrikaans is Groot (AiG) nie op hulle laat wag om dié projek te ondersteun nie. Almal wat kaartjies gekoop het en dus as hoofborg van dié gesogte konsertreeks ingetree het, kan uitsien na ’n verrassing by dié konsert op Donderdag 28 November in Pretoria.

Dié veldtog is saam met Helpende Hand, AiG se amptelike liefdadigheidbegunstigde en gemeenskapsvennoot, aangebied. Die publiek is genooi om kaartjies vir dié AiG-konsert op 28 November teen ’n premium bedrag aan te koop en só as hoofborg van die gesogte konsertreeks in te staan.

Johan C Venter, bemarkingshoof van AiG, het gesê beplanning vir die konserte is reeds volstoom aan die gang en dat konsertgangers wat as hoofborg ingetree het, geëer sal word vir hul bydrae tot die sukses van dié vertonings.

“Die hoofborge sal vandat hulle daar aankom spesiaal voel met hul name wat op die skerms vertoon word en ook in die voorportaal uitgebeeld word. Die hoofborge sal ook geskenkpakke van AiG en Helpende Hand ontvang en eerste toegang tot die Sun Arena geniet,” het hy vertel.

Venter sê AiG verlang van alle #JouAIG-kaartjiehouers om ’n video van hulself in te stuur waarin hulle vertel wie hulle is, byvoorbeeld “Die Steyns van Fochville” of “Die bestuurders van die slaghuis op Citrusdal”, en hoekom hulle gevoel het hulle moet AiG ondersteun. Dié video kan per WhatsApp na 074 579 0809 gestuur word.

Diegene wat as hoofborg ingetree het, word ook versoek om die name van die persone, of hul onderneming se naam, aan AiG te verskaf sodat dit by die konsert vertoon kan word. Dié inligting kan saam met die video na 074 579 0809 gestuur word.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dit is vir Helpende Hand ’n besonderse voorreg om deel te wees van die spesiale #JouAiG-vertoning.

“Die beplanning daarvan het van die begin af gesê hier kom iets spesiaals, iets groots en iets unieks, wat gemeenskapskrag demonstreer. Ons almal weet dat die krag van saam wees beter is as die krag van alleen wees. Ons is opgewonde daaroor en Helpende Hand sien uit na die vertoning van 28 November. Dit gaan ’n aand wees van Afrikaanse musiek, Afrikaanse taal, Afrikaanse samewerking en die vreugde van die krag van ’n gemeenskap,” het Noëth gesê.

Hier is Helpende Hand se video vir Afrikaans is Groot. Onthou om jou #JouAiG-video aan te stuur!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.