Hoop Ongegrendeld: Jou liefde vir koormusiek kan ’n verskil maak

(Foto: Michael Maasen/Unsplash.)

Wonder jy soms hoe jy ’n verskil kan maak in ander se lewens of hulp kan verleen? As jy ’n kaartjie vir die Hoop Ongegrendeld-konsert koop, kan jy die boodskap van hoop deur koormusiek na Suid-Afrika uitdra.

Die wins uit hierdie produksie word deur gevestigde hulporganisasies aan Suid-Afrikaanse boere in droogtegeteisterde gebiede en ander hulpbehoewendes geskenk.

“Musiek het die vermoë om ’n mens se hart op te helder sodat jy weer met hoop kan lewe. Suid-Afrikaners het nodig om te hoor dat daar hoop is,” sê Henning Dafel, koördineerder van die koorproduksie.

Volgens Dafel was dit juis dié gedagte wat gelei het tot Hoop Ongegrendeld – ’n virtuele koorproduksie wat in Desember gestroom sal word.

“In die hartjie van die grendelstaat het ’n groepie entoesiastiese gelowiges besluit om ’n boodskap van hoop deur koormusiek na Suid-Afrika uit te dra. Ons wil mense met musiek bymekaarbring en só wys daar is steeds hoop in hierdie deurmekaar tyd.”

Dit is ’n gemeenskapsprojek waarin lede van die publiek al van Augustus hulle stemme vir die koor kon aanstuur. Hierdie kooropnames word saam met die stemme van sterk, professionele sangers soos Nadine Blom, Babette Viljoen en Olga Leonard, Elme Churr, Franzel de Wet, Alida Stoman en Melindie Pretorius onder leiding van Braam van Tonder verwerk.

Die finale produksie word tussen 16 en 21 Desember 2020 aanlyn gestroom.

Jy kan deel word van hierdie produksie op een van die volgende maniere:

  • Koop ’n kaartjie by die volgende skakel: https://bit.ly/HoopOngegrendeld.
  • Sing in die koor deur te registreer, riglyne te volg en ’n opname voor 12 Oktober by www.ongegrendeld.co.za in te stuur.
  • Gee tegniese ondersteuning in die vorm van opnames, klank of instrumentaal. Stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.