Hoopkonsert weerklink reg oor SA

Drihan Du Plessis se lied “Sing, Hoop, Weerklink” is by die konsert bekendgestel. (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Musiek kan ons saambind sonder dat ons oor ons emosies hoef te praat en op ʼn manier kan ons mekaar hierdeur beter verstaan. Daar ís mense wat hartseer is, maar daar sal weer hoop wees.”

Só sê Drihan du Plessis – skrywer, musikant en argitek – wat danksy ʼn droom die dryfkrag agter Solidariteit Helpende Hand se eerste “Sing, Hoop, Weerklink”-konsert is. Die konsert het op 30 November by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind met sowat 600 gehoorlede wat dit bygewoon het.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets, Ricus Nel en Vernon Barnard het by die geleentheid opgetree en Du Plessis se lied “Sing, Hoop, Weerklink” is ook amptelik bekendgestel.

Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, het tydens die konsert gesê die bedoeling met die inisiatief is om vir Suid-Afrikaners vanuit gestremde persone en mense wat moes aanpas in die samelewing se perspektief te sê: “Ek kan, jy kan ook”.

“Mag die boodskap van hoop weerklink. Die hoop om in God se volmaaktheid diensbaar te kan wees en roepings te vervul.”

Anika Pretorius gesels met Sarina Bosman. (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

ʼn Tolk het deurgaans die kunstenaars se lirieke in gebaretaal getolk, daar was ook onderskrifte op bykomende skerms en mense wat nie die geleentheid kon bywoon nie, het aanlyn ingeskakel vir die regstreekse uitsending.

Die aanbieder was Sarina Bosman van Pretoria FM. Sy sê dit is vir haar lekker om deel van iets groters as net ʼn sangvertoning te wees.

“Ek het nie eers twee keer daaroor gedink nie. Toe Helpende Hand my gevra het om die aanbieder te wees, het ek dadelik geweet ek wil hier wees. Dit gaan ʼn inspirerende aand wees, soos wat dit altyd met Helpende Hand se geleenthede is.”

Bosman sê verder dat die konsert een manier is om bewusmaking rondom mense met gestremdhede te skep.

Demi Lee Moore het treffers soos “Mis, eet, slaap, herhaal”, “Diane” en “Jolene” gesing. (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

“My ma was haar hele lewe lank ʼn onderwyser in buitengewone onderwys. So ek het as klein dogtertjie grootgeword met blootstelling aan kinders met epilepsie en outisme en dit was deel van my leefwêreld. Selfs toe al het ek besef dat hierdie mense net gewone mense is en jy moet hulle ook so hanteer. Hulle het baie groot uitdagings en ʼn mens moet respek daarvoor hê.”

Anika Pretorius, ʼn visueel gestremde student en Paralimpiese 100 m-atleet, was een van die eregaste wat ook tydens die konsert haar ervarings gedeel het. “Ek dink die mooi van vanaand is dat dit oor lewende hoop gaan. Hierdie konsert doen ongelooflike werk om die boodskap van hoop te verkondig.

Pretorius sê verder dat mense van Suid-Afrika nou bemoedig nodig het.

“Hoop wat lewe, wat uitgaan en iets positiefs in ons elkeen aanwakker, is ongelooflik spesiaal.”

Helpende Hand bedank graag die borge wat hierdie geleentheid moontlik maak. Die hoofborge is Virseker en Dapper Media, asook Maroela Media wat die mediavennoot is. Die ander groot borge is Yolande van der Westhuizen Oudioloë, Marius Prinsloo Ortotika en Prostetika en Monument Toyota Wes-Rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Phillip ·

Dit was so lekker gewees. Dankie Maroela Media en Versker en Helpende Hand wat dit moontlik gemaak het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.