Hoor hoe sing my hart

Caroline Bosch sing met haar hart, nie met haar stem nie. Haar derde album, Hoor hoe sing my hart, bewys dit regdeur die veertien liedjies wat dié borrelende blondekop saam met die legendariese musiekvervaardiger Boet Pretorius opgeneem het.

“Elke lied is met passie opgeneem. Dis nie net nog ‘n album nie. Dit is ‘n deel van my. Elke lied vertel sy eie storie. Elke woordjie is uit die hart uit gesing, en elke noot is met gevoel gespeel,” verduidelik Bosch, wie se vorige album, Neusie verby, ook deur Sting Music uitgereik is.

Sy sing al vandat sy kan onthou, vertel die sangeres wat op al op agt jaar haar verhoogdebuut gemaak het toe sy by die Maranatha-sonskynhoekie gesing het. “Ouma vertel my altyd die storie van toe ons Krugerwildtuin toe was. Ek was nog bitterklein. Ek was mal oor Cathy Viljoen en oupa het ‘n tape van haar gekoop en in die kar gespeel terwyl ons wildtuin toe gery het. Ek het elke liedjie saamgesing – oor en oor en oor. Maar die tape wou later nie meer speel nie, want dit was vasgesmelt van die hitte.”

Vir haar jongste album het Bosch en “Oom Boet” letterlik deur honderde liedjies gesif voordat hulle op die finale produk besluit het. “Oom Boet het gaan grou vir ou liedjies waarvan almal al vergeet het. Die nuwe liedjies op die album is uit die pen van Andoline Bezuidenhout.”

Van die ou, amper vergete treffers wat Bosch opgeneem het, sluit in As jy aan eendag glo (Amanda Luyt) en Ek mis jou so (Anneli van Rooyen). Die nuwe skeppings deur die liedjieskrywer Andoline Bezuidenhout sluit in Laat ek jou net liefhê – waarmee die album afskop – en Liefde is ‘n lekker ding asook Jy maak my vry. Laasgenoemde en Ek mis jou so is Bosch se gunsteling-snitte op die album.

Met sangers soos Laurika Rauch en Celine Dion as inspirasie beskryf Bosch haarself as ‘n balladesanger. Sy sing met passie en is glad nie ‘n sokkie-sokkie-sangeres nie. “Ek wil mense se harte raak. As ek deur my liedjies net ‘n verskil in een mens se lewe kan maak, dan het ek berge versit.”

Hoor hoe sing my hart is ‘n skoene-uitskop-album wat musiekliefhebbers met sy hartstogtelike sjarme gaan betower. Caroline Bosch se passie, inspirasie en besielde sangstem is ‘n rariteit in ‘n bedryf waar siellose doef-doef (sonder ‘n warm hartklop) die maatstaf geword het.

Speellys

  1. Laat Ek Jou Net Liefhe
  2. Ek Huil Oor Jou
  3. Hoor Hoe Sing My Hart Net Vir Jou
  4. Waarom
  5. Wie
  6. Ek Mis Jou So
  7. Heyla Heyla
  8. Droom Van My Geluk
  9. Liefde Is ‘n Lekker Ding
  10. Ware Liefde
  11. Jy Maak My Vry
  12. As Jy Dan Eendag Glo
  13. Hoop

‘n Video van Caroline se vorige album Neuse verby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.