Hoor professionele klavierstemmers die slotklank?

Kallie Swanepoel, voorsitter van die SAAPPT stem ’n klavier. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

In 2021 is klavierstemmers skaarser as die spreekwoordelike hoendertande. Vandat stemmers nie meer in Suid-Afrika opgelei word nie, is daar net ’n handvol professioneel gekwalifiseerdes van die ouer garde oor. Hulle is die ware Jakobs wat die wetenskap van akoestiese en estetiese, asook meganiese kennis het om klaviere in ’n japtrap te diens. Die jonger generasie wat as klaviertegnici wil kwalifiseer, moet oorsee vir opleiding gaan soek.

’n Suid-Afrikaanse pianis was onlangs in die nuus nadat sy motor voor sy huis in Pretoria met kosbare klavierstemtoerusting gesteel is. Charl du Plessis het in die Covid-19-afsonderingstyd klaviere, as aanvulling vir sy inkomste, begin stem. Die stemtoerusting van duisende rande is in Duitsland volgens sy spesifikasies gemaak. Charl is volgens Wikipedia een van vyf Steinway-kunstenaars in Suid-Afrika en bekend as klassieke- en jazzpianis.

Die ambag van klavierstem in Suid-Afrika is reeds onder druk omdat die enigste Suid-Afrikaanse opleidingsinstituut hiervoor, die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester, hul opleiding ná 114 jaar gestaak het. Klavierstemmers is sedert 1884 in Worcester opgelei.

Volgens die webwerf van die South African Association of Professional Piano Tuners (SAAPPT) is daar twee stemmers in die Vrystaat (een het intussen verhuis), agt in Gauteng en een in die Wes-Kaap wat nog lede van dié vereniging is. Daar is egter, in die woorde van gesoute klavierstemmers, talle “fly-by-nights” wat van elektroniese toerusting bekend as Electronic Tuning Devices (ETD’s) gebruikmaak.

Hierdie ongekwalifiseerde stemmers wat van ETD’s en internetopleiding gebruikmaak om ’n klavier te stem, is in die eerste plek nie van hul gehoor afhanklik nie. ETD’s is kunsmatige toestelle en kan byvoorbeeld nie soos ’n mens se oor na intervalle luister nie. Dit identifiseer net een noot op ’n slag en kan ook nie die snare in unisone klank (harmonies of gelykluidend) ná mekaar stem nie. Stemmers wat volgens gehoor stem, weet hoe om die stempenne en snare se spanning te manipuleer sodat die groot getal snare (een of meer per noot) se toonhoogte in harmonie is en die klavier so lank moontlik “in stem” bly.

Die stem van ’n klavier is ’n spesiale vaardigheid en ’n goeie stemmer kan ’n klavier só stem dat die instrument ook in klimaatsveranderings stabiel bly. Opleiding by die Pionierskool was drie jaar plus een jaar praktiese opleiding in die klavierfabriek in Wellington waar Otto Bach- en Dietmann-klaviere gebou is.

Dewald van Deventer, ’n gekwalifiseerde klaviertegnikus, vroeër van Bloemfontein en nou van Kemptonpark, was vir sy opleiding na The School of Piano Technology for the Blind in Vancouver in Kanada, juis omdat daar nie opleidingsgeleenthede in Suid-Afrika was nie. Hy het in 2009 ’n BMusHons-graad in klaviervoordrag aan die Odeion Skool vir Musiek (OMS) in Bloemfontein verwerf. Sy opleiding in Amerika was danksy ’n beurs van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) nadat sy intense belangstelling in die stem van klaviere na vore gekom het. Dewald werk landwyd en hou die vlam van klavierstem as vaardigheid hoog. Hy is ook entoesiasties om ander stemmers op te lei.

Volgens die Vancouver Business Journal (9 Maart 2017) is die instituut waar Dewald opgelei is, nou ook gesluit. Die skool het gegradueerdes uit 40 state en 16 lande sedert 1949 as klaviertegnici opgelei. Finansies word as ’n rede genoem vir die sluiting van die skool.

Van die beste klavierstemmers ter wêreld word deur Steinway & Sons, ’n Amerikaans-Europese maatskappy, opgelei. Dit is verstommend om die samewerking tussen ’n pianis en ’n klavierstemmer op die verhoog waar te neem. Stefan Knüpfer van Steinway Oostenryk illustreer in dié video hoe hy in Salzburg die klavier stem waarop die Franse pianis Pierre-Laurent Airmard ’n uitvoering gaan lewer.

(Foto: Verskaf)

Michael Bredenkamp, prinsipaal van die Pionierskool vir Siggestremdes sê daar is verskeie redes waarom met die opleiding van klavierstemmers by die skool gestaak is. Daar was eerstens ’n gebrek aan belangstelling by leerlinge – dit was asof daar neergesien is op die beroep. Rekenaaropleiding het meer aandag begin geniet. Van die skool se kant was dit nodig dat iemand die opleiding moes doen. Onderdele vir klavierstem was duur en om dit aan te hou terwyl daar nie opleiding was nie, was ’n probleem.

“Daar was gesprekke met ’n Kaapse musiekfirma om na opleidingsmoontlikhede te kyk, maar ongelukkig het daar niks van gekom nie. Die aanvraag na klavierstemmers het verminder en dié wat opgelei is, het min werkgeleenthede.”

Die bestuur van die SAAPPT het in 2004 by die South African Qualifications Authority (SAQA) aansoek gedoen om beroepsakkreditasie vir klavierstemmers te vestig wat ’n opleidingsprogram vereis. Die aansoek het nie geslaag nie omdat die handleiding vir die program nie voltooi was nie.

Kallie Swanepoel, voorsitter van die SAAPPT sê hy glo daar is werk en ’n toekoms vir opgeleide klavierstemmers. Die digitale era en elektroniese metodes van klavierstem kan hierdie vaardigheid vervang nie. ’n Elektroniese instrument kan nie die snaar se botone hoor of interpreteer nie omdat dit nie akoesties is nie, maar kunsmatig.

“Ek dink gekwalifiseerde, afgetrede stemmers wat nog kans sien, moet na vore kom en jong stemmers begin oplei. Dit moet indiensopleiding wees. As bestuur van die SAAPPT sal ons daaraan werk om ’n handleiding te skryf om aan SAQA voor te hou. Dit is nodig dat nuwe generasies in die vaardigheid opgelei word – blindes, swaksiendes, sowel as mense met normale sig. Daar is nog genoeg klaviere oor om musiekonderrig te laat voortleef in privaat skole en deur individue.

“Namens die SAAPPT nooi ek alle gekwalifiseerde stemmers in Suid-Afrika wat nog nie lid is van die vereniging nie, hartlik uit om aan te sluit en só die groter saak te help dien.”

  • Belangstellendes kan die webwerf sapianotuners.co.za besoek vir meer inligting of Kallie by 084 024 1081 bel vir navrae.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.