Huisgenoot-Liedjieskryfkompetisie – stem nou vir die finaliste!

Karlien van Jaarsveld

Dis amper tyd vir Huisgenoot se jaarlikse Tempo-toekennings, ’n aand waar nie net die uitskieters in Afrikaanse musiek vereer word nie, maar die wenners van die Huisgenoot-Liedjieskryfkompetisie aangekondig word.

Die beoordelaars  – ’n paneel kenners van platemaatskappye, musiekskrywers  en die liedjieskrywer en sanger Lize Beekman, het die top-10 aangewys en reeds die wenners gekies, maar lesers kan nou vir hul gunsteling-liedjie stem en daarmee lekker pryse losslaan.’n Renault Clio en ’n vakansie vir twee op Mauritius van Island Light Holidays is onder meer op die spel.

Vanjaar se liedjies word weer deur van ons gewildste kunstenaars gesing en kan nou op Huisgenoot se webblad of ons Facebook-blad geluister word. Die musiekvideo’s word op Sondag 17 Junie eksklusief op Jukebox bekend gestel.

Hier is vanjaar se top-tien:

Lied 1: Bakbeen Anties deur Pietman Geldenhuys, gesing deur Bok van Blerk en Valiant Swart
Lied 2: Gevaarlik deur Chazelle von Lind, gesing deur Monique.
Lied 3: Is Dit Goed Genoeg deur Julian Malan, gesing deur Moses Metro Man.
Lied 4: Maybe Baby Vanaand deur Vicky-Anne Serfontein, gesing deur Karlien van Jaarsveld.
Lied 5: Moederhart deur Shurene Jordaan en Anique Jordaan, gesing deur Chereé.
Lied 6: Murphy’s Law deur Magda van der Merwe, gesing deur Adam Tas.
Lied 7: My Vryheid deur Christiaan Kritzinger, gesing deur NRG.
Lied 8: Namibbekoring deur Magda van der Merwe en Babette Viljoen, gesing deur Coenie de Villiers en Corlea.
Lied 9: Nie Te Laat Nie deur Barney Lategan, gesing deur Gerhard Steyn en Helenè Bester.
Lied 10: Sy Liefde deur Gert Smit, gesing deur Retief Burger.

Die algehele wenner van die Liedjieskryfkompetisie kry R30 000 kontant. Die naaswenner kry R15 000, en die skrywer in die derde plek R10 000. Die wenlirieke word bekroon met ’n kontantprys van R10 000, en die lesers se gunsteling uit die top-10 kry R5 000.

As jy wil stem, SMS die woord LIED plus die nommer (geen spasie) langs die inskrywing waarvoor jy stem, jou naam en van na 32113. Elke SMS kos R1. Die kompetisie sluit op 9 Julie en slegs 20 stemme per selfoonnommer word getel. As jy op Facebook wil stem, gaan na www.facebook.com/huisgenoot en volg die aanwysings.

Alle stemme word in ag geneem vir die pryspoel, en benewens die Renault Clio en die vakansie op Mauritius, is daar ook juwele van American Swiss, Carducci-sonbrille, True Religion-jeans, iPod Nano’s, Jekyll & Hyde-leersakke, ’n PS3-konsole en ’n Gomoto Yesterday-bromfiets op die spel.

Die Tempo-toekennings, waar die wenner bekroon word, is op 17 Julie by Emperors Palace in Kempton Park. ’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R120 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.