Hulde aan Fredi Nest

Fredi-Nest

Fredi Nest. Foto: Facebook.

Die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Fredi Nest is in die ouderdom van 56 jaar oorlede nadat hy sy stryd met kanker verloor het.

Fredi se eerste album as sanger, Memory train, het in 1995 die lig gesien nadat hy eers in sy dertigerjare besluit het om tot die musiekbedryf toe te tree. Sy deurbraak in die Afrikaanse musiekbedryf het gekom met sy album Wie is jy wat in 1999 bekend gestel is.  In daardie stadium het hy homself reeds as liedjieskrywer gevestig met treffers soos “Meer en meer” en “Hou my vas”, wat onderskeidelik deur Anneli van Rooyen en Anrika gewild gemaak is. Sy komposisie “Listen to me” was  die groot treffer op hierdie album en is gereeld oor die radio gehoor.

Fredi se gewildheid het nog verder toegeneem met die uitreiking van sy album Sê my in 2005. Benewens die titelsnit was daar ook ander treffers, veral “Getoor” en “Runaway train”, wat hom as sanger gevestig het. Met sy volgende album, Hey DJ, het hy op hierdie sukses voortgebou en die titelsnit was uiters gewild by konsertoptredes.

Onder die ander treffers op hierdie album was “Hou my vas”, “Bly net naby my” en “Soekie soek ‘n man”. Die volgende jaar het hy een van sy grootste treffers as liedjieskrywer gehad toe Sarah Theron sy komposisie “My ouma Sêra” opgeneem het.

Op sy volgende album, Kom kry vir jou het hy ook een van sy eie komposisies wat vir ‘n ander kunstenaar ‘n treffer was, ingesluit, naamlik “Kom na my toe”, wat oorspronklik deur Freda Francis gewild gemaak is. Hy het ook groot sukses behaal met “Kyk wat maak Afrikaners nou”, “Net in Afrikaans” en die uitstekende Engelse komposisie “Brother come home”.

Een van Fredi se heel grootste treffers as sanger was “Ogies vir my”, wat uitstekend op verskeie radiostasies se treffersparades gevaar het.  Dit was een van die enkelsnitte van die album Vrystaat limousine, wat in 2008 uitgereik is. Met “Vuur hier binne my”, waarin hy van sy geloof in God gesing het,  het hy gewys dat hy nie net vrolike liedjies kan skryf nie, maar ook liedjies met lirieke wat iets om die lyf het. Hierdie snit het heelwat radiolugtyd gekry.

Fredi het “Laat ons die liefde laat lewe saam” met Anneli van Rooyen opgeneem vir die album Wie is jy, maar hy het dit ook op sy album Dronkverliefverslaafaanjou ingesluit. Benewens die titelsnit was “Hou vas klou vas” die groot treffer op die album.

In 2011 het Fredi sy Grootste Treffers-album bekend gestel. Hierdie versameling het uit twee CD’s bestaan, een met sy Afrikaanse treffers en een met ‘n paar van sy Engelse komposisies en bekende treffers. Die Afrikaanse CD het ook drie nuwe snitte bevat, naamlik “Prinses Delila”, “Krummelpap” en “Hey jy ek soek jou”. Onder sy Engelse komposisies wat hier voorkom, is “Like a satellite”, “Runaway train” en “Another night a lonely”.

Die volgende jaar het hy sy laaste album by sy jarelange platemaatskappy uitgereik. Begin by my het die treffers “Ek sal jou nie laat gaan” en “Bangbroekie” opgelewer. Die laaste album wat in Fredi se leeftyd gemaak is, was The desperado. Dit was hoofsaaklik ‘n country-album, maar het die Afrikaanse treffer “Vat nou hierdie mens” bevat. Ten tyde van sy afsterwe het Fredi pas die huldeblykalbum Fredi Nest sing John Denver voltooi, maar dit is nog nie seker wanneer dit uitgereik sal word nie.

Fredi was nie net ’n goeie liedjieskrywer nie; hy het ook gereeld bekende snitte op sy albums ingesluit en byna sonder uitsondering het sy opnames baie goed met die oorspronklikes vergelyk. Daar is ’n aantal op sy Grootste Treffers-versameling ingeluit, onder meer “Annie’s song” van John Denver, “Words” en “First of May” van The Bee Gees en “Right here waiting” van Richard Marx.

Fredi was sonder twyfel een van ons land se voorste kunstenaars en sy afsterwe is ’n enorme verlies vir die plaaslike musiekbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Wilma Visser ·

BAie sterkte aan die familie… Was groot skok, hy was nog so positief in sy vroeere insetsel in een van die koerante..

Issabelle ·

Aaaai , hoe hartseer is die heengaan van Fredi ! Sal hom altyd onthou vir die lekker & mooi musiek !
Emosie loop hoog & hart is seer , jammer om so ‘n goeie mens & sanger te groet ! Baie sterkte aan sy vrou , kinders & familie wat agter bly ! Mooi loop Fredi & dankie dat jy ons luisteraars altyd vermaak het met jou musiek !

Dee ·

Groot verlies vir afrikaanse musiek…baie sterkte aan sy vrou, naasbestaandes en almal wat hom geken het en lief was vir hom…die is groot hartseer en ‘n groot verlies…mag God julle dra deur hierdie moeilike tye wat voor le.

Grotman ·

Rus in vrede troebadoer! Jy was en sal altyd onthou word vir jou puik musiek en talent. Jy was nog jonk en kon nog n ver pad stap maar God het grooter plan vir jou in gedagte. Freddie Nest, daars net een van jou en daai gaaping is nou vir altyd daar. Nou sing jy in die Hemel…….

Cirnelia Grobler ·

Ek was bevooreg om nou saam Fredi te werk voor 1999. Hy was ‘n uitstekende kabinet maker in sy jonger dae. Hy het heelwat hout kabinette vir Italtile en CTM ontwerp. Hy was baie lief vir motorwerktuigkunde en van daar sy groot liefde vir ou motors. Hy was lank voor 1999 alreeds baie bedrywig met sy musiek. Sy motorhuis het hy ingerig as sy alteljee, waar hy heerlik eksperimenteer het. By die werk het hy gereeld gesing, dat die fabriek eggo. Ons het dit geniet om saam met hom te werk, al het hy my altyd geklop met veërpyltjies. Een kenmerk van Fredi sal ek nooit vergeet. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy dit geniet as dames hulle naeltjies en lippies verf en hulle heupies swaai. Net soos in een van sy liedjies. Daardie woorde mense, kom uit sy hart. Sy liedjies wat hy geskryf het sal nog jare bly voortleef. Ek stuur my innige simpatie aan sy lewensmaat, geliefdes en vriende. Van Nelie, my by naam soos hy my geken het. Rus in vrede Fredi.

Marchetta ·

Gaan in vrede liefde en weet jou pleki is leeg maar die jou herring bly by ons.

Juanita ·

Ek het nie woorde nie my hart is seer. Rus sag in Jesus se arms.

Melinda Coetzee ·

My hart is in n Miljoen stukke. Was, is en sal altyd jou musiek na aan my hart dra jy was n ster Fredi. Rus sag in God se hande geen meer pyn ons gaan jou baie baie mis. Sterkte aan almal wat hom so baie lief gehad het.

almari ·

My hart sommer seer, eendag vra my seuntjies sal oom asb my hemp teken.
Fredi antwoord seker seun, hy teken toe.
Fredi vra toe vir my jou seuntjie is seker stout?
Ek lag toe en sê nee…
Jinne mamma jy jok mos nou lekker, antwoord hy my..
Ek sê toe Weereens nee met ñ lag.
Fredi sê toe vir my kom ek sê jou jy sal sê nee want jy is ñ mamma.
Laat ek jou sê my seuntjie het net sulke mooi sproete soos jou seuntjie gehad, en hy was stout so ek weet hoe stout is seuntjies met sproete …maar het my seuntjie lief met sproete en al….
Sal altyd Fredi sê shows mis….
R.i.P

Sandra Earle ·

Sag rus by Jesus Fredi in my huis sal jou musiek altyd voort leef aan sy familie ek het nie woorde behalwe om te se sterk wees mense dit is n groot verlies vir julle baie liefde vir julle

Trudie van Heerden ·

Ons harte is seer ons was lief vir jou en ons gaan jou mis. Rus in Vrede.

hetta basson ·

Rus sag Fredi, jou musiek sal nog lank leef in Harte, aan sy fam mag hulle die sagte Jesus liefde ervaar in die seer tyd van julle lewe. Onthou julle het Frede Nest met elke een van ons gedeel. En dankie daarvoor. Julle in my gebede Jesus liefde. Hetta basson van die FS

Dillon Lerm ·

Dis met groot skok, en ń swaar hart dat ek vandag gehoor het van Fredi se heengaan…..
Ek kan opreg sê, in die laaste 5 jaar van my “loopbaan” was HY een van die min mense in die bedryf wat so opreg en genuine was met my as persoon….. En ek kan ook getuig van n mense mens wat altyd beskikbaar was vir sy mense….

Ek is so jammer om te hoor, ek glo en vertrou dat die Liewe Vader julle sal vashou in die tyd van beproewing en dat julle vrede en vertroosting sal ervaar by HOM.

Jy sal baie gemis word Fredi, jy was ‘n persoon wat my baie geleer het van mense en jou vriendelikheid sal ek altyd koester.

Die fans gaan jou mis meneer, jou musiek het altyd almal op hul voete gehad

Al my liefde

Dilon Lerm

Corlie ·

Jy som Fredi goed op. Ek het dieselfde ervaring gehad jare gelede. Fredi het die vermoë gehad om mens baie gemaklik op die verhoog te laat voel. Dit was altyd n fees om n verhoog met hom te gedeel het.
Rus in vrede Ferdi! Jou stem sal nie stil word nie!

Lynette ·

Wat kan mens se??? Een van ons land se beste sangers het ons verloor. Maar ons berus ons dat hy nou nie meer ly nie, daar is nie meer pyn nie. Hy is in Jesus se arms en word vertroetel. Maar hier op aarde sal jy liedjies, sy gesig en mooiwees altyd bly lewe. My medelye gaan aan sy familie. Wees vertroos. God is met julle in hierdie tyd. Hy het hom kom verlos. Dit is vir ons swaar wat agter bly, maar met God se genade en vertroosting, gaan dit ook verby. Die hartseer raak minder, maar die herinneringe en verlange sal altyd bly by julle. Liefdegroete Lynette

Hendrien Hattingh ·

Mag ons Fredi net in ons harte koester groot sanger gewees nou gaan sy stem stil wees, maar dit wat hy opgeneem het sal altyd voort leef, God het hom verlos van sy pyn en daar waar hy nou is het hy geen pyn meer nie. Aan sy vrou en kinders wees serk in die tyd en langersaam sal dit verby gaan maar nooit die gemis van man, vader vir sy kinders nie, my en my man se innige mee gevoel aan die familie so na aan hom.
Hendrien en Robbie Hattingh.

Dalene Viviers ·

Fredi was nie net ‘n fantastiese sanger nie…hy was ‘n mense mens…Altyd ‘n glimlag vir mense gehad. Rus in Vrede. Ons sal jou altyd onthou en gedurig jou stem hoor deur jou musiek. +

Bluedog ·

Vanaand by ‘n optrede van Ray Dylan gewees. Sy tribute aan Fredi was ongelooflik. Die knop in die keel sit nou nog daar. Rus In vrede by ons Vader.

magda ·

Rus in vrede – ons land het een van sy beste sangers verloor, maar weet waar jy nou is het jy geen pyn nie en jou saak met God was reg. Jy was n fantastiese mens.

Elna Kotze ·

Jou tyd op aarde is nou verby, nou begin jou lewe eindelik in die Hemel. Dankie Here vir die kort tydjie wat ons jou kon geniet. Wat n voorreg. Ons gaan jou baie mis, die leemte is groot. Liefde Elna

Yolande Louw ·

Elke keer as so iemand doodgaan, word ek kwaad! Dan dink ek hoekom DIE MENS wat net goed was vir ons? Dit voel so asof daar n tipe hof moet wees waar mense kan gaan kla sodat sy afsterwe heroorweeg moet word. Yolande

cathy van der merwe ·

Enige begrafnis reëlings . Was my “””HERO.””””

Mike van Tonder ·

Vrydag 3 Julie 2015 was weer ‘n baie hartseer dag vir Suid Afrika. Ons het nog ‘n legende in die Afrikaanse musiek wereld verloor. RIV Fredi, jou stem sal nog baie jare voort leef. Jy sal baie gemis word deur jou familie, vriende en aanhangers. Innige simpatie aan Fredi se vrou, kinders, familie en vriende. Mag ons Hemelse Vader julle krag gee in hierdie moeilike tyd en mag Hy julle veilig bewaar in die palm van Sy hand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.