Huldeblyk aan ‘n musieklegende

Die legendariese trekklavierspeler, orkesleier en komponis Nico Carstens is op 1 November vanjaar in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Nico Carstens

Nico Carstens

Nicolaas Cornelius Carstens is op 10 Februarie 1926 in Bellville in die Wes-Kaap gebore, en het reeds op dertienjarige ouderdom begin om verskeie musiekinstrumente te bespeel en op veertienjarige ouderdom het hy reeds begin om aan skoolkonserte deel te neem. Soos baie van sy tydgenote het hy in die 1940’s  deur die leerskool van Hendrik Susan se orkes gegaan. Nico het vir ‘n proeftydperk van drie maande by Hendrik Susan se orkes aangesluit , maar Hendrik  was só beïndruk met Nico dat hy  voltyds lid van dié bekende orkes geword het en vyf jaar lank deel daarvan was. Onder die bekendes wat destyds ook deel van die orkes was, was die sanger Jurie Ferreira, die kitaarspeler Tienie Coetzer en die klavierspeler Taffie Kikilus. Hy het in 1948, met die vervaardiging van die eerste musiekrolprent in Suid-Afrika, Kom saam vanaand, begin komponeer. Hy het sy eerste twee treffers, “Warmpatat” en “Waterpan-drafstap” saam met Hendrik Susan se orkes opgeneem en dit is in 1949 op ‘n 78-spoed-plaat uitgereik.  Daarna het een komposisie nà die ander verskyn, onder meer “Blouwildebees”, “Jampot-polka”, “Die lieflike Bolandse wals” en “Skoppelmaai”, wat jare lank sy orkes se kenwysie was.

In 1951 het hy en nog ‘n komponis van Afrikaanse musiek, Anton de Waal, mekaar ontmoet en saam begin werk. De Waal het aanvanklik saam met nog ‘n legendariese liedjieskrywer, Danie Bosman, liedjies begin skryf maar nooit regtig sukses behaal nie. Toe hy en Nico Carstens egter begin saamwerk het, het dinge verander. Die eerste treffer wat hulle saam geskryf het, was “Hasie”, wat Al Debbo opgeneem het en dadelik gewild was. Daarna het hulle drie verskeie ander treffers saam as liriekskrywer, komponis en sanger onderskeidelik gehad, onder meer “Riksjabooi”, “Ek ry met die trein”, “Apie het sy stert verloor”, “Bloubergstrand”. “Daar’s ‘n wind wat waai”, “Dis lekker om te lewe” , “’n Vlooi is ‘n ding wat byt” en “Sousboontjies” gehad. Hy en Anton de Waal het nie minder nie as 600 liedjies saam geskryf en destyds die standaard vir Afrikaanse musiek gestel.

In 1953 het Nico sy grootste treffer opgeneem. “Zambezi” is in daardie jaar vir die eerste keer op plaat vasgelê, maar dit het internasionaal bekend geword nadat die Britse trompetspeler Eddie Calvert dit opgeneem het. Dit was lank op die Britse trefferslys, en is later ook deur The Shadows en die Duitse orkesleier Bert Kaempfert en sy orkes opgeneem. Die sukses van “Zambezi” het ook daartoe gelei dat Calvert van sy ander komposisies ook opgeneem het, onder meer “Malawi shuffle”, “Africa a go-go” en “South West Samba.” Nog ‘n groot treffer waarby hy betrokke was, was Danie Pretorius se komposisie “Die ou Kalahari”, wat Jurie Ferreira in 1952 saam met sy orkes opgeneem het. Nico en Jurie het in 1956 die album Lief en leed, in 1956 saam opgeneem. Dit was die eerste plaaslike sanger van wie ‘n viniel-langspeelplaat vrygestel is, en hierdie album het treffers soos “Tahiti”, “Die woudprinses” en “Erika” opgelewer.

Nico was die eerste Suid-Afrikaanse musikant van wie daar 100 000 langspeelplate verkoop is en in 1959 het die platemaatskappy EMI ‘n goueplaat-toekenning ter viering hiervan aan hom oorhandig. Die kunstenaars- en repertoire-bestuuder van EMI, Joe Nofal, wat ‘n groot rol in die bevordering van Afrikaanse musiek gespeel het, het dié toekenning oorhandig. Daarby het hy en sy orkes  tussen 1965 en 1970 elke jaar die Sarie-toekenning as die beste Boereorkes gewen, en hy self is in 1968 as beste instrumentalis gekies.  In die 1950’s en 1960’s het Nico in verskeie Afrikaanse rolprente opgetree, onder meer ‘n Plan is ‘n boerdery (1953), Dis lekker om te lewe (1957), Nooi van my hart (1959), Jy’s lieflik vanaand (1962) en Stadig oor die klippe (1969). In laasgenoemde rolprent het Al Debbo ook tot sy reg as sanger gekom. In 1970 het Nico die treffer “Die tantes van Nantes” saam met Al Debbo opgeneem vir die rolprent Die geheim van Nantes, en in Junie daardie jaar het hulle die elfde plek op Springbok Radio se Top 20 met dié treffersnit behaal.

Met die koms van televisie was Nico en sy orkes te sien in onder meer Spies en Plessié, waar hulle ses jaar lank die musiek verskaf het, en ook tydens die Boereorkes-kompetisie, waaraan hulle in 1992 deelgeneem het en tot die halfeindronde deurgedring het. Die orkes het ook bestaan uit Nico se seun Klem op baskitaar, Heinz Alexander op klavier, Basie Burger op kitaar, Johnny Morris op tromme en Pat Maloney op konsertina. Die Suid-Afrikaanse popgroep het Nico ook as gaskunstenaar gebruik op een van die snitte op hul gelyknamige debuutalbum, naamlik “Two hearts.”

Nico  het altesaam ongeveer 2000 liedjies gekomponeer en gedurende sy leeftyd het hy omtrent 90 albums vrygestel.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae