Huldeblyk: Irene van Wyk 1965-2009

irene-van-wyk

Irene van Wyk.

Die Afrikaanse sangeres Irene van Wyk is op 24 September 1965 gebore.

Nadat sy in 1983 matriek geskryf het, het musiekpromotor Louis van Wyk haar “ontdek”. Louis het die groep Chess, van wie Irene die hoofsangeres was, in 1986 gestig en hulle het ʼn treffer met “Down by the river” gehad. Die video van hierdie byna vergete Suid-Afrikaanse liedjie kan gesien word. Irene is in 1987 met Louis getroud.

Nadat haar seun, Vaughn, gebore is, het sy ʼn rukkie lank tuisteskepper en ma geword. Sy het egter in 1989 as agtergrondsangeres in Steve Hofmeyr se groep Dusk gesing, maar toe haar dogter, Irene-Louise, in 1991 gebore is, het sy haar sangloopbaan weer tydelik onderbreek.

Toe die internasionale groep Bad Boys Blue in 1993 in Suid-Afrika kom optree het, het Irene besluit om haar sangloopbaan te hervat. Sy en haar vriendin Lauren de Groen het as agtergrondsangeresse vir hulle opgetree tydens hul konserttoer.

In 1994 verskyn Irene se eerste solo-album, Die ander ek. Op hierdie tweetalige album neem sy uiteenlopende snitte op, onder meer “In ʼn ander wêreld”, “Wat wil jy hê?”, Bette Midler en Tina Turner se onderskeie treffers, “The rose” en “River deep mountain high” en twee komposisies van Steve Hofmeyr, naamlik “Wie is die vrou in jou arms vanaand?” (seker haar grootste treffer) en “Alles vir niks”, wat Steve oorspronklik op sy eerste album, Desertbound, ingesluit het.

In 1996 verskyn haar tweede album, Vrou, met snitte soos “Bly by my vanaand”, “Die kans wat nie bestaan nie”, “Tonight” en “Foolish hearts”. Op haar derde album, Evergreen, het sy weer eens ʼn verskeidenheid snitte opgeneem. Benewens internasionale treffers soos “Love hurts” van Nazareth, “It’s a heartache” van Bonnie Tyler, “Morning has broken” van Cat Stevens en “You needed me” van Anne Murray was daar ook Afrikaanse snitte soos “Wonderlike liefde van ʼn ma” en Mynie Grové se komposisie “In die middel”, wat ʼn groot treffer vir haar geword het.

Saam met Mirka en Freda Francis het Irene die groep Blond 3 gevorm, maar hulle het net een treffer gehad, naamlik “Sjoe”, nog ʼn Steve Hofmeyr-komposisie. Freda het haar later op Christelike musiek toegespits terwyl Mirka ná een solo-album van die toneel verdwyn het en eers later weer begin sing het.

In 2005 verskyn Irene se duet-album, Lyne van jou lyf, waarop sy saam met Pieter Koen, Steve Hofmeyr, Dozi, Kurt Darren en Laurika Rauch sing, om maar net ʼn paar te noem. Die album bevat ook solo-snitte soos “Oorbegin”, “A man like you” en “All around the world”. Twee jaar later verskyn die album Fantastic 4, waarop sy saam met Danie Niehaus, Michelle en Pieter Koen sing.

Irene besluit in daardie tyd om ʼn Christelike album, In U spore, vry te stel, met snitte soos “Waar pas ek in?”, “Gebreekte kruik”, “Doen U wil” en “Meer soos U”. Ongelukkig is dit die laaste album wat in haar leeftyd uitgereik word.

Op 12 Oktober 2009 sterf Irene in die ouderdom van 44 jaar in  ʼn motorongeluk op die R50 naby Delmas in Mpumalanga. Die album ʼn Handvol herinnering – the tribute tracks, word as huldeblyk uitgereik. Hierdie album bevat 16 snitte wat sy dwarsdeur haar loopbaan as solo-kunstenaar opgeneem het. Die laaste snit wat Irene sou opneem, was haar weergawe van Pat Benetar se treffer “Hit me with your best shot”, wat nooit op ʼn album vrygestel sou word nie.

Irene se dogter, Irene-Louise, het pas tot die musiektoneel toegetree, en ʼn kort album, Meer as woorde, vrygestel. Een van die snitte op hierdie album is ʼn nuwe opname van “Wie is die vrou in jou arms vanaand?”, asook “So unreal”, wat sy saam met Nianell sing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.