Huldeblyk: Jammies, vermaaklikheidskunstenaar soos min

jammies jamneck

Jammies Jamneck. Foto: Facebook.

Die bekende musikant, storieverteller en komediant Jammies Jamneck is Maandagoggend in die ouderdom van 66 jaar oorlede nadat hy ’n stryd teen kolonkanker gevoer het.

Jammies het in 1966 matriek aan die Hoërskool Piet Potgieter in Mokopane (destyds Potgietersrus) behaal waarna hy in die onderwys aan die destydse Normaalkollege Pretoria gestudeer het. Hy was egter nie lank in die onderwys nie, en het tot die vermaaklikheidsbedryf toegetree. Jammies het aanvanklik baskitaar vir Groep Twee gespeel en later in Sias Reinecke se orkes. Hy het ook baie nou saamgewerk met Touch of Class, asook legendes soos Anneli van Rooyen en Rina Hugo.

Jammies was ook ’n baie goeie klavierspeler, en het ’n album getiteld Jammies speel klavier op die Jammies-manier, vrygestel. Hierop  het hy bekende snitte soos “Never on a Sunday”,  “What a wonderful world”,  “Alley cat” en ’n “Sias Reinecke”-keurspel gespeel. Sy kennis van musiek is verstommend, en hy het ’n baie groot plateversameling gehad waarna hy baie goed omgesien het.

Dit was egter nie net in musiek wat hy uitgeblink het nie. Hy was ’n uiters gewilde seremoniemeester en het gereeld as ateljeegas in televisieprogramme soos Spies en Plessie opgetree. Nie minder nie as agt van sy stories het  tien jaar gelede op die album Lekkerlag stoepstories voorgekom.  Hy het die vermoë gehad om mense te laat lê van die lag met die geluide wat hy met sy mond kon maak. Hy kon feitlik enigiets namaak, van motors en treine tot telefone.  Sy eiesoortige humor en sêgoed het mense se lewe verryk, en sal nog lank onthou word.

Jammies se weduwee, Gerrie, is ’n musiekpromotor, en sy was in 1992 die wenner van die tweede reeks van Noot vir Noot. Hy word verder oorleef deur drie kinders, Conrad, Franco en Alouise. Laasgenoemde twee het hul pa se musiektalent geërf en die country-groep Hoot’n Anny gestig. Jammies was ’n vermaaklikheidskunstenaar soos min, en sal gemis word deur almal wat hom geken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heilie Wessels ·

Ek is groot aanhanger van Anneli v Rooyen! Ek is baie dankbaar dit gaan nou beter met haar! Ek bid baie vir haar en sien uit om weer haar stem te hoor! Sy is n wonderlike mens en kan sing met passie soos min sangers vandag kan sing! Viva Anneli!! Hier uit Namibie uit!

De Wet Momberg ·

My innige meegevoel aan tannie Gerrie , Conrad , Franco en Alouise . Ons sal altyd Oom Jammies onthou wat ons vreeslik vermaak het as kinders . Ons dae in Silverton was die beste van tye . Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.