Huldeblyke stroom in vir Yoti, die Griekse Boertjie   

Yoti (Panayoti) Loizos of te wel Yoti, die Griekse Boertjie is Donderdagaand aan Covid-19 dood. (Foto: Facebook)

“ʼn Dierbare mens en ʼn ware gentleman wat altyd net vriendelik was.” Dit is hoe bekendes vir Yoti Loizos, of te wel Yoti, die Griekse Boertjie onthou.

Yoti (Panayoti) is Donderdagaand aan Covid-19 dood. Manie Jackson, wat jare lank bevriend was met Yoti, het Vrydagmiddag die hartseer nuus op Facebook gedeel nadat Yoti se suster sy dood bevestig het.

“Dit was ʼn groot skok vir my. Ons het twee dae gelede nog gesels en Yoti was só positief. Hy het gesê hy ontvang goeie behandeling,” het Jackson aan Maroela Media gesê.

Yoti (71) is reeds op 21 Junie in die hospitaal met die virus opgeneem. Hy het egter ses uur in die ambulans gewag voor sy opname omdat hospitale in Alberton reeds vol was. Hy het skade aan sy longe opgedoen en moes in die hospitaal aanbly om aan te sterk.

Yoti het in die 80’s en 90’s diep in Suid-Afrikaanse gehore se harte gekruip met sy Afrikaanse musiek in ʼn Griekse styl. Hy het kleurvolle optredes gehad en graag ʼn nuwe uitrusting aangetrek vir elke liedjie.

“Die wit angelier”, ʼn liedjie wat hy self gekomponeer het, was drie weke lank bo-aan die destydse Afrikaanse treffersparade.

Lydia Winchester, wat dié sanger se skakelbeampte by die destydse Decibel-platemaatskappy was, het gesê Yoti was die dierbaarste mens wat sy geken het. Winchester, wat self onlangs in die hospitaal met Covid-19-infeksie opgeneem is, meen elke sanger of musieklegende se dood te midde van die pandemie maak dit al moeiliker vir mense in die bedryf om te verwerk.

“ʼn Mens onthou die klein goedjies van Yoti. Ek onthou hoe hy altyd vir my ʼn geskenkie saamgebring het as hy terug van een van sy oorsese reise gekom het. Hy was ook die persoon wat saam met my Cora-Marie se begrafnis bygewoon het.”

Winchester sê sy het net goeie herinneringe aan Yoti: “Ons het as ʼn groep kunstenaars selfs die soldate by Katima in die Caprivi, Namibië, tydens die Grensoorlog gaan vermaak het. Ek onthou nog hoe lekker dié soldate saam met Yoti gesing het.”

Jackson het ʼn spesiale band met Yoti gehad en beskryf hom op sy beurt as ʼn mentor, wat ook ʼn vriend geword het.

“Ek het nog as ʼn 18-jarige by hom vir raad gaan aanklop. Ek het by die Loizos-gebou opgedaag en nog op ʼn kasset vir Yoti gesing, vandaar het sy deur altyd net vir my oopgestaan.”

Jackson en Yoti het 22 jaar lank saam gewerk; eers het Jackson Yoti se klank by konserte behartig en voorafvertonings vir hom gedoen, en later toe Jackson self bekendheid verwerf het, het Yoti altyd kom groet en hom ondersteun as Jackson in Alberton se omgewing opgetree het.

“Hy was een van daardie ordentlike mense. Hy het net nie kwaad geword as iets verkeerd loop by ʼn vertoning nie, hy was altyd net vriendelik en dankbaar.”

“Rus sag Yoti die Boere-Griekie,” het Sunette Bridges het op Facebook geskryf. “Daar wag vir jou ʼn fees van ou vriende en musiek aan ons Vader se voete.”

Jackson hou op Sondag om 15:00 ’n aanlyn-konsert en sal spesiaal n huldeblyk doen aan hierdie geliefde vriend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Ai, dis baie hartseer. Wonder of hy toe regtig so ‘n foto het. Sterkte aan die familie.

Pieter

Hartseer. Rus in vrede Yoti. Medelye met sy familie.

Esme

Ons innige, opregte meegevoel aan ons Griekse Boertjie se geliefdes en naasbestaandes.

Paul

Het vir Yoti geken vanaf my geboorte. Hy was drie weke terug by my. Dis regtig ‘n skok gewees. My innige simpatie met Yoti se familie.