“I never thought Afrikaans could sound this good!”

Deur Suné van Heerden

Ek ry in Melville se nou strate rond, op soek na die gastehuis, kouend aan my pen. My hande is blou van my pen se ink, merk ek op net voor ek uitklim. En kyk gelukkig in die truspieëltjie: my gesig is ook blou. Ek maak gou skoon; moet darem respektabel lyk vir my onderhoud met ʼn man wat binnekort veertig jaar in die Afrikaanse musiekbedryf vier.

Met ons eerste handdruk bevestig Jannie du Toit alles wat almal vooraf van hom gesê het. Hy is gaaf en vreeslik vriendelik. Ons sit sommer om die kombuistafel in Jannie se gastehuis Die Agterplaas en gesels – hier duidelik ook die geselligste kuierplek in die huis. Lochner de Kock sluit by ons aan met sy koerant; sit rustig by ons en lees terwyl ons gesels.

“Dis sommer net ʼn informele gesprek,” sê ek vir Jannie. “Ja,” sê hy, “anders moes ek jou na my kantoor toe genooi en ʼn pak klere aangetrek het.” Ons lag.

Die eerste ding wat my opval en waarvan sy hele wese spreek, is sy liefde vir musiek en sy liefde vir Afrikaans.

“Ek het nooit as kind gedink ek wil eendag ʼn sanger word nie,” vertel Jannie. “Ek het regte by RAU gaan studeer en selfs met my leerklerkskap begin voor ek voltyds sanger geword het.” Badia bring vir ons koffie – heerlike sterk, wárm koffie.

Jannie vertel hoe hy selfs in die begin besef het hy moet Afrikaans sing om seker te maak die taal bly voortleef. Jare gelede, terwyl hy lid van die groep Trilogie was, het iemand tydens ʼn optrede in Johannesburg opgemerk: “I never thought Afrikaans could sound this good!” En dis asof Jannie dit as ʼn leuse reg deur sy loopbaan gebruik het: om seker te maak dat Afrikaans so goed as moontlik sal klink.

In Desember verlede jaar het hy begin om ʼn koffietafelboek saam te stel waarin hy sy storie vertel: die verhaal van ʼn outsider – Jannie het getrou gebly aan homself en sy eie musiekstyl, ten spyte daarvan dat dit nie hoofstroom was nie – op sy opwindende tog. En dis geen wonder dat Jannie sy musiekloopbaan van die afgelope 40 jaar as ʼn tog beskou nie: hy is ʼn kranige stapper wat al die grootste staproetes in Suider-Afrika voltooi het, sommiges selfs al ʼn hele paar keer: die Visrivierstaproete, die Otter en selfs die Wildekusstaproete in Transkei.

Ek vra hom uit oor sy musiekheld, die (blinde) Nederlandse sanger Jules de Corte. Hy skuif sommer regop om oor hom te praat. “Jules de Corte het al die elemente gehad wat van iemand ʼn ware kunstenaar maak. ʼn Ware kunstenaar moet eerstens ʼn digter wees; hy moet sy instrument baie goed kan bespeel; hy moet nootvas wees; hy moet ʼn filosoof wees.”

Tot my en Lochner se genot haal hy De Corte se lirieke aan, De duivel en Johan, en verduidelik die meesterlike rymskema van Jan, Piet en Klaas. Ek drink sy woorde in – wat ʼn voorreg. Jannie het die voorreg gehad – hy noem dit ʼn bestemming – om vir Jules de Corte presies ʼn maand voor sy afsterwe te kon ontmoet. Jules het in die opname-ateljee klavier gespeel en Jannie vertel hy het so paar note saamgesing, sommer so hande-in-die-sakke-informeel, en eers later uitgevind hulle was al die tyd besig om die sessie op te neem!

Voorzichtig aan met ieder hart dat klopt
Wees af en toe een beetje moed inspreker
Of laat eens drinken uit je eigen beker alsof je dokter was en apotheker
Besef het dat ook jouw hart eenmaal zeker stopt…

Is daar jong sangers in die Afrikaanse musiekbedryf wat die groot geeste van vroeër jare se skoene kan volstaan? wil ek weet. Daar is ʼn paar, meen Jannie, wat potensiaal toon. “Maar as ek een moet uitsonder, is dit Chris Chameleon.”

Ons praat oor kunstenaars wat nie in hul eie tyd erken word nie, en Lochner verwys na ʼn artikel wat in Beeld se By-bylaag op Saterdag, 10 September 2011 gepubliseer is. Hannes van Zyl en Danie van Niekerk verwys na die vier soorte boeke wat mens kan uitgee: “Eerstens is die goeie boeke wat goed verkoop – oor hulle juig jy saam met die engele… Dan is daar die goeie boeke wat swak verkoop – waaroor jy treur, maar jou gewete is rein… Die derde soort – swak boeke wat dawerend goed verkoop maar jy salf jou gewete op pad bank toe… En dan die boeke in klas vier – goor boeke wat sleg verkoop…”

Musiek werk ook só, sê Lochner. “Daar is kunstenaars wat musiek verkoop en byna hul siel daarmee saam verkoop om seker te maak die publiek sal aanhou luister.”

Hiervan kan mens seker wees: Jannie was gedurende sy loopbaan van 40 jaar nog nooit bereid om gehalte ter wille van gewildheid prys te gee nie. My hoop is dat hy nie as kunstenaar wat so hard gewerk het om tot hier te kom, misken sal word nie; dat die Afrikaanse gehoor hom die erkenning sal gee wat hom toekom; dat Afrikaanssprekendes wat smag na kwaliteit-Afrikaans en kwaliteit-musiek na Jannie sal luister.

Badia bedien vir ons ʼn heerlike ontbyt, en ek kuier so lekker, ek is seker ek sou met my ink-gesig ook tuis gevoel het.

Jannie du Toit begin eersdaags met ʼn landswye konserttoer, Onderweg, ʼn viering van sy 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. Dit is ʼn unieke multimedia-aanbieding. Die verhoogteks is deur PG du Plessis geskryf en Christa Steyn is soos altyd verantwoordelik vir die musiekverwerkings. Jannie word begelei deur Christa Steyn/Clinton Zerf (klavier) en Susan Mouton/Arend Brink (tjello). Vir verdere inligting, besoek www.facebook.com/onderweg40

Maroela gee twee kaartjies weg vir elk van die onderstaande vertonings. As jy die kaartjies wil wen stuur ‘n e-pos na [email protected]. Sit “Jannie en die naam van die vertoning” wat jy wil sien in die onderwerpveld van jou e-pos, bv “Jannie Polokwane”. Beantwoord ook die volgende vraag in die e-pos: “Hoeveel jaar is Jannie du Toit al in die musiekbedryf?”

27 September    UJ Kunstesentrum première (ten bate van MES) Johannesburg
28 September    Hoërskool Pietersburg, Polokwane
30 September    NTN Windhoek
1 Oktober             Kunstekaap Kaapstad
7 Oktober            Musaion, UP Pretoria
25 November    PE Operahuis Port Elizabeth
26 November    Hoërskool Port Natal Durban
2 Desember        Wynand Moutonteater Bloemfontein
3 Desember        Stadsteater Nelspruit
13 Desember     ATKV-saal Hartenbos
14 Desember     Oude Libertas Amfiteater Stellenbosch

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Ek sien hy noem vir Chris Chameleon as “onder andere”. By daardie “onder-andere”, ietwat in Jannie se styl, sal ek ook vir Herman van den Berg inlsuit.
Dis nou behalwe vir ‘n magdom ouens en vrouens wat meesterlike musiek in Afrikaans maak wat bietjie “harder” is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.