In Afrikaans is terug vir nóg

Jo Black en Karen Zoid by In Afrikaans (Foto: Verskaf)

Nadat die musiekkonsert In Afrikaans in Hartenbos verlede jaar uitverkoop het, maak die kunstenaars weer gereed vir vanjaar se konsert.

Vakansiegangers wat ’n Kersvakansie aan die Tuinroete beplan, kan vir die derde agtereenvolgende jaar uitsien na van die beste musiek en vermaak op een verhoog, en kan nou reeds plekke bespreek.

“Die doel van die fees is om gesinne bymekaar te bring deur middel van musiek. Om mense se harte aan te raak en om hulle hoop te gee vir die nuwe jaar wat voorlê,” verduidelik Jacomien de Villiers, besturende direkteur van In Afrikaans.

“Omdat die eerste jaar se hoofkonsertaand baie gou uitverkoop het, het ons besluit om in 2018 twee konserte te hou. Vanjaar gaan ons dit weer doen. Ons kyk ook daarna om nog datums voor Kersfees by te voeg.”

Vanjaar se konsertreeks volg in die voetspore van twee suksesvolle voorgangers, wat albei deur meer as 30 000 feesgangers bygewoon is. Volgens De Villiers beloof dit weer eens om iets te bied vir elke musieksmaak en -voorkeur, van langarm-dansmusiek tot meer ernstige akoestiese verwerkings.

Kunstenaars soos Jo Black, Robbie Wessels, Spoegwolf, Karen Zoid, Early B, Refentse, Appel, Leah, Kurt Darren, Elandré, Francois van Coke, Jan Bloukaas en Danny Smoke sal op die verhoog te sien wees en begelei word deur ’n orkes op die verhoog.

“Al die kunstenaars wat gaan optree is uitstekend in hulle eie reg en daar gaan ’n paar ongelooflike saamwerkpogings ook wees tussen die kunstenaars. Daar sal iets wees vir almal se smaak, van jonk tot oud,” het De Villiers gesê.

Benewens die musiek sal daar ook verskeie kosstalletjies en ander uitstallers, ’n biertuin en vermaak vir die kinders wees.

“Hierdie konsert is uniek. Dit is nie ’n musiek-ekstravaganza nie en hoewel daar ’n visuele komponent is, gaan dit oor die treffers wat die publiek wil hoor. Mense kom van reg oor die land in Hartenbos bymekaar en geniet die verrigtinge in ’n vrolike vakansieluim. Dit is toeskouers wat nie altyd die groot konserte in die stede kan bywoon nie en daarom is dit ’n groot geleentheid en het dit ’n baie spesiale atmosfeer,” het De Villiers gesê.

Kaartjies vir dié konserte op 27 en 28 Desember 2019 in die ATKV Amfiteater Hartenbos is nou beskikbaar by www.itickets.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Afrikaans is Groot ·

Steve is by Afrikaans is Groot. Hulle is hoeka hierdie jaar Desember ook in Mosselbaai… ongelukkig dieselfde datum (28 Desember) wat sleg is vir die In Afrikaans konsert, want altwee konserte trek dieselfde mense. Gaan interessant wees.

ALTA ·

Hi Alida, tong in die kies, vind eers uit wie is die borge voor jy vra waar is Steve!! Ha haaa….

Jo ·

Was altyd n Joe Black aanhanger, tot al sy liedjies dieselfde begin klink het, en dis 96% van dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.