In ‘n oogwink

Ami

Drie letters, maar dubbel die talent… Dit is Ami, sangeres en liedjieskrywer van Johannesburg. Saam met multi-instrumentalis en produksieleier Etienne Ghyoot het hul sopas met die album In ‘n oogwink gedebuteer. Debuteer is dalk nie 100% korrek nie, want dié dinamiese groep het reeds drie Engelse albums as Margaret’s Daughter die lig laat sien en by verskeie feeste – plaaslik én internasionaal – opgetree.

Met In ‘n oogwink deel hierdie kragtige kitaarduo vir die heel eerste keer hul gespierde poprock-ballades met ‘n Afrikaanse gehoor. Liedjies soos Stille Oseaan, Sien my raak, So hoog en Jy is die soetste ding is akoesties-melodiese treffers wat in ‘n kits onder die luisteraar se vel inkruip. Kombineer dit met Ami se warm stem en Etienne se flinke kitaarvingers en ‘n mens ontdek ‘n tydlose album wat die Afrikaanse musiektoneel soos ‘n warrelwind gaan tref.

Ami en Etienne, wat mekaar destyds as studente op RAU (deesdae die Universiteit van Johannesburg) ontmoet het, het al vele avonture beleef in die ses jaar wat hulle saam musiek maak. As Margaret’s Daughter het hulle al gehore in Brittanje, Mexiko, Spanje en selfs Mosambiek vermaak. Die gekoördineerde kitaarspel en indrukwekende harmonieë wat oor die jare sinoniem geword het met Margaret’s Daughter, is duidelik herkenbaar in hul Afrikaanse optredes. Aanhangers van Margaret’s Daughter is dus ook mal oor hul Afrikaanse klank.

In ‘n oogwink sou aanvanklik net ‘n mini-album (EP) met sowat ses snitte wees. Maar die duo, wat ook al met die buitelandse groep K’s Choice vergelyk is, het soveel positiewe terugvoer uit alle oorde ontvang, dat hulle bepaald op ‘n vollengte-album besluit het.

Die elf liedjies op die album het naas poprock en folk ook ‘n volwasse kontemporêre gevoel. Ami en Etienne is die twee snaar-sterre, maar het ook al die ander instrumente vir die album-opname gespeel. Net vir die tromme het hulle vir Andy Maritz, wat gereeld saam met Margaret’s Daughter optree, ingeroep. “Ek is vreeslik trots op die album en voel dat dit definitief ons beste album is in terme van opname-kwaliteit en afronding.”

Daar was lanklaas so ‘n sterk debuut-album in Afrikaans met soveel skryfvernuf, passievolle sang én ‘n internasionale klank. In ‘n oogwink is dus ‘n profetiese titel wat verwys na hoe vinnig hierdie dapper duo in musiekliefhebbers se harte gaan kruip. (Margaret’s Daughter)

Speellys

  1. Sien my raak
  2. Waar drome nog bestaan
  3. Stille oseaan
  4. So hoog
  5. Ek mis jou
  6. Staan stil
  7. Jy is die soeste ding
  8. By my
  9. So long tosiens goodbye
  10. Angelica
  11. Weer en weer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.