Innibos 2017 groter as voorheen

Beurtkrag is by Innibos te sien op 5 Julie om 18:00, 6 Julie om 10:00, 7 Julie om 14:00, 8 Julie om 16:00. Kaartjies kos R127.00 by Computicket (Foto: Facebook)

Meer as 300 kunstenaars op die feesterrein, vyf kuierverhoë buiten die Standard Bank-hoofverhoog, verskeie debuuttoneelproduksies en ’n uitgebreide crawl-program – dís maar net ʼn paar van die hoogtepunte waarna Innibos-feesgangers vanjaar kan uitsien.

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit, wat onlangs vir die derde agtereenvolgende jaar die kykNET Fiësta-toekenning vir die gewildste kunstefees in die land gekry het, word vanjaar van 5 tot 8 Julie gehou en is selfs groter as voorheen.

Ander vermaak op die feesterrein sluit in die Boma Kuierteater, die Bosmôl, kosstalletjies, die kunspark, die Bosbioskoop en die kinderoppasdiens Apies in die Bos.

Die fees word vanjaar weer op die laaste aand afgesluit met die gratis Loof Hom Innibos-konsert op die Standard Bank-hoofverhoog.

Moedertaal sal op 5 Julie om 18:00 pm, 6 Julie om 10:00 am en 7 Julie om 13:00 pm te sien wees by die Innibos fees (Foto: Facebook)

Toegangskaartjies
Toegang tot die feesterrein vir voorskoolse en laerskoolkinders is gratis. ’n Weekkaartjie kos R500 en pensionarisse betaal Woensdag 5 Julie slegs R50.

Ander kaartjiepryse vir Woensdag 5 Julie is R110 (goue sirkel is R80 bykomend); op Donderdag 6 Julie is dit ook R110 (geen goue sirkel nie); Vrydag 7 Julie kos ’n kaartjie R165 (R110 vir die goue sirkel) en op Saterdag 8 Julie is dit R195 (R240 ekstra vir ’n sitplek in die goue sirkel).

Toegang tot die ATKV-Boeke-oase in die Nelspruit Hoërskool se Kultuursentrum is gratis. RSG sal ook elke feesdag ’n gedeelte van die nuusprogramme Monitor en Spektrum van daar uitsaai, sowel as RSG-kuns en Skrywers en boeke.

Die volledige feesprogram is beskikbaar op die Innibos-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae